Die naatbouler Nomvelo Sibanda is as Speler van die Westryd aangewys. Skermskoot
Die naatbouler Nomvelo Sibanda is as Speler van die Westryd aangewys. Skermskoot

Driekuns pluk mat onder Eagles se voete uit

Krieket
Die Eagles lek hul wonde ná die teleurstelling in gister se finaal, maar is vasberade om op die positiewe aspekte voort te bou.
Tielman van Lill
Nadat Namibië hulle vroeër in die toernooi die eerste keer in die geskiedenis ’n bloedneus gegee het, was Zimbabwe se nasionale vrouekrieketspan gister verwoestend in die finaal van die Capricorn driehoekige T20-reeks toe hulle binne 9.1 boulbeurte die wenlopies afgeblits het.

Namibië se Capricorn Vroue-Eagles (70 almal uit in 13.3 boulbeurte) moes ongelukkig gister teen Zimbabwe (76/3, teen 8.29 per boulbeurt) in die eindstryd by die CCD Tigers-ovaal in Windhoek die knie met sewe paaltjies buig.

Die gasheerspan was in die tweede boulbeurt kniediep in die pekel ná die speler van die wedstryd, naatbouler Nomvelo Sibanda, se driekuns om met opeenvolgende aflewerings van die gevaarlike Arrasta Diergaardt (geboul), Kayleen Green (geboul) en Suné Wittmann (agter die paaltjies gevang) ontslae te raak.

Sibanda het later ook nommer vyf Yasmeen Khanop (4 van 5 b, 1x4) laat uitvang en vir oulaas die nommer tien Sylvia Shihepo (3, 8 b) agter die paaltjies laat vang om met ’n uitstekende 5/14 in 3.3 boulbeurte te eindig.

Vanuit Namibië se benarde posisie van 10/4 ná 3.3 boulbeurte, en 31/5, het die aanvangskolwer Edelle van Zyl (24 van 20 b, 2x4, 2x6) en nommer sewe Adri van der Merwe (13 van 17, b, 2x4) mekaar kortstondig gevind.

Didi Foerster (6 van 7 b, 1x6) en kaptein Irené van Zyl (5 van 10 b) kon ook nie die gety stuit nie en Namibië moes vrede maak met sy skamele totaal van 70 almal uit.

Afgesien van Sibanda se vyf paaltjies het Precious Marange (2/16 in 3), Anesu Mushangwe (2/8 in 2) en Michelle Mavunga (1/13 in 2) die res van die paaltjies geoes.

Zimbabwe se telkaart:

1 Sharne Mayers (1 van 3 b, gevang Hamunyela, geboul Mwatile)

2 Chipo Mugeri-Tiripano (13 van 21 b, 1x4, gevang Van Zyl, geboul Shihepo)

3 Kelis Ndlovu (33 van 21 b, 4x4, 1x6, gevang Khan, geboul Shihepo)

4 Mary-Anne Musonda (21* van 10 b, 1x4, 2x6)

5 Modester Mupachikwa (0*, 0 b).

Val van paaltjies: 1/3 (Mayers, 0.4), 2/50 (Ndlovu, 6.4), 3/70 (Mugeri-Tiripano, 8.6).

Sylvia Shihepo (2/18 in 2) en Wilka Mwatile (1/18 in 2) het die Eagles se paaltjies geneem.

VENNOOTSKAPPE FAAL

Irené van Zyl, kaptein van Namibië, het agterna gesê ondanks die vroeë verwoesting kon die tuisspan dalk steeds ’n totaal van 120 gehaal het as hulle net een behoorlike vennootskap aan die gang kon kry.

“Maar Zimbabwe het baie goed geboul. Die toernooi was definitief ’n ondervinding waaruit ons baie kon leer en ons het waardering vir elkeen wat agter die skerms gewerk het om dit te laat gebeur.”

Van Zyl het gesê die neerlaag in die finaal maak seer, maar daar is positiewe aspekte waarop voortgebou kan word.

“Arrasta Diergaardt was puik met die kolf in die eerste wedstryde en Edelle van Zyl het sterk deurgekom in haar laaste twee kolfbeurte. Edelle was vreesloos, soos ’n missiel. Ons almal kan streef om so sonder vrees soos sy te kolf.”

TOER NA NEDERLAND

Irené van Zyl sê die vrouespan se volgende uitdaging is dat hulle aan die einde van Junie na Nederland gaan toer, vir ’n driehoekige toernooi waarvan Duitsland ook deel sal wees. “Dit sal opnuut ons uitdaging wees om ons plek op die wêreldranglys te probeer verbeter.”

Afrigter Francois van der Merwe het gesê Zimbabwe is ’n afgeronde span wat hul beter vaardighede uitgestal het, maar Namibië beweeg ook in die regte rigting.

“Ons het al drie wedstryde teen Uganda gewen, maar ons sal ons wonde lek en aanhou vorentoe beweeg. Ons sal die span drie weke af gee en daarna vir die toer na Nederland begin voorberei.

“Die o.19-meisies speel ook in September kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker, so ons werk ook hard om hulle hiervoor gereed te kry.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!