Drikus Coetzee saam met Herman Davin van die Davin Sporttrust, kort nadat hy die 2022 Nedbank Desert Dash solo-titel gewen het. Foto Erongo
Drikus Coetzee saam met Herman Davin van die Davin Sporttrust, kort nadat hy die 2022 Nedbank Desert Dash solo-titel gewen het. Foto Erongo

Drikus voor bomenslike Atlas-hoogtes

Fietsry
Nadat die Munga volgens hom nie sy fisieke grense ontbloot het nie, is dié sy komende toets.
Tielman Van Lill
Drikus Coetzee, “Die Masjien”, vertrek Sondag op sy nuutste avontuur vanaf Windhoek na Internasionale Lughawe Marrakesh Menara in Marokko.

Die rede vir Coetzee se uitstappie is die Atlas-ultrabergfietsresies oor 1 334 kilometer en ’n ondenkbare 21.14 kilometer se vertikale klimwerk.

Die waansinnige wedren, in minimum temperature onder vriespunt, met bykans geen teerpad nie, deur sneeubedekte gebergtes en riviere, begin om 18:00 op Vrydag 9 Februarie in Marrakesh en eindig by Essaouira teen die Mediterreense See.

Sowat 250 van die wêreld se beste ultra-atlete word agt dae gegun om dié onmoontlike bergroete in Noord-Afrika te tem.

Die minimale kontrolepunte (drie) dwing ryers tot uitdagende vlakke van selfversorging. Die afwesigheid van prysgeld dra verder tot die uniekheid by.

Coetzee is ’n gesoute ultra-bergfietsryer met verskeie solo-rekords in Suid-Afrika agter sy naam.

Sy mees onlangse soortgelyke prestasie is die Munga oor 1 130 km vanaf Bloemfontein deur die Karoo na die Doolhof-wynplaas naby Wellington in die Wes-Kaap, vroeg in Desember.

In bykans die ekwivalent van drie opeenvolgende Nedbank Desert Dash-afstande het Coetzee skaars 16 minute geslaap in sy jaagtog na die rekord.

Die Masjien het die 1 130 km in 47 uur 37 minute in ’n nuwe rekordtyd afgelê. Hy was bykans drie ure vinniger as die vorige rekord van 50 ure 30 minute wat in 2018 deur Ramses Bekenk (Nederland) behaal is.

DIE ATLAS: BONDIGE GESKIEDENIS

Die eerste weergawe is in Februarie 2020 aangebied met 185 deelnemers, van wie 123 suksesvol die 1 167 km en 23 174 klimmeters baasgeraak het.

Sofiane Sehili van Brittanje was eerste in 93 uur 50 minute met James Hayden (Brittanje) tweede in 96:09. Jay Petervary (VSA) was derde in 100:21.

Jenny Tough (Kanada) het haar naam gestand gedoen en met 147:13 die eerste vrouerekord aangeteken. Andrea Seiermann (Duitsland) 148:37 was tweede en Jackie Baker (VSA) derde in 161:40.

• Nadat die 2021-kompetisie gekanselleer moes word, het Marin de Saint-Exupéry (Frankryk) in 2022 met die tweede weergawe Sehili se rekord tot 90:14 verbeter, terwyl Jochen Böhringer (Duitsland) en Rodney Soncco (Peru) onderskeidelik tweede (92:49) en derde (95:25) geëindig het.

Ashley Wedelich (VSA) was in 146:34 die eerste vrou met ’n rekordtyd, Katrien De Smet (België) tweede met 155:58 en Abbi Westphal (Duitsland) derde in 160:20.

• Vir Februarie 2023 is die roete met 167 km tot by die 18de-eeuse ommuurde hawestad Essaouira verleng.

Robin Gemperle (Switserland) het die eer gehad om die nuwe roeterekord met 92:15 op te stel, met Justinas Leveika (Litaue) tweede in 96:55 en Sabastian Breuer (Duitsland) derde in 103:20.

By die vroue het Luisa Werner (Duitsland) eerste oor die eindstreep in 139:09 gery. Allison Felley Jacquemont van Kanada het bykans ’n dag later met 162:14 tweede klaargemaak. Gail Brown (Brittanje) was derde in 165:19.

• Kyk: https://youtu.be/e5k5ayE9iqU

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!