Pieter Jan Strydom, flank en kaptein van Namibië se onder 16-span, is as speler van die wedstryd teen Zimbabwe aangewys. Foto verskaf
Pieter Jan Strydom, flank en kaptein van Namibië se onder 16-span, is as speler van die wedstryd teen Zimbabwe aangewys. Foto verskaf

Dubbele sukses by SA rugbyweke

Skolerugby
Moeiliker uitdagings lê dalk voor, maar die Namibiërs is oor die eerste hekkies.
Andrew Poolman
Die Onder 13 Cravenweek-rugbytoernooi het gisteroggend in Pietermaritzburg begin, met die kaalvoet Namibiese laerskoolseuns wat om 08:00 vir die openingswedstryd opgedraf het.

Hul teenstanders, Grens-platteland, is nie naastenby van die sterkste unies in Suid-Afrika nie en die Namibiërs het vroeg beheer met twee drieë om uiteindelik die wedstryd met 28-12 te wen.

Le-Roy Basson (St. Joseph’s Primêre Skool) het die eerste drie gedruk nadat sy sentermaat Janco Duvenhage (Walvisbaai Privaatskool) net kort van die doellyn platgetrek is.

’n Langafstanddrie deur die onderkaptein en linkervleuel Alessandro Kathindi van Laerskool Walvisbaai van binne sy eie helfte het daarna gevolg, voordat verdere drieë van die vleuel Keanan Abraham (Ruimte) en stut Julian van Wyk (Rehoboth Primêr) die punteverskil buite bereik van die Oos-Kaapse span gestoot het.

Losskakel Duan Kruger (Pionierspark) was met elk van sy vier doelskoppe in die kol.

Afrigter Brian Titus was tevrede met die eerste poging. “Dit was koud en natterig en ons het ’n paar moontlike drieë laat glip, maar voorlangs was ons stewig en die seuns het hulle goed van hul taak gekwyt.”

Die Namibiërs speel vandag hul tweede wedstryd, maar hul opponent was teen druktyd nog nie bepaal nie.

GRANT KHOMO-WEEK

Sowat twee ure later het Namibië ook met ’n oorwinning by die Grant Khomo onder 16-rugbyweek afgeskop, wat in Stellenbosch en Paarl gehou word.

Namibië was rustyd met 5-10 agter teen sy buurland Zimbabwe, maar een verdoelde drie in die tweede helfte was genoeg om hulle 'n skrale oorwinning van 12-10 te besorg.

Die buitesenter Hanré Cocklin (Windhoek Gimnasium) het eers in die regterhoek gaan druk, voordat linkervleuel Dirk Farmer (Windhoek Gimnasium) laat in die tweede helfte uitstekend afgerond het net voordat hy agter die hoekvlag uitgeboender is.

Die moeilike doelskop wat losskakel William Beukes (WHS) van die kantlyn af beland het, was die deurslaggewende punte.

Teen ’n sterk Kaapse wind het die Namibiërs vir ’n lang tyd in die tweede helfte gesukkel om uit hul eie helfte te ontsnap, met strafskoppe aan Zimbabwe wat hulle ook onder druk gehou en hul verdediging beproef het.

Die Namibiese skrumwerk was nietemin stewig en hul kort dryfspel van die grond af het in ’n stadium bykans 40 meter gevorder.

Flank Pieter Jan Strydom (WHS), die spankaptein wat met ’n gesigmasker gespeel het om ’n snywond te beskerm, is as speler van die wedstryd aangewys.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer