Eagles beplan nóg Wêreldbeker-sukses

Krieket
In die wedloop vir die tweede beskikbare WB-plek is Uganda in die binnebaan, maar Kenia en Zimbabwe het ook 'n wiskundige kans.
Tielman Van Lill
Die huidige goue era van Namibiese krieket onder afrigter Pierre de Bruyn en kaptein Gerhard Erasmus is nog lank nie uitgespeel nie en sportliefhebbers se monde behoort te water in afwagting na hoe die Richelieu Eagles gaan vaar nadat hulle vir volgende jaar se T20 Wêreldbeker gekwalifiseer het.

Die Namibiërs het gister by Wanderers teen Tanzanië met hul vyfde sege van die Afrika T20-uitduntoernooi verseker dat hulle in Juniemaand vir “die groot dans” in die VSA en Wes-Indië sal gaan aantree.

Dis die derde keer op ’n streep dat die Eagles in die wêreldtoernooi sal speel, ná die vorige onvergeetlike hoogtepunte toe hulle met oorwinnings (in 2021) teen Nederland, Skotland en Ierland asook (in 2022) teen Sri Lanka die wêreld laat kennis neem het.

Erasmus het gister ná die oorwinning gesê hy is uiteraard baie trots op die prestasie van die span asook van Krieket Namibië as ’n organisasie. Hy het gesê heelwat mense verdien krediet vir die dissipline en inkoop by die spankultuur wat bydra tot die verstommende sukses wat ondanks klein getalle spelers behaal word.

“’n Derde opeenvolgende Wêreldbeker gee uitstekende blootstelling aan die betrokke individuele spelers, asook aan Krieket Namibië en ons hele land. Ons het waardering vir die ondersteuners, rolspelers agter die skerms en die vriende en familie wat vir ons as motivering dien.”

Die oortuiging waarmee die Eagles die uitduntoernooi oorheers het, wys dat hulle die Wêreldbeker vreesloos en sonder enige beperking in hul denke van wat moontlik is, gaan takel. ’n Bewese aanvalswapen soos die linkerarm snelbouler Ruben Trumpelmann (tans uit met ’n hakskeenkwaal) kan moontlik ook in die komende maande terug in die prentjie kom.

Die gespook vir die tweede Afrika-land om te kwalifiseer, duur voort tussen Uganda (6 punte), Kenia (6) en Zimbabwe (4). Uganda het sy lot in sy eie hande en indien hy vandag teen sy buurland Kenia en môre teen Rwanda wen, sal die eens trotse Zimbabwe Chevrons hulle nie meer kan inhaal nie.

Môre se botsing by United tussen Zimbabwe en Kenia kan nietemin ’n kompeterende tweestryd – en dalk selfs bepalend – wees.

MIDDELORDE

Vir die Eagles (157 vir 6 in 20 boulbeurte) was dit nie alles maanskyn en rose in hul sege met 58 lopies teen Tanzanië nie.

Tanzanië het in die middelbeurte doeltreffend daarin geslaag om die Eagles se lopiekraan toe te draai. Namibië se vordering het van 76/1 (10.2 bb) tot 82/3 in die 13de boulbeurt teruggesak en nog twee paaltjies tot 113/5 in die 16de is verloor.

Niko Davin (25 van 17 balle) en Gerhard Erasmus (21 van 19 b) was die eerste twee ongevalle. Michael van Lingen (30 van 33 balle), Jan Frylinck (4) en David Wiese (1) het kort hierna gevolg.

Zane Green (18 van 12) en JJ Smit (40 nie uit nie van 25 balle) het daarin geslaag om die telbord weer aan die gang te kry. Ná Green se vertrek (op 134/6 in 18) het Nicol Loftie-Eaton (14*, 5 b) en Smit 23 broodnodige lopies in die laaste twee boulbeurte vir 157/6 vir ’n verdedigbare teiken geslaan.

’n Vangkans deur die briljante Smit is in die 17de laat val.

Tanzanië het onder aanvoering van Abhik Patwa slegs vier ekstras afgestaan, terwyl Namibië 16 grenshoue (9x4, 7x6) behaal het.

David Wiese het Namibië se boulaanval geopen en die paaltjie van Ivan Selemani (0) met sy sesde aflewering opgeraap. Patwa (14, 15 b) het in 3.4 gevolg toe hy deur Smit en Wiese uitgehardloop is (21/2). Teen die einde van die agste boulbeurt moes Tanzanië 10 lopies per boulbeurt aanteken en die koers het vinnig die hoogste ingeskiet.

Die draaibalbouler, Bernard Scholtz, se toetrede tot die boulaanval in die sesde het Tanzanië se lopievloei ’n ernstige knou toegedien. In die tiende eis hy die paaltjie van Mohamed Kitunda (18, 25 b) wat 11.3 per boulbeurt van Tanzanië verg om die wenteiken van 158 te haal (45/3).

Met die vertrek (62/5) van Akhil Anil (4) en Mohamed Issa Sefu (2) moes Tanzanië in die laaste ses boulbeurte 96 lopies aanteken. Vir die moedige Oos-Afrikane was dit egter nie beskore nie en hulle eindig op 99/6 ná 20 boulbeurte.

Amal Rajeevan (41* van 45 b) is Tanzanië se beste kolwer vir die wedstryd. Vir Tanzanië het Yalinde Nkanya (2/27 in 4) en Akhil Anil (2/22 in 3) die meeste paaltjies laat kantel.

Vir Namibië het Erasmus (2/17 in 4), Scholtz (1/17 in 4) en Wiese (1/21 in 4) paaltjies geneem.

Smit is as speler van die wedstryd aangewys en het in sy TV-onderhoud gesê hy is verheug dat sy fiksheid hom weer in staat stel om voluit te kan boul, omdat hy sy boulwerk baie geniet.

“Hierdie toernooi is ’n fantasiese voorreg om betrokke by te wees en om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer, is ’n wonderlike gevoel.”

VANDAG by United: Zimbabwe tn Nigerië (09:30). By Wanderers: Rwanda tn Tanzanië (09:30); Uganda tn Kenia (14:30).

MôRE by United: Zimbabwe tn Kenia (09:30). By Wanderers: Uganda tn Rwanda (09:30), Nigerië tn Namibië (14:30).

TOPKOLWERS

1 Niko Davin (Nam), 236 lopies, vyf kolfbeurte.

2 Collins Obuya (Kenia), 152 lopies, vier kolfbeurte.

3 Irfan Karim (Kenia), 149 lopies, vier kolfbeurte.

4 Jan Frylinck (Nam), 137 lopies, vyf kolfbeurte.

5 Sikandar Raza (Zim), 126 lopies, vier kolfbeurte.

TOPBOULERS

1 Richard Ngarava (Zim), nege paaltjies in 15 boulbeurte.

2 Alpesh Ramjani (Uganda), agt paaltjies in 15 bb.

3 Gerhard Erasmus (Nam), sewe paaltjies in 16 bb.

4 Vraj Patel (Kenia), sewe paaltjies in 15 bb.

5 Sikandar Raza (Zim), ses paaltjies in 10.5 bb.

6 Tangeni Lungameni (Nam), ses paaltjies in 12 bb.

7 David Wiese (Nam), ses paaltjies in 16.4 bb.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!