Eagles, Chevrons die volslae gunstelinge

Krieket
Die tafel is gedek vir 'n mededingende toernooi met twee Wêreldbeker-plekke op die spel.
Tielman Van Lill
Afrigter Pierre de Bruyn het gister sy 15-tal Richelieu Eagles-spelers aangekondig wat vanaf Woensdag die land se aanslag by die ICC T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi vir die Afrika-streek sal verteenwoordig.

Die eerste en tweede geplaaste spanne in die toernooi (22 tot 30 November in die Namibiese hoofstad) sal vir die 2024 T20 Wêreldbeker in Wes-Indië en die VSA kwalifiseer.

Op grond van Namibië se Eagles (12de op die T20 wêreldranglys) en die Chevrons van Zimbabwe (11de) se ervaring op die wêreldverhoog lyk dit onwaarskynlik dat enige van die ander vyf ’n gevaar vir die twee spanne kan inhou.

Kaptein Gerhard Erasmus en sy manne sal onverbiddelik wees in hul voorneme om opnuut hul plek by die Wêreldbeker te bespreek, waar hulle in 2021 en 2022 groot opspraak gewek het.

Dit sal inderdaad ’n reuseskok wees indien Uganda (23ste), Kenia (30ste), Tanzanië (32ste), Nigerië (38ste) of Rwanda (62ste) enige mate van sukses teen die twee grotes behaal.

Die Eagles is sonder die opsie van Lo-han Louwrens, wat nog van ’n blindedermoperasie herstel. Ruben Trumpelmann se stryd om ’n knaende hakskeenbesering af te skud, ontneem die gasheerspan ook van ’n blitsige linkerarm snelbouler en bruikbare laat kolwer.

Handre Klazinga en Karl Birkenstock was betrokke in die Eagles se puik reeksoorwinning met 3-2 teen Zimbabwe in Windhoek verlede maand, ter opwarming vir die komende grote. Die twee se plekke word deur David Wiese en Pikky ya France ingeneem.

Wiese se vernuf en ervaring as bouler en kolwer is ’n wapen vir Namibië. Die 38-jarige veteraan T20-spesialis se laaste aksie was in Augustus tydens die Engelse The Hundred-reeks, waarna hy tydens ’n gesinsvakansie uitgerus het.

Afrigter De Bruyn, wat vir dié reeks deur Justin Kemp as hulpafrigter bygestaan word, het grootliks by sy vertroude suksesresep gehou. Die Eagles het vier erkende draaibalboulers en ses naatboulers as opsies met die linker- of regterarm.

Die onlangse terugkeer van JP Kotzé versterk ook die kolflys en hy kan as paaltjiewagter Zane Green instaan indien nodig.

Malan Kruger is ook weer as ’n topordekolwer in aanmerking. Erkende kolwers soos Michael van Lingen, Niko Davin, Gerhard Erasmus, JP Kotzé, Nicol Loftie-Eaton, Jan Frylinck, JJ Smit en Zane Green sal die kern van Namibië se kolfstormram vorm.

Smit se aanhangers sal graag wil sien dat hy genoeg kolfkans kry om skade aan te rig en opponente op die agtervoet te plaas.

• ’n Interessante bonus vir Uganda is dat hy die uitgetrede Namibiese kolflegende Craig Williams (wat deesdae voltyds die Pupkewitz Toyota krieketakademie in Windhoek bedryf) as ’n kolfkonsultant betrek.

• Zimbabwe het halfpad deur verlede maand se reeks vir Sikandar Raza as sy T20-kaptein aangestel om by Craig Ervine oor te neem. Die Chevrons verwelkom hul snelbouler Blessing Muzarabani terug, wat van ’n besering aan sy regterhand herstel het.

DIE EAGLES SE WEDSTRYDPROGRAM

22 November by Wanderers: tn Zimbabwe (14:30).

24 November by Wanderers: tn Uganda (14:30).

25 November by Wanderers: tn Rwanda (14:30).

27 November by United: tn Kenia (09:30).

28 November by Wanderers: tn Tanzanië (09:30).

30 November by Wanderers: tn Nigerië (14:30).

SPELERSGROEPE

Namibië: Gerhard Erasmus (kaptein), JJ Smit (onderkaptein), Zane Green (paaltjiewagter), Michael van Lingen, Nicol Loftie-Eaton, Helao Ya France, Shaun Fouché, Ben Shikongo, Tangeni Lungameni, Niko Davin, Jan Frylinck, JP Kotzé, David Wiese, Bernard Scholtz, Malan Kruger.

Kenia: Teen druktyd nie beskikbaar nie.

Nigerië: Sylvester Okpe (kaptein), Peter Aho, Ademola Onikoyi, Sesan Adedeji, Sulaimon Runsewe, Prosper Useni, Chiemelie Udekwe, Ridwan Kareem, Isaac Okpe, Daniel Ajekun, Isaac Danladi, Taiwo Mohammed, Joshua Asia, Akhere Isesele, Ashmit Shrestha.

Rwanda: Clinton Rubagumya (kaptein), Didier Ndikubwimana, Emmanuel Sebareme, Eric Dusingizimana, Nadil Muhammed, Orchide Tuyisenge, Hamza Khan, Eric Niyomugaba, Wilson Nyitanga, Oscar Imanshmwe, Kevin Irakoze, Zappy Bimenyimana, Martin Akayezu, Emile Rukiriza, Eric Kubwmana.

Tanzanië: Abhik Patwa (kaptein), Ivan Selemani, Amal Rajeevan, Mohamed Omary, Mohammed Yunus, Kassimu Nassoro, Mohamed Simba, Salum Jumbe, Sanjay Thakor, Ally Kimote, Abdullah Jabiri, Harsheed Chouhan, Yalinde Maurice Nkanya, Johnson Nyambo, Dhrumit Mehta, Akhil Anil.

Uganda: Brian Musaba (kaptein), Riazat Ali Shah, Dinesh Nakrani, Frank Nsubuga, David Wabwire, Jonathan Ssebanja, Simon Ssesazi, Ronak Patel, Roger Mukasa, Cyrus Kakuru, Kenneth Waiswa, Henry Ssenyondo, Robison Obuya, Alpesh Ramjani, Bilal Hassun.

Zimbabwe: Sikandar Raza (kaptein), Ryan Burl, Tendai Chatara, Craig Ervine, Luke Jongwe, Innocent Kaia, Clive Madande, Wessly Madhevere, Tadiwanashe Marumai, Wellington Masakadza, Carl Mumba, Blessing Muzarabani, Richard Ngarava, Nic Welch, Sean Williams.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!