Eagles vee die vloer met Zimbabwe

Krieket
Die waarde van gister se triomf by Wanderers kan beswaarlik oorskat word.
Tielman Van Lill
Met Niko Davin verwoestend op dreef het die Namibiese Richelieu Eagles gister met bykans verstommende oorheersing in elke aspek van die spel ’n reuse-oorwinning teen Zimbabwe opgestapel.

Die twee spanne is die gunstelinge om soos verlede jaar weer as die twee kwalifiseerders vir die 2024 ICC T20 Wêreldbeker na vore te tree in die huidige Afrika-uitduntoernooi tussen sewe nasies in Windhoek.

Die verwagting was dat die spanne goed teen mekaar sou opweeg, maar Gerhard Erasmus en sy manne het eenvoudig die vloer gevee met hul steeds ietwat hoër gerekende opposisie.

By die Wanderers-veld het Erasmus die loot gewen en die Chevrons ingestuur, wat egter net 132/8 op die telbord kon plaas.

Die vonke was onmiddelik gespat toe Tadiwanashe Marumani die heel eerste bal vir ’n ses gemoker het. Met die volgende bal het Bernard Scholtz hom egter uitgeboul en die Namibiërs het nooit weer die greep laat los nie.

“Alles wat kon fout gaan, het vandag skeefgeloop. Maar ek het steeds geloof in my groep om die knoop deur te haak,” het Sikandar Raza agterna gesê oor sy Zimbabwe-span wat hom ná dag een se vernedering aan die onderpunt van die sewe spanne bevind.

“Niko Davin het weer uitstekend gekolf. Die oomblik wanneer ons afgewyk het van ons plan teen hom, het hy ons seergemaak.”

Die Eagles (134 vir 3 in 14.4 boulbeurte) het meer as vyf boulbeurte oor gehad toe hulle Zimbabwe se 132/8 in 20 verbygesteek het.

Niko Davin was vuur en vlam met 89 lopies van 45 balle. Dit is sy hoogste telling van sy internasionale T20-loopbaan en hy het eenvoudig voortgebou nadat hy ook in verlede maand se tuisreekssege teen Zimbabwe die meeste lopies (203) gemoker het.

In die aanvangsvennootskap van 88 saam met hom het Michael van Lingen 30 (4x4, 1x6) van 20 aflewerings geslaan.

Namibië se voorste paaltjievrate is JJ Smit (3 vir 24 in 4 boulbeurte) en Tangeni Lungameni (2/31 in 3). Smit het met opeenvolgende balle vir Nick Welch (8) en Sean Williams (0) uitgehaal.

Vir Zimbabwe is hul mometum gebreek toe ervare kolwers soos Craig Ervine (36 van 33 b) en Raza (op die grens gevang deur Nicol Loftie-Eaton vir 20 van 21 balle, van Lungameni se boulwerk) nie kon voortbou nie.

Ryan Burl het 27 nie uit nie van 25 balle bygedra.

Zimbabwe se naatboulers Richard Ngarava (1/20 in 4), Blessing Muzarabani (1/29 in 3) en Wellington Masakadza (1/42 in 3.4) het met tye deurgeloop.

KENIA EN UGANDA WEN

Kenia (154/2 in 20) het sy eerste wedstryd in die Afrika T20-finaal by United met 17 lopies teen Rwanda (137/4 in 20) gewen.

Irfan Karim met 63 nie uit nie (43 b) is die speler van die wedstryd. Saam met hom het Collins Obuya 50 (47 b) aangeteken.

Rwanda se meeste lopies is deur Orchide Tuyisenge (56, 54 b) en Martin Akayezu (30 van 9 b) aangeteken.

• By Wanderers het Uganda (105/2 in 15.2) vir Tanzanië (99/7 in 20) met 8 paaltjies gewen.

Riazat Ali Shah (47*, 27 b) en Simon Ssesazi (31, 35 b) het Uganda se meeste lopies geslaan met tien grenshoue (7x4, 3x6) in die sakkie. Alpesh Ramjani (3/26 in 4) en Riazat Ali Shah (2/14 in 4) was die voorste paaltjie brekers vir Uganda.

Ali Shah is die speler van die wedstryd.

Tanzanië se topkolwer was SanjayKumar Thakor (22 nie uit nie 16 b).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!