Eddie Jones gaps bulstut van Walvisbaai

Rugby
Allister Coetzee se finale groep van 28 vir die WB-uitduntoernooi sal waarskynlik eers laat voltallig wees.
Andrew Poolman
Andrew Poolman

’n Geharde kern van Namibië se oorsese rugbyspelers sal nie Vrydag saam na Stellenbosch vertrek vir die amptelike kwalifise­rende Wêreldbeker-oefenkamp nie, omdat hul professionele klubs tans in die ernstige uitklopfase van hul ligaseisoen is.

Twee prominente name sal inderdaad ook nie saam na Frankryk reis en dus geen aandeel hê in Rugby Afrika se naderende kontinentale kampioenskap wat van 1 tot 10 Julie gespeel word nie.

Engeland se afrigter Eddie Jones het sy Namibiese eweknie Allister Coetzee ’n groot onguns bewys toe hy vandeesweek vir Patrick Schicker­ling na sy nasionale oefenkamp genooi het.

Die gebore Walvisbaaier, nou eers 23 jaar oud, is ’n vaskopstut met baie plofkrag as ’n baldraer – wat hierdie seisoen vyf drieë in 18 wedstryde vir Exeter Chiefs in die Engelse premierliga en Europese kompetisie gedruk het.

Schickerling, oudspeler van Walvisbaai Privaat Hoërskool en Namibië o.20, het in Februarie 2020 sy eerste verskyning in die Engelse premierliga gemaak.

“Patrick weet hoe ons oor hom voel en ons het hom nog altyd benader. Eddie Jones het al ’n redelike tyd terug hierdie saadjie geplant en met hom gekommunikeer en vandeesweek se aankondiging kom dus nie vir ons as ’n groot skok nie,” sê Chrysander Botha, hulpafrigter van Namibië.

“Vir Namibië sou hy ooglopend ’n groot aanwins wees, maar ons was van die begin af bewus van sy ambisie om vir Engeland te kwalifiseer en dat hy hom dus nie vir ons beskikbaar wou stel nie. Dis vir ons ’n verlies, maar ons ondersteun hom steeds in sy loopbaan en wens hom die beste toe.”

TJIUEE ONTTREK

Nog ’n potensieel gevoelige leemte in Frankryk sal die afwesigheid van Tjiuee Uanivi wees.

Die 31-jarige lynstaanspesialis van 2.01 meter en 110 kilogram het onlangs van sy Franse Pro D2-klub Montauban na Windhoek teruggekeer. Met 33 toetse agter die blad sedert 2014 is hy ook een van die senior leiersfigure in kaptein Johan Deysel se groep.

“Tjiuee het om persoonlike redes onttrek en het sy redes aan die NRU-bestuur oorgedra hoekom hy nie vir die groep na Stellenbosch óf Frank­ryk beskikbaar is nie. Ons respekteer sy besluit,” sê Botha.

RENALDO

Renaldo Bothma het laas November ’n suksesvolle terugkeer vir Namibië gemaak met verskynings in die toetse teen Kenia en Zimbabwe – maar die 32-jarige veteraan van 19 toetse sê hy is bevrees sy rugbydae kan verby wees.

“Ek het ’n baie ernstige besering opgedoen in ons semifinaal vir Tel Aviv Heat in Portugal op 16 Maart. Ek het my hele knie ontwrig en al my knieligamente geskeur – asook senuwees beskadig wat my gevoel in my voet laat verloor het en ek kan nie my voet optel nie. Hy is tans verlam.

“Ek het klaar my eerste operasie onder­gaan en moet weer ’n volgende operasie kry om die ACL te doen en daarna moet ek ook my enkel laat doen. Ek twyfel of ek weer sal kan rugby speel. Ek sien op 20 Junie weer die dokter, waarna ek ’n besluit sal neem oor my rugbytoekoms, maar dinge lyk tans nie goed nie.”

KLUBLIGA-VERPLIGTINGE

Agt Namibiese beroepspelers in die buiteland se onderskeie klubs is tans nog in die wedloop om die kwart- of semifinale in hul onderskeie tuislande se ligas te haal.

Sommige van hulle sal dus moontlik eers later by die Namibië-oefenkamp op Stellenbosch aansluit – óf moontlik eers in Frankryk, indien hulle deel van die finale uitsoekgroep van 28 vorm.

Hierdie groep sluit in die stut Aranos Coetzee en haker Louis van der Westhuizen (beide Vrystaat Cheetahs – tweede in die Curriebeker), slot Johan Retief (Griekwas – derde in Curriebeker), haker Gihard Visagie (SWD Arende, sesde in Curriebeker eerste liga), losvoorspelers Wian Conradie (New England Free Jacks – VSA Major League semifinaal / konferensiefinaal) en Janco Venter (Saracens – tweede in Engelse premierliga), haker Torsten van Jaarsveld (Bayonne – promosiewedstryd na Franse Top 14) en heelagter Johann Tromp (Strela Kazan, Rusland, semifinaal).

AANSLUITINGS

Die vleuel en heelagter van die Goue Leeus, Divan Rossouw, is een van die opvallende insluitings wat vir die eerste keer deur Namibië oorweeg kan word.

Rossouw (26) het tevore by spanne soos Windhoek Gimnasium, Namibië o.18 en o.20, Tuks en die Blou Bulle opgang tot op Superrugbyvlak gemaak.

Die terugkeer van PW Steenkamp kan ook betekenisvol wees vir dié losskakel wat hoop om ’n nuwe internasionale begin onder Coetzee te maak. Hy het twee blink seisoene vir sy Poolse klub Orkan Sochaczew agter die blad – waar sy ou Elnatan-vriend Danco Burger (senter) ook langs hom was.

Gerswin Mouton, wat Varsitybeker-rugby vir Wits en tevore Namibië o.20 en sewesrugby gespeel het, kan ook ’n buiteperd vir insluiting wees.

Namibië se waarskynlik eerstekeuse skakelpaar is ook op pad terug uit die VSA vir ’n hervatting van nasionale diens, naamlik Damian Stevens (New Orleans Gold) en Cliven Loubser (Utah Warriors).

’n Stewige deel van die 35-tal bestaan ook uit die keur van wat sover vanjaar in die plaaslike NRU premierliga gesien is.

DIE GROEP NA STELLENBOSCH

Stutte: Desiderius Sethie, Herschell van Wyk, Chemigan Beukes, Jason Benade, Jano Otto.

Hakers: Obert Nortje, Wikus Jacobs.

Slotte: PJ van Lill, Ruan Ludick, Johan Luttig, Adriaan Ludick, Max Katjijeko.

Losvoorspelers: Thomasau Forbes, Adriaan Booysen, Prince !Goaseb, Oderich Mouton, Cameron Langenhoven, Peter Diergaardt, Joshua Jacobs.

Skrumskakels: Damian Stevens, Jacques Theron, Helarius Kisting (ook losskakel).

Losskakels: Cliven Loubser, André van der Berg, PW Steenkamp.

Senters: Johan Deysel, Lesley Klim, Danco Burger, Alcino Izaacs.

Vleuels en heelagters: JC Greyling, Chad Plato, Divan Rossouw, Gerswin Mouton, Warren Ludwig, Lorenzo Louis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!