Een plek in 33 vir WB nog nie opgeklaar

Rugby
Daar was gister nog bespiegeling oor wie ingevlieg gaan word.
Andrew Poolman
Die Namibië Rugby-unie (NRU) wag op amptelike goedkeuring van Wêreldrugby om ’n beoogde plaasvervanger in die spelersgroep vir die Wêreldbeker in Frankryk te bevestig.

Die vleuel Chad Plato was in die spelersgroep wat afrigter Allister Coetzee aanvanklik twee weke gelede aangekondig het.

Die 25-jarige Plato het enkele dae later egter sy dyspier beseer tydens die laaste amptelike opwarmwedstryd teen die Vodacom Bulle in Windhoek.

Die Walvisbaaise vleuel en heelagter was vier jaar gelede ’n verrassende insluiting bo Chrysander Botha vir die WB-groep na Japan, maar het uitgeblink in die openingswedstryd teen Italië deur vir ’n aanskoulike drie van ’n beplande beweging deur te nael. In die eerste helfte het hy ook sy teenstander geklop en met ’n binne-aangee bygedra tot Damian Stevens se drie.

Plato het op sosiale media bevestig dat hy tot in sy wese teleurgesteld is om nie saam te kon vertrek nie, maar het elkeen bedank wat hom op sy pad ondersteun het en het in ’n filosofiese toon aangedui dat sy ambisie vir die toekoms nog ongeskonde bly.

Sonder enige amptelike kommunikasie die afgelope twee weke deur die NRU se amptelike kanale is die flank van FNB Unam, Peter Diergaardt, se naam deur bronne naby die groep gefluister as die uitverkore plaasvervanger. Hy is egter nie die enigste oor wie bespiegel word nie.

Die koerant verneem dat skrumskakel Helarius Kisting ook gister uit Windhoek in Frankryk by die Namibiese groep aangesluit het. Sy amptelike status is egter onbekend, nadat hy verlede maand op die toer na Uruguay sy voorarm gebreek het, maar na verwagting naby aan herstel is.

Die 25-jarige stut Haitembu Shikufa en die haker Obert Nortjé is die twee bevestigde ekstra voorryspelers wat reeds in Frankryk is, nadat Coetzee aanvanklik net 31 van die 33 aangekondig het.

Shikufa kan as vaskop óf loskop skrum, terwyl Nortje reeds die ondervinding van die 2019 Wêreldbeker in Japan het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!