• Tuisblad
  • Sport
  • Eerste internasionale RCFA-kampioenskap binnekort

Eerste internasionale RCFA-kampioenskap binnekort

Gevegkuns
Die Oosterse gevegstyl het 'n unieke Namibiese invloed.
Tielman Van Lill
Die beheerliggaam Ring Contact Fighting Arts Namibia (RCFAN) berei voor om Namib War, sy eerste internasionale kampioenskap, op 4 November in die hoofstad aan te bied.

RCFAN beplan om die kompetisie jaarliks te hou as ’n ten volle geakkrediteerde RCFA internasionale byeenkoms vir plaaslike klub- en internasionale atlete.

Die kampioenskap sal voorlopig in ’n bokskryt beslis word totdat RCFAN met hulp van ’n borg ’n seshoekige kryt kan bekom.

Van die dissiplines sal op tatami-matte afgehandel word. Al die reëls en protokol van RCFAI sal tydens die kompetisie toegepas word.

Die plaaslike beheerliggaam sê in sy verklaring: “RCFA is ’n gevegkuns wat in 1984 in Suid-Afrika deur die visioenêre meester Joe Viljoen geskep is. Dis gebore uit die ryk erfenis en dinamiese gees van ons nasie. Meester Viljoen wou ’n gevegskuns skep wat wegbeweeg van die sogenaamde puntestelsel, wat volle kontak verskaf en die vegters toelaat om hulself te verdedig in die unieke omstandighede van Suid-Afrika en nou ook Namibië.

“’n Gevegkuns is dus geskep uit ’n kombinasie van ballet, stoei, boks, judo en karate wat tradisionele wapens soos die bo, nunchaku, knuppel, sai en kama by die samurai-swaard gevoeg het.

“Die styl is gebaseer op die grondslag van waarheid, wat verwys na die konsep dat dit slegs die waarheid is indien jy jouself suksesvol in die straatgeveg kan verdedig.

“Meester Joe is internasionaal deur die Professionele Karatevereniging (PKA) vir sy visie erken en is in 1988 as die beste instrukteur wêreldwyd bekroon. RCFA weerspieël die veerkragtigheid, aanpasbaarheid en krag van ons Namibiese mense en omstandighede.

“As ’n organisasie is die ontwikkeling van RCFA in Namibië daartoe verbind om die unieke gevegkuns te kweek en uit te brei. Om individue te bemagtig, uitdagings te oorkom, persoonlike groei te bereik en sukses in beide die kryt en die lewe as geheel te behaal. RCFA is nou internasionaal ’n erkende styl met geaffilieerde lande wêreldwyd.

“Ons is geweldig trots op ons prestasies tot dusver. RCFA-kompetisies word internasionaal regstreeks op sosiale media gebeeldsend. Ons YouTube-kanaal spog met meer as 1 500 intekenare met ’n indrukwekkende maandelikse kykertal van ongeveer 200 000 en dit groei eksponensieel. Deur hierdie kanale bied ons ’n boeiende platform om die buitengewone talent en vaardighede van ons RCFA-vegters ten toon te stel.

“RCFAN staan op die drumpel van ’n buitengewone geleentheid wanneer ons die eerste internasionale Namib War-toernooi op 4 November hier by Wanderers in Pionierspark aanbied.

“Die merkwaardige geleentheid bring die beste vegters van Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe bymekaar. Dit bied ’n ongeëwenaarde verhoog om ons sport in ’n internasionale kompetisie ten toon te stel.

“Ons glo vennootskappe met RCFAN vir die Namib War sal nie net wedersyds voordelig wees nie, maar sal ook betekenisvol tot die groei van Oosterse gevegskuns in Namibië bydra.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer