Egipte bal vuis in Namibiese Ope

Muurbal
Die topspelers van Suid-Afrika, Egipte en Nigerië het vroeg reeds hul kleim begin afsteek.
Andrew Poolman
Die verdedigende vrouekampioen Dené van Zyl is ná ’n harde openingswedstryd uitgeskakel op dag een van die BDO Namibiese Ope muurbalkampioenskap by die Wanderers-klub in Pionierspark.

In ’n bra ongunstige loting moes die gebore Namibiër haar veldtog afskop teen die toernooi se topgekeurde vrouespeler, Menna Walid van Egipte (103de op die wêreldranglys), wat sommer dadelik haar kleim afgesteek het.

Die eindtelling was 11-5, 11-6, 11-5 en het meegebring dat die jong Van Zyl nou na die A-afdeling afskuif, waar sy steeds ’n krag behoort te wees om mee rekening te hou.

Walid, wat laas week ook die Johannesburg Ope gewen het, het agterna gesê: “Sy het baie goed gespeel, maar ek het selfvertroue gehad en het dit reggekry om my ritme te vind en te wen. Dit is my eerste besoek aan Windhoek en die weer is nogal warm.””

Hoewel Namibië se Adri Lambert algaande verbeter het, was Mariam Ashraf van Egipte met 11-1, 11-4, 11-5 te sterk.

Die Namibiër Le-Hugo van Rooyen is in drie stelle deur die Suid-Afrikaner Damian Groenewald uitgeskakel, met 11-3, 11-2, 11-5.

Van Rooyen het agterna gesê die vaardigheidsvlak van die Suid-Afrikaners en ander besoekende spelers is die gevolg van hul deurlopende blootstelling aan gereelde sterk kompetisie teen ’n verskeidenheid opponente.

“Ek het my bes gegee en lekker gesweet. Namibië kan nie genoeg kry van so ’n puik blootstelling aan internasionale spelers en wedstryde teen uitstekende teenstand nie.

Die onvoorspelbaarheid van die kompetisie tussen soveel begaafde spelers met X-faktor sal verseker dat geesdriftiges enduit ingeskakel kan bly of die aksie vanaf die sitplekke langs die baan kan volg, het die visepresident van die Namibiese Muurbalvereniging, Gerdus Louwrens, gister gesê.

“As administrateurs van Namibiese muurbal droom ons letterlik sedert onafhanklikwording in 1990 om so ’n groot internasionale toernooi hier te kan aanbied,” het Louwrens gesê.

• Die NTV-produksiespan saai die wedstryde daagliks regstreeks op die Facebook-blad van Sport Wrap uit. Meer oor die toernooi binne, in vandag se uitgawe van Sport Wrap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!