Eindfluitjie blaas met Gim as kampioen

Skolerugby
Andrew Poolman
Windhoek Gimnasium se eerste rugbyspan, die Schoemans-groep Leeus, het net-net daarin geslaag om ’n massiewe aanslag van KMC One Construction Windhoek Affies te oorleef om as die nasionale Standard Bank o.19 Superliga-kampioen vir 2022 bekroon te word.

’n Strafskop voor die pale met speeltyd verstreke het losskakel JW Visagie die geleentheid gegee om die agterstand van 21-23 om te keer, vir die oorwinning van 24-23 wat Affies onttroon en hulle ’n derde agtereenvolgende sukses ontneem het, ná hul pre-Covid-titels in 2018 en 2019.

Toeskouers by Windhoek Gimnasium se Lions Den-stadion het vanjaar ’n onvergeetlike, kompeterende eindstryd propvol drama tussen ongetwyfeld die twee topspanne in die liga gesien.

In die proses het talle spelers aan beide kante hul individuele aandele grootliks laat styg, in teenstelling met die bykans vergete status van vele van die vorige twee verlore jare se bestes.

Trane van teleurstelling vir die Affies-spelers het getuig hoe bitter graag hulle hierdie titel op afrigter Johan Zaayman se verjaarsdag sou wou byvoeg, maar die span se bydrae om die eindstryd ’n skouspel te maak, het nie ongesiens verby gegaan nie en die geel-en-bloues tree met eer uit die stryd.

DRIE DRIEË ELK

Affies het ná 16 minute hul regtervleuel Nico Tromp vir hul eerste drie van die wedstryd sien oorduik, nadat sy jonger broer Van der Merwe Tromp op losskakel ’n taktiese skop diep in Gimnasium se gebied geplaas het.

Die ongemaklike hoë wip het die retirerende Lu-Hendro de Waal onverhoeds betrap en het die Affies-senter Theunis van Wyk toegelaat om die bal op volle vaart te bemeester en vir Tromp senior weg te stuur. Die beskikbare videomateriaal was nie voldoende om die Affies-verdedigers se oombliklike aanspraak te bevestig dat Tromp dalk die bal aangeslaan het nie, maar skeidsregter Zaid Isaacs het ná beraadslaging met sy assistent Romario de Koker die drie toegeken.

Affies-heelagter André Siepker kon nie sy seëvierende stelskopvertoning in die halfeindstryd teen die Hoërskool Samsung Windhoek herhaal nie en het ’n afdag van die skopringetjie af beleef. Twee verbroude doelskoppe en drie strafskoppe kon die tuisspan onder selfs meer druk gehou het.

’n Meer aanvallende benadering as gewoonlik met die bal in die hand deur JW Visagie in Gimnasium se 10-posisie het ’n beweging aan die gang gesit van waar sy haker Hendré Schrader op ’n lopie deur die middel weggebreek het. Hy is gekeer, maar die bal was beskikbaar vir die grote vaskopstut Herman Coetzee om naby die pale te gaan druk. Visagie het oorgeskop, ná twee van sy vroeër strafskoptreffers (13-5).

’n Siepker-strafdoel het die telling laat krimp kort voordat die rustydfluitjie op 13-8 geblaas het.

’n Beduidende verlies vir Gimnasium was sy skrumskakel Elzandro van Wyk, wat die veld met ’n kniebesering verlaat en deur Denver Beukes vervang is.

Affies se linkervleuel Jandre Esterhuizen het binne die eerste sekondes van die tweede helfte sy kans aangegryp met sy eerste van twee drieë. Hy het ’n hoë skop raakgevat en sy teenstander Suramie Kambombo, senter William Klazen en stut Otja Auala geklop om die laaste paar meter na die linkerste hoek oop voor hom te laat vir ’n onverdoelde drie (13-13).

Nog ’n sterk Esterhuizen-lopie is kort daarna met ’n dapper duikslag deur Gimnasium se heelagter Divan Steyn gestuit, nadat die WAP-slot Walther Otto etlike meters deur die middelveld gestorm en van agter deur De Waal ingehardloop moes word.

Sowat 12 minute in die tweede helfte in was Esterhuizen inderdaad in posisie om die laaste aangee te neem toe sy skrumskakel Fanus Jurgens in ’n halwe gaping versnel het om twee Gimnasium-verdedigers, Kambombo en flank Dirkie Theunissen, op hom te trek en die vleuel onaangeraak doellyn toe te stuur.

Laasgenoemde drie het Affies met 20-13 laat voorloop – ’n agterstand wat Gimnasium verklein het met ’n rolmaaldrie wat deur die flank Dirkie Theunissen gedruk is.

Visagie kon nie oorskop nie en Siepker het drie punte bygevoeg toe Gim se voorspelers by ’n afskop onkant gegaan het, maar Visagie se derde en vierde strafskoppe van die wedstryd, ná vasberade dryfspel deur sy voorspelers, was genoeg om sy span die voorsprong te gee toe die eindfluitjie blaas.

TOEKENNINGS

Dit was ’n heuglike dag vir Gimnasium, want hul eerste span het sy seisoen onoorwonne afgesluit vir hul eerste Superliga-titel sedert 2017.

Die gasheerskool vir die eindstryde het drie gewen en een gelykop gespeel in die vier ouderdomsfinale waarin hul spanne betrokke was.

Gimnasium se o.19 tweede span het WHS 21-19 in die o.19B-liga se beslissende stryd geklop, terwyl hul o.15- span dieselfde opponent met 16-15 geklop het. Gimnasium en WHS se o.14-spanne het 17-17 gelykop gespeel om die trofee te deel.

Vir die Superliga-eindstryd is Gimnasium

se flank Jorick Muir as speler van die wedstryd aangewys, terwyl die Affies-vleuel Jandre Esterhuizen as die beste agterspeler vereer is.

Van die algehele pryse wat vir die dag toegeken is, was onder meer aan Walvisbaai Privaat Hoërskool se Nartjies (mooispeeltrofee, vir hul oorwinning met 46-18 teen Dr. Lemmer in die o.19A-finaal).

Gimnasium se o.15-heelagter Dirk Farmer is as die uitstaande speler van die eindstryde vereer (Danie Botes wisseltrofee).

Grootfontein se agtsteman en stelskopper Adriaan Nel is as die mees waardevolle voorspeler bekroon (Zanna Botes wisseltrofee), terwyl Manfred Garoëb, senter van Dr. Lemmer se eerste span, die agterspelers se Lu-Wayne Botes wisseltrofee weggestap het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer