Vriitya Aravind se profielfoto voor laas jaar se ICC o.19 Wêreldbeker in Suid-Afrika. Foto ICC/Getty Images
Vriitya Aravind se profielfoto voor laas jaar se ICC o.19 Wêreldbeker in Suid-Afrika. Foto ICC/Getty Images

Emirate se hoop op wunderkind

Krieket
As gasheerspan is die Verenigde Arabiese Emirate onder druk om ná sy openingsnederlaag terug te veg wanneer sy paaie vanoggend die eerste keer met Gerhard Erasmus se Namibiese span kruis in die ICC Wêreldbeker Liga 2-minitoernooi in Dubai.

In die twee wedstryde sover het die Emirate eers met 12 lopies teen Oman verloor (die gasheerspan moes 226 jaag en is vir 213 uitgeboul), voordat die Namibiese Eagles Sondag te danke aan die manjifieke honderdtal van Erasmus (121 van 120 balle) uit die dode verrys het (53/7) om Oman uiteindelik met 110 lopies te verslaan.

In die Emirate se verloorwedstryd was die tienerjarige nommer drie Vriitya Aravind hul voorste lopiemaker met 44 van 65 balle (drie viere).

Die 19-jarige paaltjiewagter-kolwer was in Februarie op sensasionele wyse die speler van die reeks in die ICC T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi – waar die Emirate vir Ierland in die finaal met sewe paaltjies verslaan het nadat beide lande reeds deurgedring het om saam met Namibië in Oktober by die volgende T20 WB-toernooi in Australië te gaan aanmeld.

“Aravind se selfvertroue en kalmte het uitgestaan tydens sy span se opgang. Die manier hoe hy sy lopies versamel het, het die verskeidenheid van sy repertoire houe uitgestal,” het die ICC agterna hulde aan sy vertoning gebring.

“Of dit sy kaphoue of aanskoulike dryfhoue is, hy laat dit maklik lyk. Hy het heelwat krag in sy kolfvermoë en is nie skaam om met groot houe sy aanvallende ingesteldheid te wys nie.

“Dis egter sy begrip van die spel en aanpasbaarheid wat sy volwassenheid bo sy jare bewys.”

In die deurslaggewende T20-toernooi in Oman het Aravind met 97 lopies teen Ierland sy span met ’n oorwinning laat wegspring. Teen Duitsland is hy vir 40 uitgehardloop – voor sy vertoning teen Bahrein wat die verbeelding aangegryp het.

Sy 84 nie uit nie van 52 balle teen Bahrein het nie die Emirate van ’n nederlaag met twee lopies gered nie, maar het so byna manalleen die bordjies verhang.

In die laaste boulbeurt moes die Emirate 27 aanteken om te wen, of minstens 12 om op grond van ’n beter netto lopietempo te kwalifiseer. Aravind se blitzkrieg van 24 lopies (4, 4, 2, 6, 6, 2) het sy span se veldtog op koers gehou.

Vandag se wedstryd in Dubai begin om 07:30 Namibiese tyd.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer