• Tuisblad
  • Sport
  • Engeland vermag uitsonderlike prestasie teen Bokke
Willie le Roux, Owen Farrell en Danny Care konfronteer mekaar nadat die Bokke Saterdag met Engeland afgereken het. Foto Reuters
Willie le Roux, Owen Farrell en Danny Care konfronteer mekaar nadat die Bokke Saterdag met Engeland afgereken het. Foto Reuters

Engeland vermag uitsonderlike prestasie teen Bokke

Rugby
Steve Borthwick, afrigter van Engeland, se meesterplan met taktiese skopwerk en die akkuraatheid waarmee sy span dit uitgevoer het, was bitter naby daaraan om Suid-Afrika in Saterdag se Wêreldbekerhalfeindstryd te klop.

Maar sy wedstrydplan het ook verskeie verstommende statistieke opgelewer.

Engeland het die wedstryd betree as die land wat balbesit meer as enige ander span in die toernooi wegskop. Die Rose het weer 93% hulle balbesit weggeskop en sodoende hul toernooirekord van hul oorwinning in hul openingswedstryd teen Argentinië geëwenaar toe hulle vir 77 minute met slegs 14 man moes klaarkom.

Dit het in Saterdag se nat en winderige toestande soos ’n oordeelkundige strategie gelyk, veral omdat die Engelse baie beter as die Springbokke gevaar het wanneer hulle aan die ontvangkant van taktiese skoppe was.

Die Rose het ook hul posisie as toernooi-voorlopers wat betref getal skoppe per wedstryd (34,3) behou.

Engeland het geen voorneme gehad om die bal na die buiteagterspelers te versprei nie, dus is dit geen verrassing nie dat die span se spoed by die afbreekpunte die stadigste van die toernooi was. Dit het die Rose gemiddeld 6,73 sekondes by elke afbreekpunt geneem terwyl hulle gereedgemaak het om te skop en storm.

Die Engelse het ook die eerste span in die toernooi geword – in 42 kragmetings – wie se verdedigingslyn nie ’n enkele keer gebreek is nie.

Hul gebrek aan ambisie om drieë te druk, is beklemtoon deur die feit dat hulle Saterdag die Bokke se “rooi-sone” slegs op vier geleenthede binnegegaan het, baie minder as hul gemiddeld van 11,2 voorheen in die toernooi.

Engeland se mislukking om ’n drie teen die Bokke te druk is egter geensins ’n nuwe tendens nie.

Die Rose kon ook nie ’n drie in die eindstryd in 2019 of die eindstryd of groepwedstryd in 2007 of die kwarteindstryd in 1999 druk nie – en het al vyf kragmetings verloor. Die span het sy enigste Wêreldbeker-drie teen die Bokke in die groepwedstryd in 2003 gedruk.

Die skrum het egter die beslissende statistieke opgelewer. Die halfeindstryd was die eerste keer dat Engeland sedert sy openingswedstryd ’n skrumstrafskop afgestaan het.

Die Rose het uiteindelik altesaam vier, almal in die laaste 20 minute, afgestaan. Twee van dié flaters het die weg gebaan vir ’n verdoelde drie en ’n suksesvolle strafdoel wat aan die Bokke ’n oorwinning met 16-15 besorg het nadat hulle in ’n stadium met 6-15 agter was.

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!