Erasmus (121*) bring ommeswaai teen Oman

Krieket
Andrew Poolman
Elke internasionale eendagwedstryd in die ICC Wêreldbeker Liga 2 is hoogs kompeterend en die Namibiese Eagles kan beswaarlik bekostig om steeds in die wittebrood van verlede jaar se T20 Wêreldbeker-vertoning voort te leef.

Dié boodskap is egter in Dubai van nuuts af tuisgebring toe die Namibiërs by wyse van spreke die krieketskoene van Oman op hul nek gevoel het, voordat kaptein Gerhard Erasmus met ’n onoorwonne honderdtal die wedstryd op sy kop omgekeer en die Eagles se reputasie as ’n immer vegtende span laat voortleef het.

Toe Namibië hom op 43/6 en 57/7 bevind het met Craig Williams (0), Stephen Baard (26), Michael van Lingen (10), JJ Smit (1), David Wiese (0), Ruben Trumpelmann (0) en Jan Frylinck (0) terug in die pawiljoen, was dit duidelik dat net nog die Eagles se kaptein enige hoop sou inhou om enige soort verdedigbare totaal op die telbord te plaas.

“Ons was op pad na ’n (nederlaag en ’n) vroeë stort, ’n kort streksessie en daarna ’n harde spanpraatjie,” het Erasmus in sy toespraak erken nadat sy span met ’n bykans ongelooflike 110 lopies gewen het en hy sy toekenning as speler van die wedstryd ontvang het.

Erasmus (121 van 120 balle) het nege viere en drie sesse geslaan, maar hy het aanvanklik konserwatief gekolf totdat hy eindelik die ondersteuning van twee kolfvennote gevind het.

Om die Eagles tot by 226 almal uit te kry, het Nicol Loftie-Eaton (21 van 51 balle, een vier) en Bernard Scholtz met sy hoogste kolftelling in internasionale eendagkrieket (30 van 52 balle, een vier) ’n ewe sentrale rol gespeel, wat agterna ook die lof van hul kaptein uitgelok het.

“Wat ’n ommeswaai! Alle krediet aan die manne wat vasgebyt en langer in gebly het. Krieket is ’n vreemde, onvoorspelbare spel en hulle het gewys wat kan gebeur as jy in die geveg bly en aangeskakel bly met hoe die wedstryd verloop.”

Oman het die vorige dag die driehoekige eendagreeks in Dubai geopen het deur die Verenigde Arabiese Emirate met 12 lopies te klop, danksy vyf paaltjies (5/31) deur sy snelbouler Bilal Khan. Laasgenoemde was gister teen Namibië ewe goed op sy stukke en sy 4/42 in 10 het die einde van Baard, Smit, Wiese en Trumpelmann beteken.

Erasmus sê die span het die positiewe momentum van hul kolftotaal verder gedra toe dit Oman se kolfbeurt was.

Oman se kaptein Khawar Ali (43) het die meeste weerstand gebied, maar die boulers het gereelde deurbrake gemaak.

“Ek dink nie daar was te veel duiwels in die kolfblad nie. Ek reken op die eerste twee wedstryddae het te min kolwers regtig genoeg gedoen om hulself in te grawe.

“Ons boulers was meedoënloos in hul akkuraatheid, maar ek verwag nie in die res van die toernooi dat sulke lae kolftellings noodwendig die normale gang van sake gaan wees nie,” het Erasmus gesê.

David Wiese (2/22 in 7) en Ruben Trumpelmann (1/25 in 8) het met die nuwe bal geboul voordat JJ Smit (2/27 in 10), Tangeni Lungameni (2/14 in 8) en Jan Frylinck (2/24 in 8) hul beurt gekry het.

Michael van Lingen, die vierde linkerarm snelbouler in die wedstrydgroep, het net ’n enkele bal afgestuur om die 43ste boulbeurt te begin en het Oman se laaste weerstand Khawar Ali gebreek toe Nicol Loftie-Eaton (paaltjiewagter in die plek van Zane Green) sy enigste vangskoot vir die dag kon benut.

Erasmus is uitgevra oor die uitbundigheid waarmee Lungameni se twee paaltjies in sy internasionale eendagdebuut gevier is.

“Dit was vir Tangeni moeilik om verlede jaar net-net uit die Wêreldbekerspan weggelaat te word. Ek is so trots op hoe hy die laaste twee jaar ontwikkel het. Hy is reeds ’n goeie agt of nege jaar deel van ons nasionale groep en het vandag sy beloning gekry. Hy is nou in ’n goeie plek.”

Die Namibiërs speel môre teen die Emirate in Dubai, voor hulle Vrydag weer teen Oman opgeweeg word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!