Nicol Loftie-Eaton, speler van die wedstryd, ontvang sy trofee van die wedstrydskeidsregter, Wendell Labrooy van Sri Lanka. Skermgreep, ICC-TV
Nicol Loftie-Eaton, speler van die wedstryd, ontvang sy trofee van die wedstrydskeidsregter, Wendell Labrooy van Sri Lanka. Skermgreep, ICC-TV

Erasmus hoop momentum begin nou

Krieket
Tielman van Lill
Gerhard Erasmus was gister in Dubai ooglopend verlig om ná drie verloorwedstryde weer sy media-onderhoude as die wenkaptein te kon voer.

Sy Namibiese Eagles het twee waardevolle ligapunte in die ICC Wêreldbeker Liga 2-reeks bygevoeg deur Oman oortuigend met vyf paaltjies te klop.

“Dit was ’n moeilike toer en om eerlik te wees, het ons nie ons beste krieket gespeel nie. Ons het die afgelope maande ’n klomp T20-krieket gespeel en was dus waarskynlik nie behoorlik voorbereid op die taak om vir langer tye ons beste spelpeil vol te hou nie.

“In drie van ons vyf wedstryde het dit ons duur te staan gekom dat ons nie behoorlik op ons beste was nie, maar die twee kere wat ons dit vir langer tye reggekry het, was ons aan die wenkant.

“Ons is ietwat gelukkig om soos inbrekers met vier ligapunte uit dié toer te kan stap. Hierdie toer was goeie ervaring vir ons spelers wat redelik lanklas kompeterende eendagkrieket gespeel het. Hopelik kan ons nou momentum begin opbou en beter krieket begin speel en tydens die inkomende toere na Namibië druk op die ander spanne te plaas.”

Erasmus sê hy het gereken die teiken wat Oman opgestel het met 265/5 was ’n stewige een op dié kolfblad wat die hele dag gunstige aspekte vir die boulers gelewer het. “As kaptein is dit bevredigend dat ons kolwers hul hande opgesteek het.”

Die speler van die wedstryd-toekenning is aan Nicol Loftie-Eaton oorhandig, ná sy tweede vyftigtal in twee dae teen die Oman-boulaanval.

Loftie-Eaton was straks dié Eagles-speler wat sy aandele die meeste laat styg het op die toer na die Emirate. Nadat hy aanvanklik as kolwer nommer nege en bybreekbouler begin het, het hy as paaltjiewagter sy kant gebring toe Zane Green vanweë ’n besering huis toe gestuur is. Met sy bevordering op die kolflys tot nommer vier het hy ook verantwoordelikheid aanvaar met twee goeie vyftigtalle teen Oman – 73 lopies Maandag in Sjarjah, gevolg deur gister se 63 van 71 balle (vyf viere).

Vir Lohan Louwrens, wat ingevlieg is om gister die handskoene as paaltjiewagter by Green en Loftie-Eaton oor te neem, was gister ook ’n sukses toe hy in sy amptelike debuut in internasionale eendagkrieket drie vangskote benut het. As kolwer nommer drie het Louwrens 14 van 19 balle aangeteken.

Erasmus, wat net soos verlede jaar se T20 Wêreldbeker die toer voltooi het hoewel hy dieselfde regterringvinger opnuut gebreek het, het gister sy onteenseglike staal gewys met 48 lopies van 64 balle (twee viere, een ses). Sy vennootskap met Loftie-Eaton om die vierde paaltjie het 109 lopies opgelewer.

Namibië se kolfbeurt het ook die nodige laat hupstoot van JJ Smit (39 nie uit nie van 43 balle, 2x4 1x6) en David Wiese (48 nie uit nie van 41 balle, 2x4 2x6) gekry wat op 175/5 saam begin kolf het, maar die senuwees onder bedwang gehou het met ’n onoorwonne vennootskap wat ook die wenlopies meegebring het met 15 balle oor.

Tydens Oman se kolfbeurt was Jan Frylinck die beste van die Eagles se boulers, met 3/29 in sy tien boulbeurte – insluitend die paaltjie van hul toplopiemaker Shoaib Khan (86 van 103 balle).

Die ander Namibiese boulsyfers was: Ruben Trumpelmann 2/47 in 10, Wiese 0/46 in 6, JJ Smit 0/55 in 8, Tangeni Lungameni 0/42 in 8, Bernard Scholtz 0/43 in 8.

• Die 2019-2023-reeks se huidige puntestand: 1 Oman 36 punte (wen 17 uit 28 wedstryde). 2 Skotland 16 (wen 7 uit 12). 3 VAE 16 (7 uit 147). 4 Namibië 14 (7 uit 14). 5 VSA 14 (7 uit 16). 6 Nepal 8 (4 uit 8). 7 Papoea-Nieu-Guinee 0 (0 uit 12).

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!