• Tuisblad
  • Sport
  • Ernie: Kameraderie met Louis-hulle ‘verlore’

Ernie: Kameraderie met Louis-hulle ‘verlore’

Gholf
Cobus Claassen
Enkele dae nadat Suid-Afrika se voorste gholfspeler op die wêreldranglys, Dean Burmester, ook by LIV Golf aangesluit het, het Ernie Els gesê dié omstrede reeks het sy vriendskap met Louis Oosthuizen, Branden Grace en Charl Schwartzel vertroebel.

Els, wat vier majors in sy roemryke loopbaan gewen het, het aan die Palm Beach Post gesê hy het vrede gemaak met dié spelers se besluite om in die LIV-reeks te speel, maar dit het sy vriendskapsbande met hulle skade berokken.

“Ons het beslis daardie kameraderie tussen ons verloor. Ek is steeds vriende met hulle, maar dit is nou anders.”

Els sê hy het begrip vir die trio se besluite, maar wens hulle het eers met hom kom praat voordat hulle afstand gedoen het van hul lidmaatskap van die Amerikaanse PGA-reeks.

“Ek was teleurgesteld dat hulle my nooit vir my mening gevra het nie. Hulle was in my stigting en ek het hulle onder my vlerk geneem toe hulle juniors was.

“Daar was tye wat hulle saam met my gevlieg en in my huis gebly het. Ek het hulle sover moontlik gehelp om hul voete in die PGA-reeks te vind.

“Dit is gedoen (die spelers se verbintenis met die LIV-reeks) op ’n manier waarvan ek nie gehou het nie.”

Els het ook gesê sedert Oosthuizen-hulle verlede jaar by die nuwe reeks aangesluit het, het hy nie een hou van hulle gesien nie.

“Ek het in die verlede my bes probeer om hul vordering te volg, maar nie meer nie.”

Els het onthul dat hy ook aanvanklik deur LIV Golf genader is.

“Ek het destyds voorstelle gemaak, wat onder meer ingesluit het dat daar vennootskappe met die PGA-reeks en die Europese DP World-reeks gesluit moet word.

“Hulle het hulle nie aan my gesteur nie en het my vinnig die deur gewys. Die hele ding is verkeerd aangepak en hulle het die spel in die proses groot skade berokken.”

Veral Grace en Schwartzel, wat albei verlede jaar LIV-toernooie gewen het, het groot geld in die reeks se debuutseisoen gemaak.

Grace het in agt toernooie $16,6 miljoen (sowat R304 miljoen) verdien, wat meer is as sy prysgeld van $12,2 miljoen wat hy in 12 jaar in die PGA-reeks gekry het.

Schwartzel het self sy bankrekening met $8,1 miljoen aangevul. Hy het $20,9 miljoen in 18 jaar in die PGA-reeks gewen.

Die LIV-reeks word deur die openbare beleggingsfonds van Saoedi-Arabië gefinansier.

Oosthuizen, die Britse Ope-kampioen in 2010 en tot onlangs toe nog Suid-Afrika se voorste speler op die wêreldranglys, het tot die 77ste plek op die wêreldranglys uitgesak omdat LIV-spelers nie ranglyspunte in hul toernooie verdien nie.

Hy was aan die begin van 2022 nog 12de op die lys.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!