Finkeldey 'n baanbreker in VSA se yshokkie
Finkeldey se karakter 'n aanwins
Max Finkeldey se onbreekbare werksetiek en gesogte gestalte het vir hom die weg in Amerikaanse yshokkie gebaan.
’n Skuif wat volgens die Namibiese nasionale en Coastal Pirates-klubafrigter, Brian Sobel, nie veronderstel was om lewensvatbaar te wees nie, het sover suksesvol uitgewerk vir die 21-jarige hokkiespeler Max Finkeldey.
Dié jong Swakopmunder wat tevore as inlynskaatshokkiespeler tot op nasionale vlak gevorder het, het hom onlangs in die VSA tuisgemaak en moes daar in yshokkie sy voete vind. Nogtans blink hy reeds uit vir die Pennsylvania Huntsmen, ’n semi-professionele span in die plaaslike junior liga.
Die oënskynlike ooreenkomste tussen die twee sporte is volgens Sobel bedrieglik.
Sobel benadruk: “Dis twee verskillende sporte. Ons het ’n paar kinders nou al van Namibië na die VSA geskuif en ons kom agter dat hulle die sport vinniger snap omdat hulle die algemene konsep reeds begryp, maar dit is heel verskillende sportkodes. Die reëls is anders, die tellings werk anders en die tegnieke is anders. Al wat dieselfde is, is die toerusting.”
Finkeldey self sê ook die verskille tussen die twee sporte het hom onkant gevang. “Ek het gedink dit sal soortgelyk wees, maar dis glad nie dieselfde nie. Een van die groot verskille is dat jy nie in inlynskaatshokkie sywaarts kan beweeg nie, maar jy kan dit doen in yshokkie en dié bewegings is heel anders,” het hy gesê.
Finkeldey het in die vroeë 2010’s inlynskaatshokkie as ’n sport begin beoefen toe hy met sy gesin na Swakopmund verhuis het. “Ek was tot in daardie stadium eintlik meer geïnteresseerd in swem en tennis en het dit eintlik maar net begin speel omdat al my vriende in my nuwe skool dit gespeel het,” verduidelik hy.
Hy het vir die Coastal Pirates gespeel en is afgerig deur Sobel, wat hom aan die Pennsylvania Huntsmen voorgestel het.
“Ek sou nie sê dit was net my toedoen nie. Ek het wel nog kontakte in Amerika, maar Max is die een wat die werk ingesit het. Al daardie spanne soek ’n groot geboude speler wat langer as ses voet is... ’n groot ou wat vinnig kan beweeg en Max is daardie ou,” sê Sobel.
Dis egter nie net Finkeldey se blote gestalte wat hom kop en skouers laat uitstaan nie. Sy toewyding en deursettingsvermoë maak hom ’n waardevolle speler in enige span.
Sobel sê: “Ek reken wat Max laat uitstaan, is sy werksetiek. As jy vir hom sê om vyf te doen, doen hy ses. Alles wat hy doen, doen hy hard. Hy doen altyd ’n bietjie ekstra en hy is altyd ’n bietjie vroeg reeds op sy pos. Al werk dinge nie, leer hy uit sy foute en doen dit weer.”
Finkeldey se Amerikaanse eweknieë let glo ook op sy merkwaardige toewyding.
“Wat ons uit Amerika hoor, is dat dit oorspronklik vir hom ’n ramp was om op die ys te skaats, maar hy het sy werkvermoë ingespan en sy afrigters sê hulle het nog nooit iemand gesien wat soos hy werk nie. En die manier hoe hy in homself glo, veroorsaak dat hulle ook in hom glo,” sê Sobel.
Finkeldey glo sy sukses hang nie net af van die blink kant wat hy aan ander wys nie.
“Dit kos meer as dubbel die moeite, maar ek dink ek het myself al bewys. Dit verg beslis harde werk en toewyding, maar ek dink die belangrikste is wat jy doen wanneer niemand daar is nie. Baie mense kan wel dink dat jy net jou beste voetjie voor moet sit wanneer jou afrigters en spanmaats in die omte is, maar die verskil kom in wanneer jy alleen is,” deel Finkeldey.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie