Fitzpatrick: Frankryk gunsteling vir WB 2023
Rugby
Die laaste naweek van die Sesnasiesreeks – wanneer Frankryk met Engeland kragte meet – sal die volle verhaal vertel, maar soos sake tans lyk, is Sean Fitzpatrick van mening dat die Hane die gunsteling vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi is.
“Op spelpeil is hulle sonder twyfel tans die beste span ter wêreld,” sê die voormalige All Black-kaptein oor die Franse, wat ná drie rondes die enigste onoorwonne span in vanjaar se reeks is. Hulle moet nog teen Wallis (Vrydag) en Engeland (19 Maart) speel en sal kampioen wees as hulle albei wen.
“Ek hou baie van wat ek van die Franse in die Sesnasies sien. Hulle lyk fiks, georganiseerd en speel vir mekaar. Dan is hulle ook jonk, wat ’n belangrike komponent vir die pad vorentoe is.
“Kyk na spanne wat voorheen die WB-toernooi gewen het. Hulle het jong én ervare spelers gehad wat mekaar aangevul het, en ook diepte.”
Fitzpatrick (58), voorsitter van Laureus se wêreldsportakademie, sê die Franse is veral gedug omdat hulle vaste voorspelers het wat sterk baldraers is.
“Dis nou so ’n groot deel van die spel. Dan het hulle ongetwyfeld die beste skrumskakel in wêreldrugby (Antoine Dupont) en Romaine Ntamack (losskakel) raak met elke wedstryd beter. Daar’s ook ’n indrukwekkende middelveld en goeie agterste driehoek.”
Fitzpatrick plaas Ierland in dieselfde liga – ’n span wat goed georganiseerd is en die regte mengsel van jeug en ervaring het.
ENGELAND
Hy meen ook daar is verniet kommer dat Engeland besig is om die pad byster te raak.
“Ons sal eers bo alle twyfel sien hoe goed Frankryk is wanneer hulle in Parys teen Engeland speel,” sê hy.
“Eddie Jones (Engeland se afrigter) is ’n Australiër en Australië is die eerste nasie wat in siklusse tussen Wêreldbekers begin werk het. Hy het ná die WB-toernooi (van 2019) gesê dat hy ontslae gaan raak van die dooie hout.
“Ek dink hy het baie diepte. As jy kyk na die vaste voorspelers, veral die stutte, het ons met Kyle Sinkler (teen Wallis) gesien hoeveel beter hulle as die span is teen wie hulle gespeel het wat die dra van die bal betref. Dis belangrik om voorspelers te hê wat die bal kan dra,” sê Fitzpatrick.
Hy is ook optimisties oor die Bokke se kanse – gemeet aan wat hy van spelers in die Engelse Premierliga sien.
“Hulle het baie diepte, groot spelers en weet hoe om te wen. Hulle het ook ’n afrigter wat weet hoe om te wen,” sê Fitzpatrick voor hy ook ’n bietjie skerts.
“Is Rassie Erasmus steeds die afrigter? Ek weet nie. Hy is direkteur van rugby, of hoe?”
Dis onwaarskynlik dat die All Blacks volgende jaar se WB-toernooi, soos tradisioneel die geval is, as gunsteling sal ingaan en Fitzpatrick meen hulle is effens gekortwiek deur die Superreeks wat nie vir Nieu-Seeland se spelers sterk oorsese teenstand bied nie. Hy is egter nie pessimisties oor die Kiwi’s se kanse nie.
“Ek dink Ian Foster (die afrigter) is seker oor die koers wat hy inslaan,” sê hy.
“Nieu-Seeland werk tradisioneel nie in siklusse van vier jaar nie. Ons probeer elke jaar die sterkste moontlike span kies om die Rugbykampioenskap of enige toer te wen.
“Ons het ’n teleurstellende jaar agter die rug (nederlae teen Ierland, Frankryk en Suid-Afrika), maar talle jong spelers is aan toetsrugby blootgestel. Ek is gerus. Ons sal meer duidelikheid hê ná Julie se toetsreeks teen Ierland.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie