Frankryk oorleef teen brawe Namibiërs

Inlynhokkie
Ná 'n oorwinning teen die gasheerland is die jong Namibiërs gister naelskraap geklop.
Tielman Van Lill
Namibië se inlynskaatshokkiespan vir junior mans het Maandag sy aanslag by die wêreldkampioenskap in Buenos Aires, Argentinië, op uitstekende wyse afgeskop toe hulle die gasheerland met 4-1 in hul eerste groep A-wedstryd oorrompel het.

In die junior mansafdeling waar die kompetisie nog wawyd oop is, het die openingswedstryde Maandag die eerste indrukke gebied van wat in die res van die kompetisie en eindstryd kan voorlê.

Argentinië het hul tuisondersteuners met ’n vroeë doel deur Matías Pérez teen Namibië laat juig van die plesier.

Vroeg in die tweede helfte het Namibië egter teruggeslaan toe Josua Zeferinu ’n strafdoelkans vir ’n pootjie teen Ignacio Romero van Argentinië benut het om die telling met 1-1 gelykop te maak.

Keanan Simpson het die voordeel met 2-1 in Namibië se guns geswaai en daarna het Namibië die res van die wedstryd oorheers en nog twee doele geslaan om ’n 4-1-oorwinning te behaal.

TEEN FRANKRYK

Gistermiddag se stryd teen Frankryk by die Parque Olímpico-paviljoen was egter nie so ’n maklike dag op kantoor vir die Namibiërs nie, toe hulle broekskeur met 7-6 die knie moes buig.

Hoewel Valerik Hilbert met die ondersteuning van Keanan Simpson dié wedstryd se eerste doel binne 2 minute 50 sekondes van die eerste helfte aangeteken het, het Damien Monteux vyf minute later vir Frankryk gelyk gemaak. Paul Mesona Martin swaai dit ná 15 minute met 2-1 in die Franse se guns.

Namibië se Henning Schulze (17 minute) gee sy span hoop toe hy die telling 2-elk maak. Carraz Florent en Labreux Yon se treffers vergroot Frankryk se voorsprong ná 17 en 19 minute onderskeidelik tot 4-2 met rustyd.

In die tweede helfte klop Damien Monteux (ses minute) eerste die Namibiese verdediging (5-2). Julian Dedig en Simpson veg verbete en teken twee agtereenvolgende doele (ná 9 en 11 minute) aan om die Franse met 5-4 senuagtig te maak.

Nathan Jeanmart (12 minute) en Emile Dupuis (17 minute) het egter die laaste sê om met 7-4 voor te loop. Simpson teken Namibië se laaste twee doele ná 18 en 19 minute aan, maar die stophorlosie verhoed die Namibiërs om nog ’n doel vir ’n gelykopuitslag te bewerkstellig.

In groep A is Namibië na dese derde met drie punte, terwyl Frankryk (6 punte) en Tsjetsjnië (6) onderskeidelik die eerste en tweede posisies beklee. Frankryk se doelverskil is 17 en dié van Tsjetsjnië is 7.

Argentinië (0) is vierde gevolg deur Korea (0) laaste. Die lande het elk twee wedstryde agter die rug. Namibië pak Korea vandag om 14:30 (Namibiese tyd).

– www.worldskate.org

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!