Stephen Nell
Stephen Nell

Frans Steyn dalk losskakel in Durban

Rugby
Stephen Nell
In die vroeë jare van sy loopbaan is baie gepraat oor Frans Steyn as ’n moontlike Springbok-losskakel, maar daar is uiteindelik tot die slotsom gekom dat hy elders in die agterlyn beter aangewend kan word.

Nietemin is daar ’n kans dat Steyn, nou ’n 35-jarige in die skemer van sy loopbaan, in Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen Argentinië op Kingspark in Durban die nr. 10-trui sal dra.

Dít nadat Damian Willemse ’n besering opgedoen het in die afgelope naweek se oorwinning van 36-20 oor die Poemas in Buenos Aires.

Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, kon nie onmiddellik ná die wedstryd antwoorde verskaf oor die aard of erns van Willemse se besering nie. Hy behoort Maandag meer duidelikheid te hê en is op hete kole voor ’n wedstryd wat sal bepaal of die Bokke as kampioen gekroon word al dan nie.

Steyn sal ná Willemse die Bokke se vierde keuse wees. Handré Pollard is beseer en Elton Jantjies se persoonlike omstandighede maak hom nie ’n haalbare opsie nie.

Die Bok-keurders het Manie Libbok (Stormers), Jordan Hendrikse (Leeus) en Chris Smith (Bulle) se goeie spel in verlede seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) oor die hoof gesien.

Johan Goosen sal met sy terugkeer van ’n langtermyn-kniebesering ook nog ’n paar wedstryde vir die Bulle moet speel alvorens hy as ’n ernstige aanspraakmaker beskou kan word.

Tensy Willemse betyds herstel, dui alles dus daarop dat Steyn sy lyf generaal sal moet hou in ’n wedstryd wat op ’n eindstryd neerkom. Die een voordeel is dat die Bokke van die afskop af beter daaraan toe sal wees wat stelskopwerk betref.

Hulle sal Saterdag teen middagete ook reeds presies weet wat hulle te doen staan aangesien die All Blacks en Wallabies die oggend (SA tyd) reeds in Auckland slaags is.

In hierdie stadium is dit slegs ’n punteverskil van 13 wat die All Blacks bo die Bokke plaas op die puntelys. Albei spanne het 14 ligapunte.

Nienaber het elke rede om optimisties te wees ná ’n bonuspuntsege in Argentinië. Die Bokke het wipplank gery – hulle was teen rustyd met 22-6 voor, maar die voorsprong het tot twee punte gekrimp danksy skitterspel deur die Poemas. Damian de Allende en Malcolm Marx het egter diep in die wedstryd drieë gedruk om sake bo alle twyfel te plaas.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!