Franse Ope: Novak? Rafa? Of dalk selfs Carlos?

Tennis
Fanie Heyns
Carlos Alcaraz het weliswaar nog nie die Grand Slam-geheim van die Drie Grotes ontrafel nie, maar sy temperament vir die groot oomblik is amper ongeëwenaard.

Daarom is hy die naasgunsteling om die Franse Ope te wen, wat gister in Parys begin het.

“Die drie grotes, Rafael Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic, het onderskeidelik 21, 20 en 20 Grand Slam-titels gewen. Dis deels omdat hulle in die eerste week van ’n groot toernooi selde vasgevang geraak het in uitmergelende vyfstel-marathons,” sê die voormalige Wimbledon-finalis Kevin Curren.

“Hulle was gevolglik geestelik en fisiek vars oor die laaste paar dae van daardie toernooie.”

Die tenniskommentator Robbie Koenig stem saam.

“Alcaraz ken dalk nog nie daardie geheim nie. Op 19 is sy temperament vir die groot oomblik nietemin amper die beste in die beroepsreeks. Hy het in sy loopbaan 11 keer aangetree in valbylpotte van die finale stel. Hy het tien daarvan gewen.”

Alcaraz slaan sy grondhoue teen 150 km/h, straks die hardste in die ATP-beroepsreeks. Sy fenomenale valhoue word selde beantwoord. Sy vlughoue is uitsonderlik. En hy beweeg soos ’n super-atleet.

Djokovic het reeds gesê Alcaraz is “sonder twyfel” ’n gunsteling om die trofee op 5 Junie te lig.

Stefanos Tsitsipas, vierde gekeur, stem saam. Nadal het Alcaraz reeds geoormerk om talle Grand Slam-titels te wen en die wêreld se voorste gekeurde speler te word.

Mark Woodforde, wenner van 17 Grand Slam-dubbelspeltitels, sê aan Rapport Nadal se lengte van 1,85 m werp ’n reuse-skaduwee oor elke ander Spanjaard. Maar nie oor Alcaraz nie.

“Hy is jonger, vinniger, slaan die bal harder as Nadal en word nie geïntimideer deur Rafa nie.”

Alcaraz se afrigter, Juan Carlos Ferrero, sal nietemin wil werk maak van sy leerling se irriterende gewoonte om ritse ongedwonge foute te begaan.

Hy het in twee stelle teen Cameron Norrie in Madrid 39 van hulle gepleeg. Teen Djokovic in dieselfde toernooi het Alcaraz 57 ongedwonge foute gemaak. Tot sy krediet het die Spanjaard wel al twee daardie kragmetings gewen.

“Moenie ’n groot kampioen soos Rafa minag nie. Hoe langer hy in die toernooi bly en in hoe meer wedstryde hy speel, hoe groter raak sy bedreiging,” sê Woodforde egter.

NADAL SE REKORD

Nadal het ’n verstommende wenrekord van 105 teenoor drie by Roland Garros. Sy beseerde linkervoet en ook die loting laat wel vrae oor hom ontstaan.

Hy is geloot om Djokovic, die gunsteling, in die kwarteindronde te pak.

Skraap hy daar deur, speel hy teen Alcaraz. Die jong Spanjaard moet op sy beurt vir Alexander Zverev, die derde gekeurde, in die kwarteindronde pak.

Alcaraz het die Duitser egter in hul vorige ontmoeting in Madrid minagtend met 6-3, 6-1 uit die pad gevee.

Die 13-malige Roland Garros-titelhouer Nadal bly die een man wat, indien die pyn wegbly, selfs uitdagers soos Djokovic en Alcaraz kan oorkom.

Sy wedstrydplan om met ’n hoë persentasie eerste afslane te slaag en sy formidabele voorarmhoue vroeg in die houeverwisselings werk dikwels briljant.

Dit was juis daardie taktiese benadering waarmee hy Djokovic in ’n eensydige eindstryd in 2020 met 6-0, 6-2, 7-5 geklop het.

Woodforde beskou Djokovic, die verdedigende kampioen, nietemin as die gunsteling om sy 21ste Grand Slam-titel in te oes.

“Novak het sedert die Australiese Ope iets om aan die tenniswêreld te bewys. Hy is besig om sy selfvertroue te herwin. Sy motivering is om Rafa se rekord van 21 Grand Slam-titels verby te steek. Soos Alcaraz is hy nie gepla deur Rafa nie. En hy het pas die titel in Rome ingeoes.”

Koenig sê Alcaraz het Djokovic wel in Madrid geklop. “Nole” was egter in daardie halfeindstryd binne bereik van ’n sege in skoon stelle en daarom verwag Koenig dat hy weer koning gaan kraai op Roland Garros.

Tsitsipas het die maklikste loting van die ses voorste gekeurde manspelers. Hy pak die onbesonge Casper Ruud in die kwarteindronde indien sake volgens die loting verloop. Die tweede gekeurde Daniil Medvedev wink in die halfeindronde, maar hy is geen kleibaan-spesialis nie.

Woodforde beskou Tsitsipas se handrug-kerfhou as die mees onderskatte hou in manstennis.

Tsitsipas besef egter nie die waarde daarvan nie. Hy gebruik hardnekkig sy boarm-handrughou en begaan dan baie foute daarmee. As hy egter met daardie snyhou volhard, kan dit dividende lewer, volgens Woodforde.

Zverev is nie ’n gunsteling nie. Sy grootste swakheid is dat hy geestelik kwesbaar is.

Nadal het die afgelope dekade sewe titels op Roland Garros ingeoes en Djokovic was ses keer in daardie tydperk ’n finalis. Hy het twee keer die wennerstoespraak gelewer.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.87 | EUR to NAD 19.17 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.16 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.64 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.49 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.16 | USD to ZMW 26.3 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1845.32 Up +0.73% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14193.3 Down -0.53% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 30871.1 Down -0.49% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9651.25 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 660.15/OZ UP +0.07% | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.009 | Zinc US$ 3 012.80/T DOWN -0.12% | Brent Crude Oil US$ 73.99/BBP DOWN -0.0163 | Platinum US$ 989.11/OZ UP +0.08% #N/A