Geen geld, geen onderhoud

Water, krag afgesny
Die huisves van strydkinders en haweloses by die Katutura-sportkompleks is 'n 'reuse-uitdaging' – en waarom word sportgeriewe nie ingesluit wanneer nuwe skole gebou word nie?
Henriette Lamprecht
Die ministerie van sport, jeug en nasionale diens het vir die huidige finansiële jaar (2021-‘22) net N$3 miljoen gekry waarmee elf openbare sportgeriewe, 13 jeug- en hulpbronsentrums en 42 personeelkwartiere landwyd in stand gehou moet word.

Weens die konstante gebrek aan fondse en ’n begroting wat ver te kort skiet, gebeur dit gereeld dat geen water of krag by sportgeriewe beskikbaar is nie omdat dit weens wanbetaling afgesny is. Dit beteken onder meer besproeiingspompe en tuinslange is nutteloos, wat die onderhoud van grasvelde onmoontlik maak.

Sommige plaaslike owerhede vorder ook tot dubbeld die normale koste vir munisipale tariewe en belasting in.

Die minister van sport, jeug en nasionale diens, me. Agnes Tjongarero, het in die Nasionale Vergadering gereageer op ’n mosie van mnr. Johannes Martin van die PDM oor die stand van sport in Namibië.

Tjongarero het verwys na die tekort aan menslike hulpbronne om sportgeriewe te onderhou. Sy het verwys na ’n opdrag van die Staatsdienskommissie dat die regering se salarisrekening in toom gehou moet word.

“Dit maak dit vir die ministerie moeilik om sleutelpersoneel in diens te neem om die lewering van gehalte diens te verseker. Dit sluit die onderhoud van sportgeriewe in. Die gevolg is dat verskeie geriewe geen personeel vir onderhoud het nie,” het die minister verduidelik.

Volgens haar is daar ook ’n gebrek aan koördinering tussen rolspelers wat die verantwoordelikheid deel vir die onderhoud van sportgeriewe, soos wat deur ’n kabinetsbesluit van 1991 bepaal is.

Tjongarero het ook verwys na die huisves van strydkinders en haweloses by die Katutura-sportkompleks wat sy as ’n “reuse-uitdaging” beskryf het.

“Daar is vandalisme en misbruik van water en krag. In hierdie stadium kan die ministerie geen onderhoud hier doen nie.”

Die minister sê plaaslike owerhede verkoop ook grond waarop sportgeriewe gebou is, sonder om in ag te neem wat die vervangingskoste van sulke geriewe is óf die negatiewe impak wat dit op die sportbehoeftes van ’n gemeenskap het.

Sy het verwys na die plaaslike owerhede in Opuwo en Katima Mulilo wat ná “eensydige besluite” die grond waarop sportgeriewe was, aan beleggers verkoop het.

BELOFTES EN MOONTLIKHEDE Op ’n meer positiewe noot het Tjongarero gesê die minister van finansies het N$50 miljoen vir die komende finansiële jaar vir die opgradering van die Onafhanklikheidstadium beloof.

Hoewel sy erken het daar is “massiewe uitdagings” om te verseker openbare sportgeriewe word onderhou en opgradeer tot die standaard “wat ons almal wil sien”, het sy beklemtoon haar ministerie bly tot hul mandaat verbind.

Tjongarero sê die ministerie ondersoek die moontlikheid van hervormings in die gevestigde benadering tot die onderhoud van openbare sportgeriewe. Alternatiewe maniere soos vennootskappe tussen die staat en private vennote, sowel as voorlopige ooreenkomste met plaaslike owerhede word oorweeg.

“Ons bestudeer ook tans hoe ander lande die kwessie benader. In Kenia is byvoorbeeld ’n openbare onderneming wat die volle mandaat het vir die ontwikkeling, onderhoud en bemarking van openbare sportgeriewe.”

VOORSTELLE EN UITWYSINGS Die PDM-lid mnr. Johannes Martin het in sy mosie gesê die gebrek aan finansiële steun en fondse wys dat sport nie ’n prioriteit vir die Swapo-regering is nie. Martin sê geen omvattende strategie vir sportontwikkeling in die land is in plek nie.

“Die Nasionale Beplanningskommissie wat verantwoordelik is vir ’n ontwikkelingsraamwerk vir die land, het geen raamwerk vir sport nie,” het hy gesê.

Martin sê die land word geteister deur ’n “chroniese oorvloed van kwessies” wat wissel van ’n leierskapkrisis, die afwesigheid van sportnavorsers sowel as ’n gepaste bemarkingsplan.

Sedert onafhanklikwording het die regering volgens hom skole gebou wat nie sportvriendelik is en oor geen pawiljoen, atletiekbaan, sokker- of rugbyveld beskik nie.

Stedelike ontwerpers moet volgens Martin dié behoefte erken en infrastruktuur vir sport deel van hul raamwerk vir die beplanning van van stede en dorpe maak.

Hy het namens die PDM voorgestel die land ontwikkel ’n finansieringsprogram om die kapasiteit van die Namibiese Sportkommissie (NSC) vir sportontwikkeling te verbeter. Die NSC moet ook ’n welsynsorganisasie registreer om professionele kapasiteit in die ontwikkeling van talent, strategiese beplanning en die organisering van sportgeleenthede te verhoog.

Met verwysing na stadions sê Martin elke streek behoort minstens een “semi-standaard” stadion te bou met die wat binne die kort- of mediumtermyn tot wêreldstandaard uitgebrei kan word.

“Byna 32 jaar ná onafhanklikwording kan Namibië nie eens ’n internasionale sportwedstryd aanbied nie. Ons het geen enkele stadion om ’n kontinentale sokkerwedstryd aan te bied nie,” het hy gesê.

Martin stel ook voor die ministerie word gedesentraliseer, die Sportwet word dringend herevalueer, die begroting moet hersien en sport moet ’n groter hap kry en ’n parlementêre staande komitee vir sport moet gevestig word.

Die PDM wil ook hê sporthelde wat veral op die wêreldverhoog presteer, moet met die vernoeming van strate, kliniek en selfs woonbuurte vereer word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer