Die Mouton-familie: Deon, Alanzo, Nicholene,
Shaun en Gerswin. FOTO VERSKAF
Die Mouton-familie: Deon, Alanzo, Nicholene, Shaun en Gerswin. FOTO VERSKAF

Gerswin verruil Namibië vir Frankryk

Boet Matthews
Boet Matthews - Hy is een van vele jong sportmanne wat in staat is om sy doelwitte te bereik met die rol wat hy op die rugbyveld vertolk en waarmee hy sy pad vorentoe oopspeel.

Gerswin Mouton is ’n 24-jarige vleuel wat dinge laat gebeur en opspraak gewek het met die vinnigste drie by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk verlede jaar. En dit tydens Namibië se laaste wedstryd van die toernooi teen Uruguay. Die vyf punte is behaal tydens ’n lynstaan waar Gerswin ’n aangee onderskep en sy hakskene vir opponente gewys het om sy tweede drie van die toernooi te gaan druk. Sy eerste drie was teen die gedugte Italiaanse kombinasie ná ’n paar goeie aangeë deur die Namibiese vyftiental.

Gerswin het ’n sleutelrol tydens die kwalifiserende rondes van die 2023 Wêreldbekertoernooi in Frankryk gespeel.

Hy het selfs ’n pragdrie teen Zimbabwe gedruk waar hy verby verskeie van sy opponente gehardloop het.

Ná die toernooi het hy ’n aanbod van die Tel Aviv-rugbyklub aanvaar en vir drie maande daar gespeel, voor hy einde Desember terug op Rehoboth was en gewag het op ’n aanbod om sy potensiaal verder bloot te stel.

“Die gewag was senutergend, maar ek was oortuig dat my

gebede en drome verwesenlik sou word om in die buiteland te speel.

“Die antwoord waarop ek gewag het, het gekom toe my agent vra: ‘Is jy gereed om Sondag op die vliegtuig te klim, daar is ’n aanbod om in Frankryk te gaan speel?’

“Ek was opgewonde, want dit is by een van die voorste klubs by wie ek nou aansluit. Die klub FC Grenoble speel in die PRO D2 Liga. Hulle het in die finaal teen Vannes die knie met 16-9 gebuig.

“Daarna was daar nog ’n geleentheid om op te skuif na die top-14-liga waar groot name soos Siya Kolisi hul potensiaal blootstel. FC Grenoble het in die uitspeelwedstryd aan die verloorkant klaargemaak toe Montpellier in die doodsnikke met ’n strafskop geslaag het om naelskraap met 20-18 aan die wenkant te eindig,” vertel Gershwin.

Tydens sy skoolloopbaan in Namibië het hy vir die Laerskool Origo uitgedraf, daarna vir Dr. Lemmer en toe geskuif na Windhoek Affies meer bekend as die Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP).

Op skool het hy as losskakel sy talent blootgestel en daarna by die gewilde Cravenweek-toernooi het hy as senter die wenkbroue laat lig.

Rugbykenners was taamlik beïndruk met die jongman se talent en hy is genader om by die Blou Bulle aan te sluit.

Republikein wou weet hoe hy gevoel het toe hy deur die kenners van die Blou Bulle genader is om in hul kleure op te draf in die o.19 Curriebeker-reeks.

“As jongman was dit soos ’n droom wat waar geword het tot jy besef dis nie so maklik soos wat jy gedink het nie. Daarna het ek oorgeskuif na Wits Universiteit om in die Universiteitsbekertoernooi mee te ding. Ek het my drie jaar as student aansienlik geniet.”

Gerswin het benadruk dat verlede jaar se

Wêreldbekertoernooi ’n bedekte seën tot rugby was om teen groot name te kan speel.

“Dit was waarlik ’n groot voorreg om my land op rugby se hoogste vlak te verteenwoordig. Ek glo hier is baie talent wat met harde werk en goeie dissipline hul merk op internasionale vlak kan maak.”

Gerswin se pa, Deon Mouton, is ’n erkende rugbyghoeroe in Namibië en op Rehoboth waar hy vir Reho Falcon opgedraf het. Hy het self in drie Wêreldbekertoernooie as vleuel gespeel, maar kon geen punte soos sy seun Gerswin aanteken nie.

Met kies in die tong het Deon gesê: “Rugby was destyds kliphard gespeel en kanse om punte aan te teken was baie moeilik.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!