Die bokser Gervonta Davis. Foto Broward County Sheriff’s Office
Die bokser Gervonta Davis. Foto Broward County Sheriff’s Office

Gervonta Davis in aanhouding 12 dae voor geveg

Boks
Die onoorwonne Amerikaanse bokser Gervonta Davis is Dinsdag in Florida in hegtenis geneem en in aanhouding op ’n klag van gesinsgeweld, berig die boksjoernalis Dan Rafael.

Die 28-jarige Davis, wat deur verskeie ander regskwessies in die gesig gestaar word, is geskeduleer om op 7 Januarie sy “gewone” liggewigtitel van die Wêreldboksvereniging (WBA) teen die junior liggewig-titelhouer Hector Luis Garcia in Washington, D.C. te verdedig.

Of die geveg vanweë sy arrestasie gekanselleer sal moet word, moet nog bevestig word.

Davis, wat in Miami in ’n oefenkamp vir dié geveg is, was vroeg Woensdag nog in aanhouding sonder borgtog, volgens die aanlyn rekords van die Broward County Sheriff's Department.

Volgens die webwerf is Davis aangekla van aanranding wat liggaamlike besering veroorsaak het in ’n voorval wat die polisie as gesinsgeweld geklassifiseer het. Geen ander besonderhede is beskikbaar gestel nie.

Davis is in Februarie 2020 in Coral Gables, Florida, van huishoudelike geweld aangekla ná ’n voorval met die ma van sy dogter by ’n liefdadigheidsbasketbalwedstryd. Die voorval is vasgevang op ’n 14-sekonde-selfoonvideo wat op sosiale media versprei is. Dit is onduidelik of die vrou in die 2020-voorval betrokke was by die beweerde voorval waarvoor Davis Dinsdag in hegtenis geneem is.

Davis se kamp moet nie net die nadraai van Dinsdag se inhegtenisneming hanteer nie, maar hy word ook vanaf 16 Februarie in sy tuisdorp Baltimore verhoor op 14 aanklagte wat verband hou met ’n beweerde tref-en-trap-ongeluk in die vroeë oggendure van 5 November 2020 wat vier mense beseer het. Indien Davis skuldig bevind word, staar ’n maksimum van 50 maande tronkstraf hom in die gesig.

Davis (27-0, met 25 uitklophoue), wat sy titel die vierde keer teen die Dominikaanse Republiek se 31-jarige Garcia (16-0, 10 uitklophoue) moet verdedig, het die geveg vasgeknoop ondanks die feit dat hy reeds ingestem het tot ’n mega-geveg op 15 April in Las Vegas teen Ryan Garcia.

– https://danrafael.substack.com

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer