Geskorste stut mag weer speel

Rugby
Andrew Poolman
’n Skorsing vir drie maande vir die Namibiese loskopstut Desiderius Sethie is uitgedien en hy mag dus na die speelveld terugkeer.

Die 30-jarige gebore Walvisbaaier het op 1 Julie vanjaar ’n toets vir verbode middels ondergaan, terwyl hy saam met die Namibiese span in Frankryk was vir Rugby Afrika se kwalifiserende toernooi vir die 2023 Wêreldbeker.

’n Urinemonster wat vir ontleding na ’n laboratorium in Parys gestuur is, het die teenwoordigheid van Indapamide uitgewys. Dié middel wat onder meer teen hoë bloeddruk en hipertensie gebruik word, is op die wêreldagentskap teen verbode middels (WADA) se lys vir 2022 omdat dit die teenwoordigheid van ander verbode middels kan verdoesel.

In ’n uiteensettende verklaring op Wêreldrugby se webblad KeepRugbyClean word dit gestel dat Sethie nie oor ’n vrywaring vir terapeutiese gebruik (TUE) ter behandeling van ’n mediese toestand beskik het nie.

Sethie is op 25 Julie oor die positiewe utslag ingelig en het op 12 Augustus ’n verduideliking ingedien waarin hy ‘nn oortreding van die regulasies erken het. Volgens hom het hy Indapamide onder die toesig van ’n gesinsdokter ingeneem vir behandeling van ’n mediese toestand sonder ’n TUE. Hy het geen voorneme gehad om sy sportprestasie hierdeur te verbeter nie en was ook nie bewus dat die voorgeskrewe medikasie ’n verbode middel bevat nie.

“Hoewel hy ’n internasionale speler is wat opleiding oor verbode middels ontvang het, het hy geen stappe gedoen om die medikasie se verbode status te verifieer nie en het ook nie om ’n TUE aansoek gedoen soos hy moes nie. Die speler kom nie in aanmerking om terugwerkend om ’n TUE aansoek te doen nie,” skryf Wêreldrugby in sy verklaring.

“Met deeglike oorweging van die verduideliking, beskou Wêreldrugby die oortreding nie as doelbewus nie, maar die speler dra nogtans ’n mate van aanspreeklikheid.”

Wêreldrugby het Sethie dus ’n skorsing van drie maande opgelê. Soortgelyke gevalle se strawwe kan wissel tussen twee jaar of ’n blote waarskuwing sonder enige skorsingsperiode.

Die speler het op 1 November sy ondertekende vorm vir die aanvaarding van die voorgestelde gevolge ingedien. Sy skorsingsperiode het vanaf 25 Julie 2022 tot 24 Oktober 2022 gestrek.

Sethie het gevolglik sedert Namibië se Julie-toer na Frankryk geen rugby gespeel nie; ook nie vir sy klub FNB Universiteit van Namibië nie.

Die oudskolier van Walvisbaai Privaat Hoërskool wat in 2010 die o.18 Cravenweekspan gehaal het, was ’n lid van Namibië se Wêreldbekergroep na Japan in 2019. Sethie het sy toetsdebuut onder afrigter Phil Davies in Julie 2017 teen Tunisië gemaak en die laaste van sy 14 toetse was op 1 Julie vanjaar teen Burkina Faso in Marseilles.

Tydens sy onlangse afwesigheid, wat ook aan ’n kniebesering toegeskryf is, het loskopstutte soos Herschell van Wyk en Jason Benade kans gekry om in toetse die nommer 1-trui hul eie te maak.

• Die koerant het Sethie om bykomende kommentaar genader. Hy het geantwoord dat, ná oorleg met die Namibië Rugby-unie, ’n gesamentlike verklaring teen Vrydag uitgereik sal word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!