Gillies nie meegevoer ná wegholsege

Hokkie
Tielman Van Lill
’n Oorwinning met dubbelsyfers in Harare is ’n puik begin, maar dit was nie eenrigtingverkeer vir afrigter Melissa Gillies se MTC Namibiese vrouehokkiespan nie, nadat Malawi met tye hardnekkig verdedig het.

Die nasionale senior vroueveldhokkiespan het gistermiddag hul openingswedstryd in Harare, Zimbabwe, by die St. Johns-kunsgrasveld met 11-0 teen Malawi beklink.

Malawi, met twee 17-jariges in sy span, het veral op verdediging goeie rekenskap van hulself gegee. Op die aanval het dit egter nooit gelyk of hulle ’n doel gaan behaal nie. Hulle het gesukkel om balbesit te behou en hul hanteerwerk was maar gebrekkig.

Oorywerigheid het Namibië heel moontlik ’n paar doele gekos en die span het aan die begin gesukkel om van korthoeke af doele aan te teken. Namibië het die vierde kwart soos ’n orkaan getref, etlike korthoeke bewerkstellig en seker ’n dosyn doelkanse verspeel met net ’n enkele treffer om vir hul moeite te wys.

Gillies, hoofafrigter van Namibië, het agterna aan die koerant gesê: “Ek is ingenome met die uitslag. Dis lekker om ons eerste wedstryd met ’n goeie telling in te palm.

“Ek dink daar is egter opknappingswerk om te doen. Ons spelpatroon en strukture was stewig genoeg, maar ons spoed met die bal moet verhoog.

“Malawi was baie lank uit internasionale hokkie – iets soos 53 jaar. Hulle is ’n opkomende nasie met ontwikkeling in die sport wat tans plaasvind. Hulle het hard probeer en was ’n vurige teenstander tot die laaste sekonde van die wedstryd.

“Die tweede en derde kwarte was ’n goeie tydperk vir ons met uitstekende en aanskoulike spel van Namibië. Ek dink die spelers het die gapings uitstekend gevind en verskeie spelers het doele behaal. Vir my was dit ’n soliede spanpoging.”

Namibië sluit die eerste kwart met 3-0 af, die tweede kwart op 6-0, die derde kwart op 10-0 en die laaste kwart met 11-0 vir die eindtelling.

Namibië se doele is deur Tisha Semedo (5de en 28ste minute), Kaela Schimming (7 minute), Jaime Gillies (14 en 20 minute), Jivanka Kruger (30 minute), Tara Myburgh (32 en 42 minute), Anthea Coetzee (34 en 39 minute) en Azaylee Philander (55 minute) opgestapel.

• Zimbabwe, die derde aanspraakmaker in die driehoekige vrouetoernooi ter kwalifisering vir die 2023 Afrikaspele, kry vandag om 16:00 sy eerste speelkans teen Namibië. Wedstryde word regstreeks op die YouTube-kanaal van Sand Sport gebeeldsend.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!