• Tuisblad
  • Sport
  • Gimmies druk vier drieë, wen eerste toerwedstryd
Die Windhoek Gimnasium Leeus en die tweede span van Paul Roos Gimnasium. Foto verskaf
Die Windhoek Gimnasium Leeus en die tweede span van Paul Roos Gimnasium. Foto verskaf

Gimmies druk vier drieë, wen eerste toerwedstryd

Skolerugby
Andrew Poolman
Curro Windhoek Gimnasium se eerste rugbyspan, die Leeus, het hul toer in Kaapstad, Donderdag met ’n puik oorwinning van 28-12 teen Paul Roos Gimnasium se o.19B-span afgeskop. Sterk skrumwerk, wat onder meer vier vaskoppe opgelewer het, en veral die opwindende agterlynspel was kenmerkend van die vertoning van Gimnasium, wat voorberei om vanjaar sy titel in die Standard Bank Premierliga te verdedig. Die flank Zack von Wielligh (2), agtsteman en kaptein Janneman Brand en linkervleuel Carlo Hawanga het die toerspan se drieë gedruk, waarvan losskakel JW Visagie met al vier die doelskoppe geslaag het. “Ons agttal was ’n bietjie kleiner as die opposisie en in die eerste helfte het ons ook teen die sterk wind gespeel, maar ons het dit reggekry om op die telbord voor te loop,” sê Mauritz Thirion, hulpafrigter. “Ná rustyd het ons die wind doeltreffend gebruik om uiteindelik met ’n meer gemaklike voorsprong te wen. “Ongelukkig het ons heelagter Jandre van Zyl ’n besering opgedoen wat ons nou by die hospitaal laat deurkyk het. Hy het darem niks gebreek nie, maar hy sal nie vir die volgende twee weke kan speel nie.” Gimnasium se eerste span teen Paul Roos was: 1 Otja Auala, 2 Hendré Schrader, 3 Herman Gouws, 4 Handre Visser, 5 Zander le Roux, 6 Zack von Wielligh, 7 Roché Brand, 8 Janneman Brand (kaptein), 9 Denver Beukes, 10 JW Visagie, 11 Carlo Hawanga, 12 Stefan Gildenhuys (onderkaptein), 13 Waldré Kotze, 14 Suramie Kambombo, 15 Jandre van Zyl. Reserwes: 16 Kyle van Wyk, 17 Daniel du Toit, 18 Rudolph Harmse, 19 Hafeni Mungungu, 20 Vincent Scholtz, 21 Hento Henning, 22 Jan Daniël de Villiers, 23 Janco Bredenhann. • Gimnasium se onder 14-span wen 21-12 teen Paul Roos se o.14C-span. Die Windhoekers se o.15A-toerspan wen 26-14 teen die gasheerskool se o.15C-span. • Komende Saterdag: Windhoek Gimnasium o.19B teen Hoër Jonge Skool Paarl o.19E. Windhoek Gimnasium o.19A teen Rondebosch Boys’ High School o.19B. Windhoek Gimnasium o.15A teen Hopefield o.15A. Windhoek Gimnasium o.14A teen Bishops o.14B. • Janneman Brand senior is weer hoofafrigter van die eerste span, met Mauritz Thirion hulpafrigter/agterlynafrigter. Die o.19 tweede span word afgerig deur Abrie Myburgh (voorspelers) en Jannie de Beer (agterlyn).

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer