Gimmies vaar indrukwekkend in Kaap

Hokkie
Curro Windhoek Gimnasium se o.19 eerste hokkiespanne, beide die seuns en meisies, het uitmuntend presteer by die pas afgelope Belgotex Fairmont Paastoernooi in Kaapstad.

Die seunspan wat die afrigter en gewese nasionale speler Siyabonga Martins oor die afgelope twee jaar opgebou het, het sake gedomineer totdat hulle eers in die eindstryd naelskraap geklop is.

Gimnasium se seuns het hul groepwedstryde onoorwonne afgesluit – met Owen Hatton (reeds ’n lid van die nasionale senior span) wat vier kere as speler van die wedstryd aangewys is.

Die vyf oorwinnings teen Worcester Gimnasium (4-1), Durbanville High (3-0), Fairmont High (1-0), Pinelands High (3-2) en Hoërskool Hermanus (6-2) het die toerspan tot in die semifinaal laat vorder, waar hulle hard moes werk om Pearson High in die valbyl met 4-3 uit te skakel.

Die eindstryd teen Paarl Gimnasium het deurgaans uitstekende spel opgelewer en spannend verloop voordat die Kaapse spogskool eindelik met ’n laat wendoel die 3-2 uitslag beklink het.

Windhoek Gimnasium se Kieron Christ is as die speler van die eindstryd aangewys.

Die seunspan se silwermedaljes uit 24 skole wat meegeding het, was ’n puik en geskiedkundige prestasie vir die skool se hokkie.

Zander Smith (bynaam The Mountain Smith) is boonop as die beste doelwagter in die toernooi aangewys.

Ses van die Windhoek Gimmies is vir die “Span van die toernooi” gekies en sal inderdaad kans kry om in September/ Oktober ’n toer na België en Nederland mee te maak. Die sestal is die spankaptein Thomas Theron, Chase Landrey, Christian Collard, Owen Hatton, Jack Fourie en Kieron Christ.

Die skool het sy trots en waardering uitgespreek vir die leierskap en toegewyde harde werk van afrigter Siyabonga Martins, spanbestuurder Jeanie Rabie en die seunspan.

Melding is ook gemaak van die Kaapse kommentators se verwysing na “Windhoek brood maak ysters groot”.

MEISIESPAN

Windhoek Gimnasium se eerste meisiespan het by dieselfde Belgotex Fairmont Paastoernooi ook sterk meegeding.

Die meisiespan is nog redelik jonk, met ses spelers wat hul eerstespandebuut teen van die sterkste skolespanne in Suid-Afrika gemaak het. Die Gimmies-meisies het nietemin ’n vegtende vertoning gelewer en met ’n paar naelskraapse nederlae 12de uit 24 spanne geëindig.

Die hoogtepunt was dat die kaptein Hayley Schickerling en Kyla Landsberg die Fairmont-uitsoekspan van die toernooi gehaal het, wat in September na België en Nederland toer.

Die meisiespan se uitslae: Klop Worcester Gimnasium met 1-0; verloor teen Fairmont 0-5, verloor teen York 1-2; klop La Rochelle 2-1; klop Witteberg 2-1; verloor teen DF Malan 0-1; verloor teen Durbanville 0-1.

“Ons het net wedstryd voor die toernooi gespeel en die wedstrydfiksheid was nog nie heeltemal daar nie, maar in hierdie sewe wedstryde het ons baie ondervinding opgedoen. Die kompetisie is sterk en dis ’n puik geleentheid om vir jou ligaseisoen op dreef te kom,” het afrigter Bianca Rehder agterna gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!