Divan Steyn, heelagter van Windhoek Gimnasium, pluk op volle vaart ’n wippende bal voor Windhoek Affies weg in ’n belowende beweging wat egter nie afgerond is nie. Foto Andrew Poolman
Divan Steyn, heelagter van Windhoek Gimnasium, pluk op volle vaart ’n wippende bal voor Windhoek Affies weg in ’n belowende beweging wat egter nie afgerond is nie. Foto Andrew Poolman

Gimnasium se Leeus brul laat

Skolerugby
Met tyd verstreke moes Gimmies die kastaiings uit die vuur krap – en het dit reggekry.
Andrew Poolman
Windhoek Gimnasium se eerste rugbyspan, die Schoemans-groep Leeus, het vir bykans die hele wedstryd voorgeloop voordat KMC/ONE Construction drie minute voor die einde gedink het hulle het die wenpunte aangeteken. Uiteindelik moes Gimmies terugveg om naelskraap met 15-14 te wen.

Die twee bulspanne van die hoofstad se kragmeting in die voorprogram van Saterdag se Officeconomix Goodwill-beker rugbydag in die Hage Geingob-stadion was een van die hoogtepunte, voordat die Blou Bulle in die hoofwedstryd met die Namibiese Welwitschias afgereken het (berig binne in Sport Wrap).

In die vriendskaplike wedstryd (oor twee helftes van 35 minute elk, soos in die komende premierliga) het Windhoek Affies onseker begin toe een van hul agterspelers sonder regstreekse druk die bal in sy eie kwartgebied uit sy hande laat val – wat Gimnasium dadelik in ’n aanvallende posisie geplaas het.

Die Gimmies het van daar ’n lynstaandryf tien meter van die doellyn af opgestel en Dirkie Theunissen, die blonde flank met die kopskerm, het sy eerste drie gedruk. Losskakel JW Visagie se doelskop was mis.

Volgende het Gimnasium gewys dat hy vanjaar nie net oor ’n swaar agttal beskik nie, maar ook opportunisme in sy agterlyn.

Die senter Stefan Gildenhuys is deur sy regstreekse opponent, WAP se kaptein Theunis van Wyk, geplettervat, maar die bal het vinnig na dieselfde kant beweeg en regtervleuel Rewaldo Diergaardt het ’n ent gevoerder voor sy binne-aangee na skrumskakel Zano van Wyk, wat die laaste verdedigers getrek het voor Gildenhuys op volle vaart bygekom het om die tweede drie te druk, wat weer onverdoel gebly het (10-0).

Meer as twintig minute was verstreke toe die Gimmies-flank Theunissen teen ’n geel kaart van skeidsregter Nicardo Pienaar moes vaskyk, nadat hy WAP se skrumskakel Fanus Jurgens binne tien meter gekeer het toe hy ’n vinnige tikskop gevat en begin versnel het.

Windhoek Affies het hieruit munt geslaan deur tot in die aanvalsgebied te vorder waar die senter Jonathan Hanekom van naby die doellyn kon oordryf. Heelagter Tewis Burger het met die eerste doelskop van die dag geslaag en skielik was daar rustyd net drie punte verskil (10-7).

Gimnasium het tot in daardie stadium straks met die beter aanvalle vorendag gekom, sonder om die beloning te pluk – soos toe hulle op hul eie doellyn ’n lynstaaningooi gesteel en die bal wyd gestuur het voor senter Denver Beukes se skop vorentoe. Heelagter Divan Steyn het vinnig opgevolg en die bal teruggewen en hy kon ’n drie oor die volle lengte van die veld geskep het as hy sy aangee betyds kon wegkry.

Windhoek Affies se probleme om hul eie lynstane te wen, het hulle in die tweede helfte steeds bly teister.

Ná 65 minute was die stut Herman Coetzee opnuut ongelukkig dat skeidsregter Pienaar hom koelkas toe moes stuur, nadat die Gim-voorspelers ’n ommekeer in besit bewerkstellig het deur die baldraer in die lug te hou, maar Coetzee se greep het om die WAP-man se nek beland.

Skaars ’n minuut later het WAP dadelik weer hierdie voordeel benut toe hul kaptein Theunis van Wyk ’n ietwat wilde aangee tussen sy opponente beetgekry en sowat 35 meter pale toe genael het vir Tewis Burger se maklike doelskop.

Net drie minute het oorgebly vir Gimnasium – skielik 10-14 agter – om die kastaiings uit die vuur te krap. Dit het hulle egter wel gedoen deur ’n lynstaandryf op te stel en flank Theunissen vir die onverdoelde wendrie oor te beur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!