G’n bang haar vir motorfietse
Vroue wys hul staal in enduro, motocross
'n Groep plaaslike vroue wat aan enduro-renne deelneem, sê hulle sal graag meer vroue in dié sportkode wil sien.
“Ek dink as meer vroue betrokke raak, sal die sport soveel beter wees. Dit was so cool om vandag hierdie groep vroue hier te hê,” het Anthea Mans gesê ná ’n enduro-wedren wat onlangs aan die buitewyke van die hoofstad aangebied is.
Sy ry al vir 15 jaar motorfiets, maar het eers vroeër vanjaar begin om in motorsport mee te ding.
“Ek sou graag meer vroue in motorsport wou sien, dit is egter redelik intimiderend aan die begin,” sê Mans.
Sy sê dis senutergend, maar dié gevoel is lankal vergete teen die tyd wat die stof ná die resies gaan lê.
Chriselda Engels, wat ook graag aan dié sport deelneem, glo dit is moeilik vir vroue in die algemeen om aan motorsport in Namibië te begin deelneem.
“Ek is deel van hierdie sport aangesien ek daarmee grootgeword het. My pa het altyd motorsport gedoen. As jy nie deur familie of vriende aan die sport blootgestel word nie, sal jy nooit weet nie,” sê sy.
Maike Bochert, wat sedert 2005 in plaaslike motorsport meeding, sê die gebrek aan kompetisies vir volwasse vroue om in die sport te ontwikkel, kniehalter hul deelname daaraan.
“Ons moes jare gelede die klub nader en vra of hulle vir ons ’n ontwikkelingsklas sou begin en ons moes weer hierdie jaar vra. Selfs ná dit was dit steeds ’n stryd,” het sy gesê.
Mans meen omdat motorsport intimiderend voorkom, beteken dit vroue en meisies sal waarskynlik twee keer dink om daaraan deel te neem.
“Daar is hierdie groot ouens op hulle motorfietse en hulle het nie ’n bang haar op hul koppe nie. Ek dink vroue is van nature bietjie versigtiger – veral as jy ouer en ’n ma is. Baie keer wonder jy of jy as ’n volwasse vrou werklik deel hiervan moet wees,” sê sy.
Mans nooi ander vroue egter uit wat graag aan motorsport wil deelneem om deel van hierdie gemeenskap te word.
“Dit sal lekker wees as ander vroue kom kyk en besef dit is nie so skrikwekkend soos dit lyk nie,” het sy gesê.
Johané du Plessis, die enigste vrouebaanklerk (clerk of the course) in enduro en motocross van vier in totaal landswyd, meen egter dit is nie so eenvoudig om aan motocross en enduro te begin deelneem soos in ander motorsportkodes nie. ’n Baanklerk se rol is administratief en moet ook sorg dat veiligheidsreëls nagekom word.
“Om te begin, moet jy ’n motorfiets kan ry – en om te kan deelneem moet jy ’n motorfiets hê.”
Mans sê vroue in plaaslike motocross word nie as randeiers in die sport behandel nie.
“Daar is geen verskil nie, almal werk goed saam met mekaar,” sê sy.
Mededingers se gedrag wanneer iemand in die resies val, getuig volgens haar hiervan.
“Almal stop en help. Daar is nie hierdie ding dat jy minderwaardig is omdat jy ’n vrou is nie.”
Mans sê ook: “Ek dink, gegewe die geskiedenis van vroue, moet ons onsself nog bietjie bewys, maar ek dink nie enige van ons gee te veel om nie. Ons geniet net onsself en kry goeie terugvoering van die mans – almal is ondersteunend.”
Du Plessis meen dat motorsportkodes soos renstelwedrenne ’n meer bevorderlike omgewing bied vir vroue en meisies om hul weg in die sport te vind.
ONWAARSKYNLIK
Mans sê sy dink drome soos dié van Craig Pollock, wat British American Racing (BAR) gestig het, om 50%-vrouedeelname in motorsport te hê, is onwaarskynlik.
“Ek dink nie 50:50 sal gebeur nie. As jy nie met motorsport grootgeword het nie, sal jy nie iemand kan oortuig nie,” het sy gesê.
Du Plessis meen dat motorsportlegendes as toeskouers begin. “Hierdie is ’n toeskouersport en in die algemeen kom mense om te kyk omdat iemand waarvoor hulle omgee hier is. Ek kan nie vir jou sê hoeveel mense wat hier deelneem is in verhoudings en hul vrouens is nie eens hier nie,” het sy gesê.
Die groep vroue verduidelik dat hulle min vriendinne kan oorreed om motorsportbyeenkomste by te woon.
“Jy sal nie vriende kan kry wat jy kan oorreed om te kom nie,” sê Mans en verduidelik ’n dag in die son, stof en wind is vir baie vriendinne ’n onaangename ervaring.
“Ons wil graag hê dat die kinders se ma’s en die mans se vrouens dit moet bywoon,” voeg Mans by.
Mans en Maria Friederike Wittreich, wat onlangs haar motocross (MX)-debuut gemaak het, sê hulle belangstelling om deel te neem is juis deur hul geliefdes aangevuur.
Du Plessis hoop ook om vierwielmotorfietste (quad bikes) aan te skaf om ywerige renjaers te help ontwikkel.
VOORUITSIG
Wittreich voel dat die ontwikkelingsklas vir vroue wel nog aandag geniet.
“Ek dink die klubs moet steeds dink oor watter rigting hulle wil inslaan,” sê sy.
Sy sê die vroue in hierdie klas moes ’n rowwe rit by Elisenheim deurmaak toe hulle skielik berge moes uitklim.
“Dis ook lekker, want ná Elisenheim het hulle werklik na ons geluister en dit eenvoudiger gemaak,” het Mans gesê en Wittreich het dit beaam.
Wittreich sê ook die kostes wat aan motorsport verbonde is, is vir talle ’n struikelblok.
“Hierdie is ’n bevoorregte sport. Dis nie net die motorfietse wat duur is nie, maar ook die ander toerusting soos die spesiale klere en skoene wat mens moet dra,” het sy gesê. Hierdie kledingstukke sal ’n deelnemer baie geld uit die sak jaag.
Die voorstel is dat dié klere onder die vroue uitgeruil word, maar dat sommige deelnemers nie te vinde met die idee sal wees nie.
“Ek dink hulle vra nie omdat dit vir baie mense met status gepaard gaan. Hulle is te bang mense gaan iets negatief daaroor sê,” sê Wittreich.
INTERNASIONAAL
Die Fédération Internationale de Motocyclisme (FIM) het in 2021 die Enduro Wêreldkampioenskap vir vroue aangekondig as deel van die Enduro Wêreldkampioenskap. Dit nadat die vroue Enduro Wêreldbeker in 2010 vir die eerste keer ’n wenner aangewys het.
Jane Daniels van die Verenigde Koninkryk is vroeër vandeesmaand as die Enduro Vrouewêreldkampioen vir 2023 aangewys.
In ’n opname deur Steve Parr het net minder as die helfde van vroue wat deelgeneem het (49,73%) gesê hulle neem nie aan enduro deel nie omdat hulle glo hulle is nie fiks genoeg nie.
Altesaam 43,21% het gesê die bane is te uitdagend en 35,60% het gesê hulle vind dit intimiderend of moeilik om met mans mee te ding. Ander redes wat vroue gegee het vir hulle afwesigheid in dié sport is dat hulle nie alleen wil deelneem nie of hulle dink hulle motorfietse is nie goed genoeg vir enduro-renne nie.
Meer as ’n driekwart van die vroue wat deelgeneem het, het gesê hulle verkies om aan enduro vir vroue deel te neem omdat daar minder druk is om nie in die mans se pad te wees nie of deur mans veroordeel te word nie. Baie vroue het ook gesê dat ’n omgewing met meer vroue vir hulle meer ondersteuning bied en gesê die atmosfeer is beter.
In die opname het 52,30% gesê hulle verkies dat vrouens vroeër moet wegspring en 51,96% het gesê hulle wil graag saam met hulle mansvriende ry, maar sê ’n alternatiewe beginpunt word verkies.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie