• Tuisblad
  • Sport
  • ‘Goeie kans’ dat Kolbe op sy pos vir Italië-toets sal wees

‘Goeie kans’ dat Kolbe op sy pos vir Italië-toets sal wees

Rugby
Hendrik Cronjé
Die Springbokke sal Cheslin Kolbe wel vir Saterdag se toets teen Italië in Genoa oorweeg.

Dié vlugvoetige regtervleuel van die Bokke het verlede Saterdag in Marseille die speelveld ná ’n gevaarlike duikslag deur die Franse kaptein, Antoine Dupont, verlaat.

Kolbe (29) het sleg geval nadat Dupont sy bene onder hom uitgepluk het toe die Suid-Afrikaner om ’n skop meegeding het.

Deon Davids, hulpafrigter van die Bokke, het op Maandag se nuuskonferensie geskimp dat Kolbe reg sal wees.

“Die terugvoering van die mediese span is dat hy goeie vordering maak,” sê Davids.

“’n Goeie kans bestaan dat hy vir die toets oorweeg sal word.”

Kolbe se beskikbaarheid sal ’n verligting vir die Bokke wees aangesien hy in die afwesigheid van Handré Pollard, Frans Steyn en Elton Jantjies nou die Suid-Afrikaners se eerstekeuse-stelskopwerker op toer is. Hy het in Marseille met al drie sy skoppe pale toe (twee strafdoele en ’n doelskop) geslaag.

Hy, Kurt-Lee Arendse en Willie le Roux was Saterdag teen Frankryk in Marseille as die agterste driehoek die gevaarlikste kombinasie nog onder Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se afrigting.

Kolbe se beskikbaarheid kan nou aan die Bokke se afrigtingspan die waagmoed gee om André Esterhuizen (1,93 m, 113 kg) en Damian de Allende (1,91 m, 105 kg) as senterpaar vir die Italiaanse toets te kies.

Esterhuizen (28) het laas op 17 September in Buenos Aires teen die Argentynse Poemas vir die Bokke gespeel. Dit was sy tiende toets in die Groen-en-goud.

Hy was sover voor die toetse teen Ierland en Frankryk net ’n duiksakdraer saam met spelers soos Trevor Nyakane, Salmaan Moerat en Evan Roos.

Die Bokke het al voor die toer begin het aangedui dat hulle iewers voor die Wêreldbeker-toernooi vir Esterhuizen en De Allende in die afwesigheid van die beseerde Lukhanyo Am as ’n senterkombinasie langs mekaar wil sien.

De Allende (30) is nie ’n erkende buitesenter nie, maar is al dikwels in wedstryde deur die Bokke soontoe geskuif wanneer dit deur beserings genoodsaak is of hulle iemand soos ’n Frans Steyn ’n kans op binnesenter gee. Hy kan Jesse Kriel op buitesenter vervang wat teen Ierland een van sy beste vertonings nog in ’n Bok-trui gelewer het.

Aangesien die Bokke ’n hoë agting het vir Italië, wat vanjaar dramaties verbeter het, is dit onwaarskynlik dat Nienaber (Bok-hoofafrigter) grootskaalse veranderinge aan sy 23-tal sal maak soos die geval met die tweede toets teen Wallis in Bloemfontein toe hy 12 aangebring het.

’n Speler soos Roos kan daarom eerder van die bank verwag word, wat teen Italië ses voorspelers en twee agterspelers kan insluit.

Roos (22) oefen met hope energie en brand om speelkans te kry. Hy kan dalk Saterdag op die derde week van die toer net die energie van die bank verskaf wat die Bokke benodig om Italië ’n 15de keer te verslaan. Italië kon die Bokke nog net een keer in 16 probeerslae klop.

Die gemiddelde uitslag tussen die lande is 46-11 in die Bokke se guns, maar die Suid-Afrikaners kom Saterdag hier teen een van die sterkste Italiaanse spanne in jare te staan.

Moerat behoort ook speelkans te kry aangesien hy Maandag die Bokke se nuuskonferensie bygewoon het, maar onsekerheid bestaan nog wat die beplanning met Nyakane op toer is.

Die Bok-span word Dinsdag aangewys.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!