Divan Rossouw, vleuel van die Leeus, word in sy spore gestuit. Foto Twitter (@GriquasRugby)
Divan Rossouw, vleuel van die Leeus, word in sy spore gestuit. Foto Twitter (@GriquasRugby)

Griekwas pluk Leeus se snorbaarde

Rugby
Marizanne Kok
Die meeste mense wat Kimberley toe gaan om ’n Groot Gat te sien, moet toegangsgeld betaal. Die Leeus het gister nie eens nodig gehad om hul beursies daarvoor oop te maak nie.

Griekwas se ambisies van ’n tweede opeenvolgende Curriebeker-halfeindronde bly op stewige bene nadat hulle in die Diamantstad lag-lag met die Leeus afgereken het. Die Poubloues was met 49-17 baas nadat hulle sewe drieë ingeryg het en vroeg in die tweede helfte reeds ’n bonuspunt verdien het.

Hulle het tweederdes van sowel balbesit as gebiedsvoordeel geniet, en hul Johannesburgse besoekers met reëlmaat van hul voete gehardloop.

Dat die telbord uiteindelik ’n slagting sou weerspieël, was weliswaar nie uit die staanspoor duidelik nie, met die Leeus wat eerste punte aangeteken het en Griekwas aanvanklik heel goed aan bande gelê het.

Die rustydtelling was net 14-3 in die tuisspan se guns nadat belowende bewegings telkens deur klein foutjies in die wiele gery is.

Harde woorde is sekerlik in die kleedkamer gebruik om hul gebrekkige afronding aan te spreek, want met die terugkomslag het alles verander. Griekwas was klinies op die aanval en het die skare vermaak deur graag en gereeld rieme neer te lê doellyn toe, en die bal teen ’n indrukwekkende tempo deur die hande te stuur.

Die Leeus moes hul keer ken, terwyl hulle gevra is om meer as 120 duikslae uit te voer.

Volgens die amptelike statistiek het hulle net tien hiervan gemis – maar wat die syfers nie weerspieël nie, is dat dit op kritieke tye (en heeltemal te naby aan die doellyn) gebeur het.

Griekwas het byna dubbel soveel keer (19 keer) misgelak, maar die Leeus kon dit glad nie uitbuit nie. Hulle het hulself keer op keer gepootjie met verkeerde besluite, bottervingers en ’n laksheid by die afbreekpunte was hul doodsteek.

Wat die Leeus se breintrust die meeste moet bekommer, is dat dit nie ’n klomp groentjies is wat hulself so in die skande gesteek het nie. Die agterlyn was op papier heel indrukwekkend, met ervare spelers soos EW Viljoen, Manuel Rass en Rabz Maxwane wat veronderstel was om skerp pyle in hul koker te wees.

Die enigste hardebaard wat nooit kleigetrap het nie, was uiteindelik die vaskopstut en kaptein, Jannie du Plessis, wat sy deugde in die skrum vir 50 minute uitgestal het totdat hy vervang is.

Teen die einde was dit die jongelinge wat ’n bietjie aansien aan die Leeus se telling verleen het. Die senter James Mollentze het van die bank gekom om ’n pragdrie te druk, en die plaasvervanger-skrumskakel Jurich Claasens het die tempo van die spel netjies in die aanloop tot Divan Rossouw se vyfpunter gelig.

Maar dit was nie dié spelers se dag nie. Dit was eerder Griekwas-spelers soos die woelwater-flank Henru Sirgel, die bedrywige skakelpaar van Johan Mulder en Theo Boshoff, die senter Sango Xamlashe en heelagter Rynardt Jonker wat ’n klop op die skouer verdien.

Terwyl hulle gisteraand die Tafel Lager met oorgawe kon laat vloei, was die Leeus se rit huis toe straks tjoepstil. Ná vyf wedstryde in vanjaar se reeks is hulle steeds segeloos – en soos in elk van die voriges het hulle gister weer meer as 40 punte afgestaan. Hulle het nou ’n punteverskil van -149.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!