Griekwas-stryde sal WB-veldtog moet rugsteun
Rugby
Wedstryde teen Griekwas op 26 Maart en 14 Mei is vasgeknoop, het die NRU-president gister bevestig.
Geldelik was die Namibië Rugbyunie se hande afgekap sonder die versekering van ’n borgskap en was daar geen manier om soos tevore vir die plaaslike Welwitschias ’n plek in die Curriebeker-struktuur te verkry nie. Die NRU se president, mnr. Corrie Mensah, is deeglik bewus van die kommer en kritiek in rugbykringe dat die unie in dié opsig meer moes gedoen het – veral nadat Kenia en Zimbabwe (sy vernaamste uitdagers vir die kontinentale Wêreldbeker-plek in Frankryk volgende jaar) asook Georgië wel in die komende Curriebeker-eersteliga ingesluit is. “Die redes is suiwer finansieel en die finale besluit is basies namens ons geneem – die NRU sou nie die koste kon bybring ingevolge die SA Rugbyunie se voorwaarde dat Namibië die volle koste van sy deelname vir beide weg- en tuiswedstryde moes betaal nie,” het Mensah gister aan die koerant gesê. ’n Skande en ’n mislukking van die leierskap, is van die woorde waarmee die NRU uitgekryt is ná vandeesweek se aankondiging van die wedstrydbepalings van die Curriebeker. Die Curriebeker-eersteliga sal tussen die Luiperds (verdedigende kampioen), die Griffons, Valke, Boland Kavaliers, Oostelike Provinsie, Grens Bulldogs, SWD Arende, Georgië, Kenia en Zimbabwe betwis word. Die kompetisie in ’n enkelronde skop op die naweek van 1 en 2 April af, met die eindstryd op 24/25 Junie. Namibië staan dus hierdie potensiële voordeel van strawwe wedstrydkompetisie aan Kenia en Zimbabwe af in die opbou na die bepalende kwalifiserende toernooi in Juliemaand in Frankryk. Teen druktyd was min besonderhede nog bekend oor die logistieke reëlings en die finansiering wat Georgië en die Afrika-spanne se deelname moontlik maak – behalwe dat Zimbabwe se Sables voordeel uit ’n massiewe borgskap van 200 000 Amerikaanse dollar van Nedbank Zimbabwe
BROUERYE EN WÊRELDRUGBY Mensah sê: “Ons het wel met ons hoofborg, die Namibië Brouerye, onderhandel en hulle bly verbind tot die nasionale span, maar ’n begroting vir Curriebeker-deelname was buite die internasionale vensterperiode. “Wat steun van Wêreldrugby betref, is Namibië tans nog net op die basiese toelaag, wat eers verhoog sal word ná die bepaling van die WB-kwalifiseerder.” Die rugbybaas sê in oorleg met die NBL is die voorgenome twee vriendskaplike wedstryde teen Tafel Lager Griekwas wel intussen vasgeknoop – naamlik op 26 Maart in Windhoek en op 14 Mei in Kimberley. “Griekwas speel in die premierliga en sal ons manne dus aan ’n behoorlike toets onderwerp. “Vir die Paasnaweek (16 April) is ’n uitnodiging ook ontvang dat ons dalk ook ’n soort presidentspan na Pretoria kan stuur vir deelname aan die Blou Bulle se herlewing van die gedugte tradisionele Loftus 200-klubkombinasie. Dit is nog onderhewig aan finansiering, maar dis moontlik dat private borgskappe hierdie moontlikheid kan verwesenlik,” sê Mensah.
‘ONS SAL REG WEES’ Bykomend hiertoe werk die NRU steeds om gedurende Junie ’n oefenkamp iewers in Suid-Afrika te reël vir sy nasionale oefengroep wat kort daarna in Frankryk moet gaan kwalifiseer. Dié oefenkamp kan moontlik ook met ’n verdere oefenwedstryd afgesluit word. “Ek het vanoggend (gister) ’n indringende gesprek met Allister Coetzee (die nasionale hoofafrigter) gehad en hy het my die versekering gegee dat ons span deeglik voorbereid vir die Frankryk-toer sal wees. Ek voel baie positief. “Vir die tydperk wanneer Chrysander Botha (agterlyn-afrigter) weg sal wees as hoofafrigter van die o.20’s op hul toer na Kenia, sal ons ook reël dat Allister of van sy konsultante soos Pine Pienaar, Barend Pieterse en CJ van der Linde wel in Windhoek is om oor die plaaslike oefengroep se vordering toesig te hou. “Die Curriebeker se strawwe wedstryde week ná week sou wel ’n mengsel van positiewe en negatiewe impak ingehou het, maar soos sake staan sal ons ongeag ons afwesigheid in die reeks ’n aggressiewe voorbereidingsprogram in plek stel. “Ons plaaslike rugby het baie veld om in te haal ná die verliese van 2020 en 2021 – toe kontaksport weens die pandemie verbode verklaar is. Werklike wedstrydtyd kan nie vervang word deur bloot individueel in die gimnasium te oefen nie.” Die verwagte begin van die NRU premierligaseisoen in Maart behoort ook die vlak van gereedheid ’n betekenisvolle hupstoot te gee.
NALATENSKAP Mensah verduidelik dat hy sedert November 2021 in onderhandelinge met SA Rugby se Jurie Roux tot op die laatste oomblik uitstel ná die vasgestelde sperdatum gevra het in die strewe om wel finansiering vir die Curriebeker vas te knoop. Uiteindelik het Namibië egter geen keuse gehad nie. “Ek kan nie soos vorige NRU-regimes bloot voortgaan en skuld aangaan wat vir my opvolgers agtergelaat word nie. “As ek vir SA Rugby ja gesê het en vyf minute voor twaalf onttrek Namibië uit die Curriebeker, sou dit baie onprofessioneel wees en die hoofopskrifte sou nog ’n groter skande gewees het,” sê Mensah. Anders as vir sokker – waarvoor die regering altyd uit sy pad gaan om selfs noodgedwonge internasionale “tuiswedstryde” vir die Brave Warriors en Brave Gladiators in Soweto te laat speel – is staatsbystand vir rugby veel dunner gesaai.
GESKIEDENIS WYS Die 2014-seisoen was ’n voorbeeld van een waarin Namibië ook nie in ’n Suid-Afrikaanse provinsiale reeks gespeel het nie, terwyl Kenia wel daar in aksie was. By die kontinentale kwalifiserende WB-toernooi in Madagaskar het die Namibiërs ondanks ’n sterbelaaide span sy openingswedstryd teen Kenia verloor (22-29) en ewe erg gesukkel om Zimbabwe met 24-20 te klop. Die geluksgodin het egter met die perfekte sameloop van omstandighede só meegewerk dat die wegholsege teen die swakke gasheerspan (89-10) genoeg was om bloot wiskundig die regstreekse vordering na Engeland 2015 moontlik te maak. Henry Kemp, wat destyds die nasionale voorspeler-afrigter was, het gister by navraag gesê: “Twee maande saam in Suid-Afrika sou ideaal gewees het om ons huidige nasionale oefengroep se spelpatroon en spankultuur en gehegtheid werklik te vestig. “In verlede jaar (Julie) se kwalifiserende wedstryde in Abidjan het die groep mekaar ook eers op die toer ontmoet, wat bygedra het tot die nederlaag teen Ivoorkus. “Ons afwesigheid in die Curriebeker laat wel ’n leemte. Dit bly kommerwekkend, want ons het die deelname nodig. Die kompetisie van hoër profiel leer ons ouens om werklike druk te hanteer en teen ’n hoër tempo te speel as wat ons klubrugby kan bied, wat volgens my siening onvoldoende is. “Maar Namibiërs weet hoe om terug te veg en ons beskik oor ’n besonder talentvolle spelerspoel – solank al ons beste manne wel beskikbaar is. “Hierdie voordeel gaan nou na Kenia en Zimbabwe, maar ons kan hulle steeds houe gee. Ons sal waarskynlik moet staatmaak op die wedstrydtyd wat ons oorsese manne agter die blad het. Ek hoop vir die beste; ons het die talent.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie