• Tuisblad
  • Sport
  • Gulf Giants kry tweede Namibiër – lopiemasjien Erasmus

Gulf Giants kry tweede Namibiër – lopiemasjien Erasmus

Krieket
Nie net David Wiese nie, maar vier Namibiërs is in die komende ILT20 gekontrakteer.
Andrew Poolman
Die Namibiese krieketkaptein Gerhard Erasmus sal die nuwe jaar heel waarskynlik met meer selfvertroue as 12 maande gelede betree.

Ondanks die feit dat hy vroeg in 2022 nog die effek van ’n herhaalde gebreekte ringvinger te bowe moes kom, het Erasmus die afgelope kalenderjaar afgesluit aan die toppunt van die lys van kolwers ter wêreld wat die meeste lopies in internasionale eendagwedstryde (ODI’s) aangeteken het.

Sy totaal van 956 lopies in 20 kolfbeurte (gemiddeld 56,23, hoogste 121 nie uit nie) was loshande voor die tweede geplaaste Emirate-kolwer Vritiya Arvind (781 lopies in 21 kolfbeurte, gemiddeld 41.10).

Agt vyftigtalle en ’n honderdtal getuig van sy bestendigheid die afgelope 12 maande en sy lopies was vir die nasionale span goud werd.

“Ek het gereken dit gaan nogal ’n moeilike jaar wees toe ek die vinger opnuut gebreek het, ná die aanvanklike vergruising by die 2019 T20 Wêreldbeker (in die Emirate).

“Dit het nogal geestelike taaiheid gekos om weer op dreef te kom en ook as veldwerker en bouler by te dra, maar ek sou dit ook nie kon regkry sonder al die ander rolspelers voor en agter die skerms by die Namibiese Eagles nie,” het die kaptein aan Republikein gesê.

Sover dit lande met toetsstatus betref, was Pakistan se Babar Azam ’n reusegevaar in 2022 se ODI-krieket, met 745 lopies in tien kolfbeurte, wat drie honderdtalle en ses vyftigtalle ingesluit het (gemiddeld 89.7).

T20-LIGA in EMIRATE

Boonop het Erasmus ook pas ’n lank gekoesterde doelwit verwesenlik deur vir ’n buitelandse professionele ligaspan nader geroep te word – een van vier Namibiërs in die Verenigde Arabiese Emirate se splinternuwe Internasionale T20-liga (ILT20) wat Vrydag wegspring met ses franchisespanne.

Erasmus en David Wiese verteenwoordig beide die Gulf Giants, waarvan Zimbabwe se Andy Flower die afrigter is.

Die deurwinterde 37-jarige Wiese is normaalweg die enigste Namibiese gesig in professionele T20-ligas wêreldwyd en is ook reeds vir die latere Indiese Premierliga (IPL) deur die Kolkata Knight Riders opgeraap.

In die Emirate sal nog twee Namibiërs hoop om speelkans vir hul onderskeie franchises te kry.

Die 24-jarige linkerarm-snelbouler Ruben Trumpelmann is by die Desert Vipers gekontrakteer, waar die Nieu-Seelander Colin Munro die spankaptein is. Engeland se T20 Wêreldbekerwenners Tom Curran, Alex Hales en Tymal Mills sal van sy hoëprofiel spanmaats wees, asook Sri Lanka se Wanindu Hasaranga.

JJ Smit, wat tevore ’n kortstondige proe by die Vancouver Knights in die GT20 Canada gekry, maar destyds min speelkans gegegee is, is nou in die spelersgroep van die Sharjah Warriors. Die Warriors se kaptein Moeen Ali, Chris Woakes en Dawid Malan was beide in Engeland se T20 WB-kampioenspan verlede jaar in Engeland. Australië se kragtige aanvangskolwer Marcus Stoinis speel ook hier, asook vier van Afghanistan se nasionale staatmakers.

Erasmus het aan Republikein gesê hy is geëerd om deur die Gulf Giants betrek te word en hoop om dit as ’n trap na die volgende vlak te gebruik.

“Ek dink dit was die gevolg van bestendige vertonings. ’n Klomp van ons Namibiërs werk hard om sulke geleenthede te kry en ek glo dit kan hopelik vir ons die fondasie stel om meer sulke T20-kontrakte los te slaan.

“My trots bly natuurlik by ons nasionale span. Die ILT20 bots nie met die Eagles se verpligtinge nie en ons sal vanaf die Emirate kan aansluit vir die Februarie-toer na Nepal (driehoekige reeks met vier ODI-wedstryde, insluitend twee teen Skotland).

“Die wedstryde in Nepal is vir ons belangrik om ons ODI-status en derde posisie in die ICC Wêreldbeker Liga Twee (2019-2023) te konsolideer en onsself in ’n sterk posisie vir die kwalifisering vir die volgende Wêreldbeker in eendagkrieket te plaas.”

Die ILT20 open Vrydag met ’n aandwedstryd tussen die Dubai Capitals en Abu Dhabi Knight Riders. Saterdagaand speel die Sharjah Warriors teen die M.I. Emirates, voor Sondagmiddag se botsing tussen die Knight Riders en die Gulf Giants.

Die ligafase strek tot 6 Februarie, voor die uitklopfase twee dae later begin en die eindstryd op 12 Februarie gespeel word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer