• Tuisblad
  • Sport
  • Haaie byt vas vir sege met onverskrokke verdediging
Die Haai se Bok-stut Ox Nche het oral opgeduik. Hier probeer hy Nick Haining van Edinburgh beetkry. Foto Getty Images
Die Haai se Bok-stut Ox Nche het oral opgeduik. Hier probeer hy Nick Haining van Edinburgh beetkry. Foto Getty Images

Haaie byt vas vir sege met onverskrokke verdediging

Albert Heenop
Die Haaie het Edinburgh in eie munt terugbetaal vir die skoknederlaag van 21-5 wat die Skotte hulle verlede jaar in Durban toegedien het.

Maar dit het bloedsweet gekos – tot in die 86ste minuut van hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap Saterdagaand in Edinburg.

Die Durbaniete het die tuisspan met 22-19 in die Skotse hoofstad verslaan en só hul posisie in die kompetisie verstewig.

Terwyl die Haaie sonder vier van hul voorste Springbokke – Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Jaden Hendrikse en Lukhanyo Am – was, moes Edinburgh ook sonder 10 van sy internasionale spelers klaarkom.

Toe die Bok-skrumskakel Grant Williams vroeg-vroeg onderskep het om die eerste drie te druk, en die kranige Marnus Potgieter, op regtervleuel, kort daarna ook gaan druk het, het dit gelyk of die besoekers dalk maklik die oorhand sou kon bewerkstellig.

Die Skotse span het nietemin genoeg gedoen om hul haker, Adam McBurney, ook twee keer voor rustyd oor die doellyn te maneuver.

Die heelagter Henry Immelman, wat onlangs ’n kontrak van drie jaar met die Bulle gesluit het, het ook gedruk om die tuisspan teen rustyd met 19-14 te laat voorloop.

Die tweede skof het van meet aan af ’n titaniese stryd afgegee.

Carlu Sadie het in die 68ste minuut ’n geel kaart gekry vir ongeoorloofde spel by die afbreekpunt.

Die Haaie se onverskrokke verdediging in die laaste 10 minute onder ongelooflike druk, met veral die heelagter Aphelele Fassi en die flank James Venter wat hul lywe op die spel geplaas het, het egter die knoop vir hulle deurgehak.

Voorlangs het die Bok-stut Ox Nche, die veteraanflank Henco Venter en plaasvervanger-slot Reniel Hugo bygedra daartoe dat die Skotte deurentyd onder druk was.

’n Langafstand-strafdoel deur die losskakel Curwin Bosch en ’n laaste drie, vanaf ’n aanvallende lynstaan, deur die haker Kerron van Vuuren, was uiteindelik genoeg om aan die Haaie die waardevolle wegsege te besorg.

Puntemakers:

Haaie 22 (14): Drieë: Grant Williams, Marnus Potgieter, Kerron van Vuuren. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoel: Bosch.

Edinburgh 19 (19): Drieë: Adam McBurney (2), Henry Immelman. Doelskoppe: Charlie Savala (2). – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!