Harde werklikheid by WB

Hokkie
Andrew Poolman
Hul openingswedstryd by die Binnenshuise Wêreldbeker in Pretoria het gister ’n wekroep vir die Namibiese vrouehokkiespan opgelewer.

Die uitslag van 5-3 waarmee Kazakstan die Namibiërs uitoorlê het, sal vir afrigter Erwin Handura en kaptein Maggy Mengo heelwat stof tot nadenke gebied.

Baie tyd vir nadenke is daar egter nie, want die Namibiese vroue speel reeds vanoggend hul tweede wedstryd, teen Kanada (09:40).

Gister het Kazakstan ’n les in kalmte onder druk aangebied, met die wyse waarop hulle vir lang tye die Namibiese aanvalle gelees en voorspelbaar en metodies laat lyk het.

Vir die Asiatiese kontinentale kampioenspan was dit geskiedenis om hul eerste oorwinning by ’n Binnenshuise Wêreldbeker te behaal, ten koste van die Afrika-titelhouer Namibië.

Twee vroeë doele deur Kazakstan het hulle dadelik in beheer van sake geplaas. ’n Geleentheid het ook in die eerste kwart verlore gegaan toe ’n strafhou toegeken is omdat Jivanka Kruger deur die doelwagter platgetrek is, maar van die strafmerk af is Kaitlin Gillies se poging maklik weggekeer.

Die Namibiese aanval het stadig maar seker hul voete begin vind, hoewel Kazakstan se doelwagter het ’n paar hoekhoue en ’n opvolgaanval afgeweer het.

Op gepaste wyse het spankaptein Maggy Mengo haar span se eerste doel in die toernooi aangeteken, ná ’n solo-aanval wat eers van die doelwagter teruggewip het voor sy die tweede kans afgerond het.

’n Doel deur Kazakstan is gekanselleer, terwyl Namibië se doelwagter Petro Stoffberg meer as een keer haar keerwerk moes ken.

Kazakstan se rustydvoorsprong van 2-1 is drie minute later vergroot met ’n treffer tussen Stoffberg se voete deur, voor hul vierde doel vanaf ’n vinnige dwarsaangee wat die Namibiër onverhoeds aan die buitekant betrap het.

Die welbekende Namibiese veggees is uiteindelik in die laaste kwart gesien toe Kaela Schimming die telling 3-4 gemaak het, deur met haar rug na die doelkas en met die rugkant van haar stok die doelwagter te flous.

Die gevaarlike Kazakstan, wat ook van ’n strafhoek af ’n bal van die dwarslat af sien terugskiet het, het die laaste sê gehad met die 5-3 wendoel in die laaste sekondes vanaf ’n onderskepping.

MANS

Die Namibiese mans kon gisteraand ook nie daarin slaag om die vernuftige, hoër gerekende Nederland in die diep water te sleep nie.

’n Driekuns deur Max Sweering het die Europeërs in beheer geplaas op pad na ’n oorwinning met 7-1.

Ná sowat ’n halfuur se spel het Percy Barthram eindelik die eerste doel deur ’n Namibiese man sedert hul vorige Wêreldbeker-deelname 12 jaar gelede aangeteken, toe hy van die linkerkant af met ’n treffer vorendag gekom het.

Doelwagter DJ Strauss en sy manne speel vandag teen die heersende wêreldkampion Oostenryk (08:30).

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!