• Tuisblad
  • Sport
  • Hazard klaar met internasionale sokker ná Katar-katastrofe
Eden Hazard, kaptein van die Belgiese sokkerspan, het sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig. Foto Getty Images
Eden Hazard, kaptein van die Belgiese sokkerspan, het sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig. Foto Getty Images

Hazard klaar met internasionale sokker ná Katar-katastrofe

Sokker
Eden Hazard, België se 31-jarige kaptein, het Woensdag sy uittrede uit internasionale sokker aangekondig nadat sy span se Wêreldbeker-veldtog op teleurstellende wyse geëindig het.

Hazard, ’n ankerlid van België se “goue generasie”, het in al drie wedstryde in Katar gespeel, maar kon nie ’n enkele doel aanteken nie met sy span wat vroeg uitgeskakel is ondanks die feit dat hulle tweede op die wêreldranglys was.

België het vir Kanada geklop, teen Marokko vasgeval en moes tevrede wees met ’n doellose gelykopuitslag teen Kroasië om derde in groep F te eindig.

Hazard, ’n doelskieter, het sy senior buiging in 2008 gemaak en 33 doele in 126 wedstryde aangeteken. Hy het die Belge in 2018 tot hul beste uitslag in ’n Wêreldbeker-toernooi help voer toe die span derde in Rusland geëindig het.

“Ek het besluit om my internasionale loopbaan te beëindig. Die opvolgplan is gereed,” het Hazard in ’n plasing op Instagram geskryf.

“ ’n Bladsy word vandag omgeslaan . . . dankie vir al jul liefde. Dankie vir die ongeëwenaarde ondersteuning. Dankie vir al hierdie blydskap wat ek sedert 2008 kon deel. Ek gaan julle mis.”

België het vier jaar gelede teen die uiteindelike kampioen, Frankryk, in die halfeindronde verloor en toe vir Engeland in die uitspeelstryd om die derde plek verslaan.

Hoë verwagtinge is vir die span in Katar gekoester, maar België kon eenvoudig nie op dreef kom nie.

Hazard het hom aangesluit by die afrigter, Roberto Martinez, wat ook die nasionale span verlaat het ná hul mislukte veldtog waartydens hulle net een doel in drie wedstryde aangeteken en meer die opskrifte gehaal het vir dinge wat van die veld af gebeur het as vir hul spel.

Hazard, wat die Engelse Premierliga en die Europaliga twee keer in sy sewe seisoene by Chelsea gewen het, sukkel met sy spelpeil sedert hy in 2019 na Real Madrid geskuif het.

Hy het wel die Europese Kampioeneliga gewen en twee La Liga-titels verower, maar net sewe keer in alle kompetisies doele aangeteken tydens sy tyd in die Spaanse hoofstad.

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!