• Tuisblad
  • Sport
  • Híér is waarheid oor WP se ‘aanbod’ aan Kolbe
Cheslin Kolbe vra Layla die jawoord op Nuweland in 2016. Foto Gallo Images
Cheslin Kolbe vra Layla die jawoord op Nuweland in 2016. Foto Gallo Images

Híér is waarheid oor WP se ‘aanbod’ aan Kolbe

Rugby
Stormers-aanhangers sal bitter graag vir Cheslin Kolbe gereeld in die DHL-stadion wil sien speel, maar sy salariseise is buitensporig.
Stephen Nell
Cheslin Kolbe het vir ’n tweede keer voelers uitgesteek oor ’n moontlike terugkeer na die Westelike Provinsie toe, maar nie dié keer ’n formele aanbod ontvang nie.

Die WP Rugbyunie (WPRU) het Woensdag in ’n verklaring klarigheid gegee oor sy mees onlangse interaksie met die Springbok-blitsbuks. Daarin is gesê dat daar slegs “verkennende gesprekke” gevoer is en ’n formele aanbod nie gemaak is nie.

Volgens onberispelike bronne was ’n derde party bereid om die WP en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) te help om ’n aanbod van R15 miljoen per jaar te maak, maar die syfer is – sonder dat dit formeel op papier beland het – deur Kolbe afgeskiet.

Dit volg op verlede jaar se drama toe daar bladgeskud is oor ’n ooreenkoms van R55 miljoen oor vyf jaar – ook met die hulp van ’n derde party – voordat Kolbe op die nippertjie kop uitgetrek het. Die rede wat toe aan die WP gegee is, is kommer oor “veiligheid en sekerheid.

Michael Yormark, Kolbe se agent, het nadat Netwerk24 daaroor berig het aan News24 gesê Kolbe en sy vrou, Layla, se kommer oor veiligheid was in “goeie ouerskap” gesetel. In daardie berig is Yormark aangehaal dat die gesprekke met die WP “baie voorlopig” was, dat Kolbe gelukkig is in Toulon en nie geleenthede elders wil oorweeg nie.

Kolbe is egter nou ’n jaar vroeg van sy kontrak met Toulon vrygestel – volgens Rapport om in Japan te gaan speel teen ’n jaarlikse salaris van R22 miljoen. Luidens ’n berig deur Midi Olympique was daar ’n “finansiële klousule” in Kolbe se kontrak wat hy kon uitoefen om vrygestel te word.

Rapport het berig dat Kolbe volgende seisoen ’n salarisvermindering by Toulon sou moes aanvaar as hy daar wou aanbly. Kolbe het oor sy vertrek by Toulon kripties op Instagram gesê “dit is net besigheid”.

Kolbe se vrou, Layla, het Netwerk24 intussen op sosiale media van leuens beskuldig en die aantyging gemaak dat daar gepoog word om hul “naam te verwoes”.

Die nuus dat ’n jaarlikse salaris van R15 miljoen aan Kolbe gebied is, is deur Rapport gebreek. Dit strook wel met Netwerk24 se inligting dat daardie bedrag ter sprake was.

Daar is nie meer as verkennende gesprekke gevoer nie.

Om ’n formele aanbod te maak, sou geweldig baie administrasie en onderhandeling geverg het omdat drie partye daarby betrokke sou wees – die WP wat nie op sy eie naastenby by daardie syfer kan uitkom nie, Saru omdat Kolbe as ’n speler van nasionale belang gereken word, en ’n derde party wat etlike miljoene sou moes betaal en agteroor sou moes buig in ruil vir die prominensie wat hy deur Kolbe sou kry.

Wenkbroue het glo in spelersgeledere by die WP oor die syfer gelig omdat R15 miljoen buitensporig sou wees as dit van die Kaapse unie alleen gekom het.

John Dobson, die Stormers en WP se hoofafrigter, het onlangs in ’n radio-onderhoud gesê die syfer wat die Kolbe-kamp wou hê is waarskynlik die “bruto binnelandse produk van Lesotho”.

Die interne misverstande wat deur die syfer van R15 miljoen ontketen is, het die WP genoop om in ’n verklaring die inligting te gee oor presies hoe die nuutste interaksie met Kolbe verloop het.

“Daar is nie meer as verkennende gesprekke gevoer nie,” sê ’n woordvoerder in die verklaring.

“Daar was informele gesprekke oor Cheslin se beskikbaarheid en belangstelling om by ons groep aan te sluit, maar dis belangrik om kennis te neem dat daar op geen tydstip tot enige bedrag of kontraktuele besonderhede ingestem is nie.

“Cheslin Kolbe is een van die voorste rugbytalente ter wêreld en ’n trotse produk van ons stelsel, maar geen formele aanbod is aan hom of sy verteenwoordigers gemaak nie.

“Ons is daartoe verbind om op ons span se welslae van die afgelope twee seisoene voort te bou deur die talent wat reeds in ons strukture is, en dan strategiese aanwinste in nodige posisies te maak,” lui die verklaring.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer