Huldeblyke stroom in ná baanbreker Dougie Dyers sterf
Rugby
’n Man van absolute “karakter, inbors en visie”.
Só het die voormalige Springbok en oud-afrigter van die Westelike Provinsie Dawie Snyman Dinsdag hulde aan Dougie Dyers gebring.
Dyers, ’n voormalige Springbok-keurder wat diep spore in die WP en Suid-Afrikaanse rugby voor en ná eenwording in 1992 getrap het, het Dinsdag in die ouderdom van 85 gesterf.
“Dougie was ’n reus. Hy was sy tyd baie ver vooruit, ’n sprekende voorbeeld van ’n profeet wat nie in sy eie land geëer is nie. Dis ’n groot jammerte dat hy ná eenwording nie meer proaktief in rugby gebruik is nie,” het Snyman gesê.
Dyers, Snyman en wyle dr. Danie Craven het in 1980 saam die besluit geneem dat spelers van kleur aan die Cravenweek-kompetisie in Stellenbosch moet deelneem.
“Dit was tien jaar voordat Nelson Mandela vrygelaat is. Ons het nie die universiteit, die WP-rugbyunie of die Suid-Afrikaanse Rugbyraad se goedkeuring gehad nie. Daarna was dit nooit weer anders nie,” het Snyman gesê.
Dyers was voor eenwording verbonde aan die SA Rugbyfederasie, ’n bruin beheerliggaam wat in die apartheidsjare saam met die SA Rugbyraad, onder leiding van Craven, gewerk het om nierassigheid in die spel na te streef.
KAPTEIN
As ’n baanbreker oor die kleurgrense heen is Dyers in 1971 aangestel as die eerste kaptein van ’n gekleurde nasionale span wat Suid-Afrika se landsgrense verlaat het toe hy die Proteas op hul Europese toer in 1971 aangevoer het. Hy was die daaropvolgende jaar ook die kaptein van die Proteas in ’n wedstryd teen Engeland – die eerste internasionale wedstryd op Suid-Afrikaanse bodem waar gekleurde en wit spelers teen mekaar gespeel het. In 1974 was hy ook die Proteas se kaptein in ’n wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus.
Administrateurs en spelers wat aan die federasie verbonde was, is skerp uit die geledere van die destydse nierassige Suid-Afrikaanse Rugbyunie vir hul samewerking met die “blanke” beheerliggaam gekritiseer.
“Hy het ’n ander politieke visie, nie noodwendig ’n ander doelwit nie, gehad oor die pad wat hy moet stap om by die bestemming uit te kom. Hy het soos Johannes die Doper die weg gebaan vir Suid-Afrika om die transformasie te kon ondergaan wat ons het,” het Snyman dit in perspektief gestel.
“Dit was twee politieke paaie. Die een was ’n revolusionêre pad en die ander een van samewerking. Dougie het die pad van samewerking gestap.
“Hy en dr. Craven is die twee mense wat die kern was in terme van die praktiese uitvoering daarvan dat wit, bruin en swart mense saam kan rugby speel.”
John Dobson, afrigter van die Stormers, het Dyers beskryf as een van die “grootste rugbymense wat ek die voorreg gehad het om te ken”.
“Ek weet dat hy in moeilike tye in ons geskiedenis geleef en gespeel het, maar daar kan geen twyfel wees oor sy bydrae tot gemeenskappe en die spel nie. Ek het die voorreg gehad om by Elsiesrivier onder hom te speel en dít wat hy vir daardie gemeenskap gedoen en hoe hy mense se lewens verander het, was merkwaardig,” sê Dobson.
“Hy was uitsluitlik ingestel op wat goed was vir die spel en om die regte redes betrokke in ’n moeilike tyd in ons geskiedenis. Maar hy het bo dit alles uitgetroon.
“Hy was ’n puik speler, afrigter, administrateur en mens. Dis baie hartseer. Dit voel soos die einde van ’n era van daardie puik administrateurs wat ons oor al die kleurgrense gehad het.”
Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het in sy huldeblyk gesê dat Dyers onder die reuse tel wat rolspelers in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby betref.
“Rugby het ’n yslike deel van sy lewe uitgemaak en ek het niks behalwe eindelose bewondering vir ’n man wat oor baie jare prominent in die spel was – in klub-, provinsiale kleure, die Groen-en-goud, en later ook die oefenvelde en raadsale,” het Alexander gesê.
Thelo Wakefield, oudpresident van die WP-rugbyunie, het Dyers se verbintenis tot eenheid in die spel geloof.
“Die woord eenheid dra groot betekenis. Vir my het dit beteken dat ons mekaar uit verskillende rugbykampe gevind het. Ons moes die gees van eenheid omarm en uitleef. Dít het Dougie gedoen.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie