Hupstoot laat atlete na Mauritius glimlag

Atletiek
Nege mans en ses vroue verteenwoordig die land dié week by die senior Afrika-atletiekkampioenskap.
Voordat die Namibiese nasionale atletiekspan gisteroggend na Mauritius vertrek het vir die 2022 Afrika-kampioenskap wat van môre tot 12 Junie plaasvind, het twee stewige korporatiewe borgskappe aan Atletiek Namibië bygedra om hierdie deelname vlot te laat verloop.

Die Namdia-stigting het Donderdag sy borgskap van N$400 000 oorhandig, voordat FNB Namibia dieselfde dag ’n verdere N$150 000 tot die toer bygedra het.

Die sportbeheerliggaam se president, mnr. Erwin Naimhwaka, het by die geleentheid gesê gedurende 2021 en sover vanjaar het Namibiese atlete reeds 30 keer nasionale rekords verbeter – waarvan 24 deur vroue en ses deur mans was.

Die Namdia-stigting sê in sy verklaring: “Hierdie is ons tweede belegging in Atletiek Namibië. Verlede jaar het ons die Namibiese span gehelp om aan die o.20-wêreldkampioenskap in Kenia deel te neem – waar hulle ’n hele paar medaljes opgeraap het, insluitend ’n silwer vir die 4x100 vrouespan.

“Verlede jaar het ons ook die Namibiese Olimpiese span geborg om aan die 2020 Tokio Olimpiese Spele in Japan deel te neem. Ons het ook die nasionale vrouerugbyspan vir hul geskiedkundige toetswedstryd teen Zambië in Windhoek ondersteun.

“Onlangs het ons David Dam vir sy deelname aan die Atletiek Suid-Afrika se Kontinentale Grand Prix-byeenkoms ondersteun waar hy ’n derde plek behaal en sy persoonlike beste tyd opgestel het.

“Namdia is daartoe verbind om in die gemeenskap terug te ploeg deur proaktief deel te neem aan tasbare projekte wat ’n positiewe en direkte invloed op ons landgenote het.

“Ons staan trots agter ons atlete en wens hulle groot sukses en ’n nog groter toekoms in sport toe.”

Atletiek Namibië se span:

MANS (nege)

Mahmad Bock (400 en aflos) seisoensbeste 45.80.

David Dam (800, aflosse) seisoensbeste 1:48.63.

Ivan Danny Geldenhuys (400, 200, aflosse) seisoensbeste 46.55.

Warren Goreseb (aflosse) seisoensbeste 47.06.

Gilbert Hainuca (100, 200, aflosse) seisoensbeste 10.36.

Roger Haitengi (driesprong) seisoensbeste 15.93.

Ernst Narib (100, 200, aflosse) seisoensbeste 21.47.

André Retief (400, 400 hekkies, aflosse) seisoensbeste 46.17.

Ryan Williams (diskusgooi) seisoensbeste 55.30.

VROUE (ses)

Sadé de Sousa (100, aflosse) seisoensbeste 12.75.

Mudi-Inosensia Haingura (400, aflosse) seisoensbeste 60.98.

Ndawana Haitembu (aflosse) seisoensbeste 12.32 en 25.85.

Ané Rautenbach (200, 400, aflosse) seisoensbeste 23.57 en 53.86.

Tuané Silver (gewigstoot) seisoensbeste 15.24.

Nandi Vass (400, aflosse) seisoensbeste 57.23.

Die atlete word deur die afrigters Henk Botha (naellope en middelafstande) en Letu Hamhola (aflosse) vergesel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer