ICC se Barclay vol lof vir Namibië
Krieket
Vir die ICC is dit belangrik om krieket in ontluikende lande soos Namibië op 'n gesonde voet te hou.
Greg Barclay, voorsitter van die Internasionale Krieketraad (ICC), was sedert Maandag die eregas op ’n kort amptelike besoek in Namibië.
Barclay se besoek is daarop gemik om nouer bande met Krieket Namibië te smee vir die 2026 o.19-Wêreldbeker en 2027 Wêreldbeker eendagtoernooi vir mans – beide geleenthede wat Namibië as medegasheer sal aanbied.
Die Nieu-Seelander is in November verlede jaar eenparig deur die ICC-raad vir ’n tweede termyn van twee jaar herkies. Hy is in Auckland gebaseer waar hy ’n kommersiële prokureurspraktyk bedryf.
Barclay het ná sy herverkiesing gesê: “Oor die afgelope twee jaar het ons aansienlike vordering gemaak met die bekendstelling van ons globale groeistrategie wat duidelike rigting gee om ’n suksesvolle en volhoubare toekoms vir ons sport te bou.
“Dis ’n opwindende tyd om by krieket betrokke te wees. Ek sien uit daarna om nou saam met ons lede te werk en die spel in ons kernmarkte te versterk sodat dit verder kan groei. Ons moet verseker dat meer van die wêreld krieket kan geniet.”
Op ’n ontbytgeleentheid gister met die plaaslike sportmedia was hy ingenome die vordering van krieket in Namibië.
“Dis ’n plesier om te sien wat tans met krieket op grondvlak in Namibië aan die gebeur is. Ek het die Eagles reeds gereeld met ICC-kompetisies in aksie gesien en dit was wonderlik – maar om met die mense in beheer van Krieket Namibië te gesels, skets ’n duidelike prentjie wat ek verstaan en aan die ICC kan voorlê.
“Dis nie net in belang van krieket nie, maar spesifiek vir lande met assosiaatstatus dat ek die suksesvolle Namibiese model aan die ICC moet oordra. Die faktore wat assosiaatlande benadeel, is wêreldwyd dieselfde.
“Ongeveer een miljard Amerikaanse dollar word daagliks deur sindikate op krieketwedstryde verwed. Spelers van assosiaatlande is meer kwesbaar om omgekoop te word om ’n wedstryde se uitslag te bewimpel. Sulke transaksies begin heel onskuldig met ’n ete of ’n bier wat gekoop word, en voordat die speler besef wat aan die gang is, is hy in ’n web vasgevang.
“Sodra die sindikate jou een keer gevang het, jag hulle jou permanent. Die ICC doen alles in sy vermoë om spelers oor hierdie onderwerp by te staan en in te lig.”
PORTUURGROEP
Die ICC-voorsitter sê assosiaatlande het gereeld in die verlede versoek dat hul eie “Wêreldbekers” in die T20- en eendagformaat tot stand gebring word, om ’n meer gelyke kompetisie sonder die oorheersing van die toetslande te skep.
“Ek praat nou uit ’n persoonlike standpunt. Assosiaatlande moet altyd deur toernooie kwalifiseer om by Wêreldbekers teen die toplande te kan speel.
“Ek is van mening assosiaatlande moet hul eie Wêreldbekers gegee word. Ons bestee baie geld en tyd om kwalifiserende kompetisies vir hulle te reël. Dit sal beter wees om kompetisies vir assosiaatlande te gee wat werklik van waarde vir hulle is.
“Wees verseker, ek het reeds die ICC-bestuur gevra om die moontlikheid te ondersoek. Ek het basies twee jaar van my termyn oor om die profiel van assosiaatkrieket te verhoog,” het Barclay gesê.
2027 WÊRELDBEKER
Die 14de ICC Wêreldbeker in die eendagspel vir mans sal in Oktober en November 2027 gesamentlik deur Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe aangebied word.
Dit sal die tweede keer wees dat Suid-Afrika en Zimbabwe die spoggeleentheid saam sal aanbied, terwyl dit Namibië se eerste probeerslag sal wees.
Die 2027-toernooi sal in twee groepe met altesaam 14 lande op ’n rondomtaliegrondslag, met ’n Superses-uitkloprondte beslis word.
Nadat die Super 6-wedstryde afgehandel is, volg die semifinale tussen die topvier en daarna die eindstryd.
Suid-Afrika en Zimbabwe as gashere kwalifiseer regstreeks vir die spogtoernooi, terwyl die topagt lande op die ICC se ODI-wêreldranglys ook seker van hul plekke sal wees. Die oorblywende vier plekke sal gedurende die 2026 Wêreldbeker-kwalifiseringsproses bepaal word.
EAGLES SE KOMPETISIE
In Dubai het die Verenigde Arabiese Emirate gister sy eendagwedstryd teen Nepal met 68 lopies gewen om twee ligapunte in die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks (2019-2023) by te voeg.
Die Emirate het 207/8 opgestel en vir Nepal op 139 almal uitgeboul. Die tuisspan se Rohan Mustafa was speler van die wedstryd met 52 nie uit nie (76 balle), 3/31 en twee vangskote.
Na dese is die Emirate op 31 punte en Nepal op 28 punte, met met ses wedstryde oor vir beide in die reeks. Dié twee lande hoop om Namibië (wat klaar sy maksimum 36 wedstryde voltooi het vir 39 punte) in die belangrike derde posisie verby te steek.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie