Ierland slag die Junior Bokke
Rugby
Dis selde dat jy ’n Suid-Afrikaanse nasionale span daarvan kan beskuldig dat hy ’n flou pak voorspelers het, maar dit is die hartseer verhaal van dié jaar se Junior Springbokke.
Teen Argentinië in hul laaste groepwedstryd van die o.20-Wêreldtoernooi het hulle daarmee weggekom. In Sondag se halfeindstryd teen Ierland in die Athlone-stadion was daar egter nie plek om agter die agterspelers weg te kruip nie en Suid-Afrika het met 12-31 verloor.
Die Junior Bokke het die wedstryd eintlik heel skaflik begin. Soos in die tweede helfte teen die Poematjies het hul vlugvoetige agterspelers baie skerp gelyk, maar hierdie keer was dit ’n teenstander wat die aanslag baie beter kon afweer.
Suid-Afrika het sy goeie werk in die eerste helfte met talle hanteerfoute ongedaan gemaak, terwyl die dissipline ook gelol het. Daar was ’n paar gevalle van gemene spel en Jannes Potgieter het vier minute voor die einde van die eerste helfte ’n geel kaart gekry. James Nicholson het kort daarna Ierland se eerste drie afgerond nadat hy Sam Prendergast se dwarsskop gevang het.
Dit het aan Ierland ’n rustydvoorsprong van 7-0 besorg.
Die Junior Bokke was kort ná rustyd gelyk nadat Imad Khan ’n pragdrie afgerond het, maar daarna het Ierland se stadige gif die verlangde tol begin eis.
Met respek aan die Junior Bokke was hul skrumwerk ’n verleentheid. Hulle is verfomfaai in daardie faset. Is dit nie veronderstel om ’n sterk punt van Suid-Afrikaanse rugby te wees nie?
Ierland se dryfmaalbewegings het ook goed gewerk.
Brian Gleeson, die Iere se puik agtsteman, het kort ná Khan se drie met ’n stormlopie doellyn toe weer die voorsprong aan hulle besorg en vir die laaste halfuur was daar nie keer aan die Iere nie.
Nicholson en Pendergrast het weer gekombineer om 14 punte tussen Ierland en Suid-Afrika te sit. Daarna het Sam Berman ’n stukkie puik aanvallende spel afgerond om die Junior Bokke planke toe te stuur.
PUNTEMAKERS:
Ierland 31 (7): Drieë: James Nicholson (2), Brian Gleeson, Sam Berman. Doelskoppe: Sam Prendergast (4). Strafdoel: Prendergast.
Suid-Afrika 12 (0): Imad Khan, Coetzee le Roux. Doelskop: Jean Smith.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie