• Tuisblad
  • Sport
  • Indië was ver verhewe bo Proteas, erken afrigter

Indië was ver verhewe bo Proteas, erken afrigter

Krieket
Tinus van Staden in Kolkata
Die Proteas is Sondag op Eden Gardens bloot uitoorlê deur ’n span wat veel beter as hulle was.

Dit is die opsomming van Rob Walter, Suid-Afrika se afrigter, nadat Indië sy span ’n drag slae van 243 lopies toegedien het. Dit is die Proteas se grootste eendag-nederlaag nog.

Dit was ’n wedstryd wat Indiese ondersteuners nog lank sal onthou. Virat Kohli (101 nie uit nie van 121 balle) het op sy 35ste verjaardag sy 49ste eendaghonderdtal geslaan. Danksy hom het die gasheer ’n totaal van 326/5 aangeteken, en daarna het Ravindra Jadeja (5/33) die Protea-kolwers dronkgedraai.

Suid-Afrika is vir 83 uitgeboul.

“Die telbord sal vir jou alles vertel wat jy hoef te weet,” het Walter agterna gesê.

“Indië was ver verhewe bo ons vandag. Dis nou maar eenmaal só. Maar ons was vroeër in die toernooi ook verhewe bo ander spanne wat op papier na ons gelyke, of selfs beter as ons gelyk het.

“Sodra jy jou neus voor kry in internasionale krieket, kan enigiemand enigiemand anders klop. Vandag het Indië sy neus voor gekry, en teen ’n hoogs vaardige span kon ons nie terug in die wedstryd kom nie.

“As jy nou by die kleedkamer instap, gaan jy ’n groep ouens teëkom wat hoogs teleurgesteld is omdat hulle nie so ’n wonderlike geleentheid gestand kon doen nie. Dit is nie aldag dat jy by ’n stampvol Eden Gardens teen Indië in ’n Wêreldbeker kan speel nie.

“Die spelers was regtig opgewonde. Dit was ’n uitstekende kans vir ons om ons vaardighede te wys. Ons het so goed gespeel deur die ganse Wêreldbekertoernooi tot dusver, en ons wou alles gee om dit ’n goeie tweestryd te maak.”

Indië het blitsig begin en Rohit Sharma (40, 24 b) en Shubmann Gill (23, 24 b) het in die eerste vyf beurte reeds 61 lopies geblits. Marco Jansen (1/94) en Lungi Ngidi (1/63) het deurgeloop, voordat Kagiso Rabada (1/48) en Keshav Maharaj (1/30) die Proteas terug in die wedstryd probeer kry het met skitterende boulwerk.

“Dit was nie ’n 320-blad nie. Hulle het uiteraard blitsig begin, en ons het dit later goed reggekry om die lopietempo te vertraag. Keshav en KG (Rabada) het uitstekend geboul. Maar ja, 320 was te veel lopies op daardie blad en hul boulers het ons daarna onmiddellik onder druk geplaas,” sê Walter.

“Wat vandag anders was as in vorige wedstryde, is dat ons nie die nuwe bal kon laat swaai nie. Ons uitvoering was ook swak, en as jy ’n ou soos Rohit Sharma voor die penne het, gaan jy rondgejaag word as jy jou areas mis.”

Tabraiz Shamsi (1/72) het ook teleurgestel. Hy het skerp draai bewerkstellig, maar strykdeur na die bykant toe geboul.

Die Proteas is egter reeds verseker van ’n plek in die halfeindronde. Hul laaste groepwedstryd is Vrydag in Ahmedabad teen Afganistan.

• Indië is eerste op die puntelys met 16 punte. Suid-Afrika is tweede (12), gevolg deur Australië (10), Nieu-Seeland (8), Pakistan (8) en Afghanistan (8).

• Tinus van Staden doen in Indië vir Netwerk24 verslag oor die Proteas se Wêreldbeker-veldtog.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!