• Tuisblad
  • Sport
  • Israel Dowie (12) rig waarskuwing aan Europeërs

Israel Dowie (12) rig waarskuwing aan Europeërs

Tennis
Die gebore Windhoeker se oorwinning in Spanje getuig van sy ambisie vir 'n loopbaan as beroepspeler.
Andrew Poolman
Jy daag nie sommer in Spanje op en wen ’n junior kleibaan-tennistoernooi op die hoogste gradering in jou ouderdomsklas nie.

Vir die uitsonderlike talent van die jong Namibiër Israel Dowie was laas Saterdag se massiewe deurbraak in die Trophy Ajuntament De Calvia onder 12-toernooi in Santa Ponsa in die suidweste van Mallorca waarskynlik egter bloot ’n vroeë waarskuwing van waartoe hy in staat is.

As ’n kwalifiseerder in die enkelspeltoernooi het Dowie vier wedstryde op pad na die eindstryd gewen, naamlik teen Pablo Fernandez Manent van Spanje (6-0, 6-0), Phasin Sinchalong van Thailand (7-5, 6-1), in die kwarteindstryd teen Albin Colette van Frankryk (3-6, 6-3, 6-1) asook die semifinaal teen Matthew Popa van Kanada (6-2-, 6-0).

In die eindstryd teen Andrei Radu van Roemenië het hy met 6-2 sy stempel afgedruk voor hy die tweede stel met 7-6 (4) deurgehaak het.

Israel en sy pa Duane is vandeesweek in Griekeland, waar die jongman ook reeds vandag die derde ronde van sy volgende toernooi (die laaste van sy huidige Europese toer) gehaal het, met seges teen opponente van Duitsland en Griekeland sover.

DIE VERHUISING

Israel-Hayward Dowie se talent op die tennisbaan het reeds meegebring dat die gesin vroeg in Januarie 2020 hul tentpenne in Windhoek uitgetrek en na Kaapstad verhuis het sodat hy daar by ’n akademie kon aansluit.

Hierdie saadjie is reeds in 2018 geplant, toe hy deur Anthony Harris (afrigter van Suid-Afrika se 25-jarige Lloyd Harris, wat laas jaar sy hoogste posisie as nr. 31 op die wêreldranglys vir mans bereik het) raakgesien en na sy akademie genooi is.

’n Omvattende studiebeurs is in 2019 vir hom aangebied en hoewel pa Duane aanvanklik teësinnig was om die lewe in Windhoek prys te gee wat hy tot in daardie stadium opgebou het, het dit die deurslag gegee toe Israel en sy drie ouer sibbe almal plek in gerekende skole in die Kaap gekry het.

Die wêreldwye pandemie se aankoms in Suider-Afrika vroeg in 2020 en gepaardgaande inperkings het die lewe in vele opsigte bemoeilik, uiteraard ook wat geldsake betref, maar die gesin is daar deur en die skuif het uiteindelik ten goede uitgewerk, sê Duane.

Duane het intussen ook as afrigter by die Anthony Harris Tennisakademie betrokke geraak.

In sy eie jonger dae was Duane as o.16- en o.18-speler die nommer een in Namibië, “maar daar was nie die reisgeleenthede wat vandag bestaan nie. Waarskynlik my hoogtepunt was deelname vir Namibië in die o.17 Afrika-kampioenskap,” onthou hy.

LEERMEESTER

In Desember laas jaar het Israel, toe nog onder 11, die gesogte Growthpoint o.12-kampioenskap gewen wat hom in wese as dié ouderdomsgroep se topspeler in Suid-Afrika gevestig het.

“Hierdie toernooi is een waar spelers uit Namibië gewoonlik in die eerste of tweede ronde uitgeskakel word,”sê Duane.

In Mei vanjaar was Israel in Montenegro, waar hy in die semifinaal deur die uiteindelike toernooiwenner uitgeskakel is.

Hy is gekies as een van die uitsoek-24 vir die IMG Future Stars toernooi van oor die hele wêreld, wat hom blootgestel het om byvoorbeeld sy omvattende kontrak vir tennistoerusting van Babolat (Rafael Nadal se handelsmerk) te beklink.

“Ek het vir Israel grootgemaak met die besef dat niks betekenisvol sonder bloed, sweet, trane of harde werk bereik word nie. Sy veggees is een van sy sterk punte op die baan wat stelselmatig sy opponente frustreer en hul moed aftakel. En ten eerste beskik hy oor die nodige liefde vir tennis, dat dit nooit nodig is om hom te moet soebat om te oefen nie,” sê Duane.

Kompeterende deelname in Europa kos uiteraard geld. Duane sê die huidige reis van drie weke vir hom en Israel is deur ’n anonieme skenker moontlik gemaak. Hy sal dit nietemin waardeer as potensiële borge in Namibië ook van die jong vooruitsig kennis kan neem, “want ’n sterk ondersteuningstelsel en opbouende omgewing is nodig om groot drome te voer.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!