Jaers veg vir elke punt in MX-dag op Swakop

Motocross
Die derde ronde van die Namibiese nasionale motocross-kampioenskapsreeks word môre by Swakopmund aangebied waar jaers in agt verskillende klasse sal meeding.

Die aksie sal vanaf 15:30 regstreeks op die Facebook-blad van Erongo deur ons kuskantoorspan gebeeldsend word.

Die organiseerders sê: “Dis met groot opgewondenheid dat ons die derde been van die Namibiese motocross-kampioenskap aankondig wat op Swakopmund gehou word.

“Baie dankie aan al ons borge, private maatskappye en die media wat ons ondersteun. Veral ons hoofborg, Vivo Energy Namibia, die tweede grootste borg, Altstadt Restaurant, asook Cars & Guides moet uitgesonder word. Sonder julle sou hierdie geleentheid nie moontlik wees nie.

“Die MX-kalender is vanjaar bedrywig. Ons volgende kampioenskap sal op 6 Augustus en 3 September by die Gallina-baan by Brakwater plaasvind. Gobabis kom op 8 Oktober aan die beurt en die laaste kompetisie sal op 5 November in Swakopmund of by Gallina aangebied word.

“Die Swakopmund-baan is baie goed voorberei met al die kinkels, draaie, spronge en hindernisse om by internasionale standaarde te pas. Dan is daar eenkant ’n baan waar die kinders in die 50 cc-klas gaan deelneem.

“Die 65cc-klas word deur Khian Kotze (10 jaar) oorheers, gevolg deur De Wet du Plessis wat in twee klasse deelneem. Jan-Willem Bronkhorst (8) en Divan Du Plessis (10) is ook ernstige mededingers.

“Die 85 cc-klas het sterk groei getoon en is nou een van die mees mededingende klasse. Luca Brand is met ’n baie klein punteverskil die voorloper, gevolg deur Wynand Cronjé, Lehan Augustyn en Juan de Vos. Ons verwag goeie vertonings van hulle almal.

“Die King of the Dirt, met al die groter en vinniger motorfietse, is ’n gesogte toekenning. Toeskouers kan klipharde tweestryde en opwindende aksie verwag.

“Die vroueklas (WMX) geniet ook baie aandag vanweë die opleiding wat die ryers kry. Strawwe kompetisie behoort hier tussen die eerste twee op die kampioenskapsleer, Geena Sadlowski van Swakopmund en Zoe Waldschmidt van Windhoek, gesien te word. Yoaline Fourie en Maike Bochert maak ook hul merk in die WMX-klas. Hulle word met elke kompetisie net beter en beter.

“Die adrenalien sal behoorlik pomp in die 125 cc-klasse wanneer die vinnigste junior en senior ryers mekaar pak. Die 2021-kampioen, Liam Gilchrist, Alexander Howard sowel as die tweeling Gerhard en Anton Myburgh is jaers om dop te hou.

“In die Ope klas ry 250 en 450 cc-motorfietse teen mekaar met vreesaanjaende spoed en vreeslose spronge. Liam Gilchrist is voor op die punteleer, gevolg deur Quinton van Rooyen en Don-Ray Botha.

“Die Clubman-klas is ’n mengsel van beginners en gemiddelde jaers, wat op hul eie lekker kykgenot verskaf. Moet ook nie die veterane afskryf nie. Dis ’n groot groep waar Rudi Brand probeer inhaal en ondanks vorige beserings steeds ry. Die kampioen Frank Klosta, en Quinton van Rooyen is gedugte teenstanders.

The King of the Dirt-kompetsie vind heel laaste plaas. Dit is een van die opwindenste items van die dag waar al die jaers en klasse welkom is. Dit is iets om nie te mis nie!

“Dit gaan 'n wonderlike byeenskoms vir die familie en vriende wees om lekker onder die Swakop MX-skadunet te kuier waar Altsdadt Restaurant die eet- en drinkgoed sal verskaf. Koffie en tee sal deur Heidi Garbade voorsien word. Die Anne Chip & Dip-vragmotor is ook daar en Philip Varnhagen sal in beheer van die musiek wees.”

Die topdrie in die kampioenskap van elke klas:

50 cc: 1 De Wet du Plessis 142, 2 Delmar du Plessis 127, 3 Carla Brand 124.

65 cc: 1 Khian Kotze 145, 2 Jan Willem Bronkhorst 127, 3 Leander Metzger 118.

85 cc: 1 Luca Brand 138, 2 Wynand Cronjé 137, 3 Lehan Augustyn 124.

125 cc juniors: 1 Anton Myburgh 141, 2 Gerhard Myburgh 131, 3 Bjorn Kebbel 123.

125 cc seniors: 1 Jean Venter 85, 2 Liam Gilchrist 75, 3 Alex Howard 66.

WMX: 1 Geena Sadlowski 150, 2 Zoe Waldschmidt 132, 3 Yoaline Fourie 103.

Clubmans: 1 Jörn Greiter 144, 2 Francois Cronjé 127, 3 Tertius Joubert 123.

Veterane: 1 Rudi Brand 133, Heiko Stranghöner 123, 3 Olaf Pack 117.

Ope: 1 Liam Gilchrist 150, 2 Quinton van Rooyen 132, 3 Don‐Ray Botha 120.

King of the Dirt: 1 Liam Gilchrist 47, Quinton van Rooyen 42, 3 Rudi Brand 33.

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer