Janco Venter, agtsteman van Griekwas, word Vrydag in Bloemfontein deur Calvin Nash, vleuel van die Opkomende Ierse span, beetgepak. Foto Mlungisi Louw
Janco Venter, agtsteman van Griekwas, word Vrydag in Bloemfontein deur Calvin Nash, vleuel van die Opkomende Ierse span, beetgepak. Foto Mlungisi Louw

Janco kry harsingskudding in Griekwas-loesing

Rugby
Marnus Kok
Janco Venter, die Namibiese aanwins wat as agtsteman begin het, en Werner Gouws is beide op die krukkelys ná Griekwas se eerste wedstryd in die Toyota-uitdaagreeks.

Venter (harsingskudding) en Gouws (flank, elmboogbesering) is Vrydag teen die Opkomende Ierse rugbyspan in Bloemfontein beseer. Hulle sal gevolglik nie vir Woensdag se wedstryd teen ’n Bulle-vyftiental in die Rosestad oorweeg kan word nie.

Hoewel die Iere die Poubloues op ’n drafstap met 54-7 afgeslag het, sê Pieter Bergh, afrigter van die Noord-Kapenaars, dit is belangrik om perspektief te behou. Griekwas gebruik die reeks as voorbereiding vir volgende jaar se Curriebeker-reeks.

“Ons is natuurlik baie teleurgesteld in ons vertoning, maar ek dink dit moet in konteks gesien word. Ons begin weer van voor af ’n span bou met ’n klomp nuwe spelers,” sê Bergh.

“Dit vat egter tyd. Gelukkig het ons nou tyd totdat die Curriebeker in Februarie begin. Dis maar Griekwas. ’n Mens moet elke jaar van voor af begin bou.

“Suksesvolle spanne het tyd nodig, en jy moet kontinuïteit behou. Dis ons uitdaging – dis elke jaar ons uitdaging by Griekwas.”

Die Poubloues het in Junie die eerste keer sedert 1970 daarin geslaag om die eindstryd van die Curriebeker-reeks te haal. Toe het die Pumas koning gekraai deur die eindstryd in Kimberley met 26-19 te wen.

“Ons het verlede seisoen bewys dat ons ’n span kan saamsnoer, maar dit gebeur nie in ’n paar weke nie. Ons het wedstryde nodig om saam te speel sodat die spelers mekaar en die afrigters kan leer ken,” sê Bergh.

Die verwagting is dat die Poubloues se 23-tal vir Woensdag se kragmeting heelwat anders daar sal uitsien as die een wat Vrydag diens gedoen het, omdat die afrigters hulself van die diepte in die groep wil vergewis.

CHUCKY GAAN DRUK

Die Cheetahs het Vrydag gesweet om ’n Bulle XV met 17-14 in hul eerste wedstryd in die Toyota-uitdaagreeks Vrydag in Bloemfontein te klop, skryf Johann de Jager.

Die Bulle XV was met rustyd met 7-5 voor en het twee keer met ’n drie geantwoord wanneer die tuisspan gaan druk het. Die Pretorianers het gespeel in die plek van Italië A wat onttrek het.

Die Cheetahs se agttal, met ’n paar nuwe gesigte, het by tye goed gelyk, terwyl die Bulle gewys het daar is goeie diepte in Pretoria. Daar was aan die begin voorspelerdrieë aan elke kant.

Die Vrystaters se Namibiese haker Louis (Chucky) van der Westhuizen het met ondanks hul kaptein Victor Sekerete se afwesigheid met ’n geel kaart ’n lynstaandryf afgerond met tien minute oor. Die Bulle het in die oorblywende tyd op 14-17 twee strafskoppe binne bereik gehad, maar het nie pale toe geskop nie.

Komende wedstrydbepalings:

WOENSDAG, 05 Oktober: Toyota-stadion, Bloemfontein: Airlink Pumas tn Opkomende Ierland (17:00); Windhoek Draught Griekwas tn Bulle XV (19:00).

SONDAG, 09 Oktober: Toyota-stadion, Bloemfontein: Airlink Pumas tn DHL Westelike Provinsie (13:00); Cheetahs XV tn Opkomende Ierland (15:00).

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-01-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 21° | 32° Oshakati: 23° | 29° Ruacana: 18° | 33° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 19° | 32° Windhoek: 20° | 30° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 20° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 21° | 32° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 15° | 32° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 28° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 19° | 25° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 24° | 34° Windhoek: 20° | 30° Cape Town: 19° | 23° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 17° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!