Jantjies betree die afrigterskorps

Klubrugby
Ná 'n lang loopbaan vol hoogtepunte is die oudskrumskakel gereed om in die plaaslike spel terug te ploeg.
Andrew Poolman
Die aansluiting van Eugene Jantjies by sy afrigterspan vir 2024 is deur FNB Wanderers-rugbyklub aangekondig in die strewe om die klub se gebruiklike hoë standaarde te handhaaf.

Jantjies beskik oor breedvoerige rugby-ervaring op die hoogste vlak en is Namibië se rekordhouer met 70 toetse.

Sedert sy toetsdebuut in Mei 2006 toe wyle Johan Venter die nasionale afrigter was, het Jantjies ook in die eras van Hakkies Husselman, John Williams, Johan Diergaardt, Danie Vermeulen en Phil Davies gespeel.

Sy insluiting in die toerspan na Japan 2019 het die uitgetrede skrumskakel (soms ook losskakel) die eerste Namibiër gemaak wat in vier Wêreldbekertoernooie gespeel het (ook Frankryk 2007, Nieu-Seeland 2011 en Engeland 2015). Verlede jaar het Pieter-Jan van Lill in Frankryk ook dié besonderse mylpaal behaal.

Met die waarskynlike uittredes van PJ van Lill (62 toetse), JC Greyling (46) en Casper Viviers (42) as die mees ervare lede van verlede jaar se Wêreldbeker-span, is dit ’n uitgemaakte saak dat Jantjies se rekord nog vir vele jare kan bly staan. Van die huidig aktiewe geslag het Damian Stevens (39), Tjiuee Uanivi (38), Johan Deysel (37), Louis van der Westhuizen (33), Aranos Coetzee (31) en Wian Conradie (30) in die meeste toetse gespeel.

Tussen 2008 en 2014 het Jantjies ook klubrugby in Roemenië vir Farul Constanta gespeel, voordat hy na Namibië teruggekeer en vir die Welwitschias in Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisies meegeding het.

Nadat Jantjies tevore heelwat van sy klubrugby vir FNB Western Suburbs gespeel het, het hy tot verlede jaar op 37-jarige leeftyd nog vir FNB Wanderers uitgedraf. Vanweë die besering van DJ Holtzhausen het hy in die 10-trui oorgeneem en was in die beginspan vir die NRU-premierliga-finaal wat naelskraap teen Trustco United verloor is, met Renier Benade se lang strafdoel in die doodsnikke.

“Ons sien uit daarna om Eugene in ons afrigterspan te hê,” het FNB Wanderers op sosiale media aangekondig.

“Hy sluit aan by Dirk Human (hoofafrigter), Shaun du Preez (premierliga voorspelerafrigter), sy jarelange spanmaat Darryl de la Harpe (verdediging) en Gert Henning (voorspeler-hulpafrigter).”

Wanderers se vrouespan is steeds onder leiding van Janice Beukes.

Soos die meeste van sy uitdagers het die klub in Pionierspark reeds verlede week sy oefensessies ter voorbereiding op die komende seisoen hervat.

KLUBLIGA

Die Namibië Rugby-unie beoog om sy klubligas op 16 Maart te laat afskop, met Wanderers se eerste, tweede en vrouespanne wat bestem is om by FNB Unam besoek te gaan aflê.

Vir die heersende kampioen Trustco United lê ’n reis na FNB Grootfontein voor.

Swakopmund se Dolphin-klub, wat ná sy nederlaag in die 2023-finaal van die NRU eerste liga besluit het om die tree hoër na die NRU premierliga te klim, sal sy veldtog met ’n besoek aan Jood Opperman se FNB Rehoboth afskop.

Op Walvisbaai sal FNB Kudus die besoek van FNB Reho Falcon inwag, terwyl span nommer nege FNB Western Suburbs ’n afnaweek het.

• Die Castle Lite United tien-aan-’n-kant toernooi op 16 Februarie sal soos die jaarlikse gebruik is aan die deelnemende klubs as ’n losmaker dien, asook ’n kans om enige nuwe spelers te integreer. Beskikbare plekke in die toernooi is beperk en die sperdatum vir inskrywings is 31 Januarie.

Kommentaar

Republikein 2025-01-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 33° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 22° | 37° Oshakati: 26° | 37° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 21° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 21° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 24° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 17° | 28° Mbabane: 16° | 18° Maseru: 16° | 27° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 23° Windhoek: 22° | 33° Cape Town: 17° | 27° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 20° | 29° #REF! #REF!