Jong reus mik na die wolke
Gholf
Die langdryfhougholfspeler Damian da Silva is voornemens om vanjaar beide die Suid-Afrikaanse en wêreldamateurkampioen te word.
Die 23-jarige Da Silva is in Pretoria gebore, maar verhuis in 2013 saam met sy ouers na Namibië, waar sy ma gebore is. Hy het in Edugate skoolgegaan, voor hy van 2015 tot 2018 by Windhoek Hoërskool gematrikuleer het.
Da Silva, wat 1.85 meter in sy sokkies staan, vertel hy het in 2016 begin gholf speel en gou agtergekom hy slaan die bal verder as ander spelers. Hy het Namibië in 2017 by die Afrika junior gholfkampioenskap in Zimbabwe verteenwoordig.
Hy vertel: “Vandat ek begin gholf speel het, kon ek nog altyd die bal verder as die res van die spelers slaan en dis wat my laat uitstaan het. In Desember 2021 het ek besluit om my as ’n langdryfslaner te bekwaam en op 26 Maart vanjaar het ek in Benoni my debuut in my eerste kompetisie van dié aard gemaak.
“Ek het die byeenkoms gewen met die verste hou van die dag (376 m). Ek het besef ek het die talent om verder te vorder.
“Sedert Benoni het my fokus verskuif na iets meer gewaagd en groter, soos om die Wêreldamateurkampioenskap te wen.
“Die werk wat ek die afgelope maande ingesit en die afrigting wat ek ontvang het, het my sover drie oorwinnings besorg en ek is tans algeheel tweede in die RSA.
“Ek is deur die Professional Long Drive Association (PLDA) na die Wêreldkampioenskap in Mesquite, Nevada, genooi wat van 27 September tot 1 Oktober plaasvind. Ek glo ek beskik oor die talent om vanjaar die Amateurwêreldkampioen te word.
“Ek het einde April by Melkbosstrand in die Wes-Kaap my verste hou van 387 meter (423 jaart) op seevlak behaal. Ek het vanjaar die GridPro Afrika-amateurafdeling, die GridPro Zimbabwe asook GridPro RSA ingepalm en tweede in die ope-afdeling geëindig.
“Kyle Berkshire (25), die 2019 en 2021 wêreld- en Amerikaanse professionele kampioen, het Justin James met ’n afstand van 422 jaart teen 418 vir die 2021-wêreldtitel geklop.
“By die 2021 Amateurwêreldkampioenskap was Kyle Gabbard en Cody Albertson die twee finaliste. Albertson was die gunsteling nadat sy langste hou op 374 jaart gemeet is. Gabbard klop hom toe egter met 365 teen 323 vir die wêreldtitel.”
HOE WERK DIE KOMPETISIE?
Elke deelnemer kry drie rondes van 2 minute 30 sekondes om ses balle so ver as moontlik te slaan. Die topagt spelers durf mekaar dan in pare aan waar hulle drie minute het om ses balle om die beurt te moker. Net die toptwee vorder na die finaal van 3 minute en agt balle.
Die skoonveld of baan is 55 meter breed en die bal moet binne die grense land en tot stilstand kom.
Die wêreldkampioenskap word sedert 1974 (vir mans, en sedert 2000 vir vroue en meesters bo 45) aangebied.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie