Tiaan de Klerk toe hy vroeër vanjaar Tuks se speler van die wedstryd teen UWK was. Foto Nasief Manie / ASEM Engage
Tiaan de Klerk toe hy vroeër vanjaar Tuks se speler van die wedstryd teen UWK was. Foto Nasief Manie / ASEM Engage

Jong slot dalk ook verlore?

Rugby
Andrew Poolman
Is dit voortydig – of onnodig pessimisties – om parallelle te trek tussen die gevalle van die jong Namibiese rugbyspelers Patrick Schickerling en Tiaan de Klerk wat binne ’n week van mekaar in die nuus is?

Schickerling (23) maak opslae in die rugbywêreld met sy insluiting in afrigter Eddie Jones se Engeland-toerspan na Australië.

Die vaskopstut van Exeter Chiefs is dus bestem vir ’n internasionale loopbaan met Engeland, vir wie hy kwalifiseer op grond van die minstens drie jaar wat hy as ’n beroepsrugbyspeler daar woonagtig was. Nadat Schickerling sy geboorteland op o.20-vlak verteenwoordig het, is die kanse vinnig aan die kwyn dat hy Namibië ooit in toetsrugby sal verteenwoordig.

Nóg ’n gebore Walvisbaaier, die 21-jarige slot Tiaan de Klerk, het in die afgelope dae ’n tweejaarkontrak met die Italiaanse klub Benetton Treviso onderteken, met die opsie om te verleng.

De Klerk, wat 2.04 meter lank is en 101 kilogram weeg, het vir die Hoërskool Monument se Wit Bulle gespeel, voordat hy ’n junior kontrak met die Blou Bulle beklink het. Hy het vanjaar ook Varsitybeker-wedstryde vir Tuks gespeel – insluitend ’n vertoning as speler van die wedstryd teen die Universiteit van die Wes-Kaap.

Video-hoogtepunte van laasgenoemde wedstryd het volgens De Klerk se agent glo ’n groot rol gespeel om die Italiaanse klub van sy waarde te oortuig. Benetton Treviso speel onder meer in die Verenigde Rugbykampioenskap en op rugbyforums was sommige kommentators ietwat verbaas dat so ’n jong speler sonder toetsondervinding aangebied is.

De Klerk was verlede jaar ook vir Namibië se onder 20-span gekies, maar die toer is gekanselleer vanweë Covid-gevalle in die spelersgroep op die vooraand van hul vertrek na Kenia.

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer