Die Pretoriase skoolseun Brian Raats seil oor die dwarslat by die pas afgelope SA atletiekkampioenskap in Groenpunt. Hy het die silwermedalje verower. Foto Gallo Images
Die Pretoriase skoolseun Brian Raats seil oor die dwarslat by die pas afgelope SA atletiekkampioenskap in Groenpunt. Hy het die silwermedalje verower. Foto Gallo Images

Jonges maak stem dik by SA kampioenskap

Atletiek
Wim Pretorius
Die berugte Kaapse suidooster het ’n groot rol daarin gespeel dat geen tye of afstande van wêreldgehalte by verlede week se Suid-Afrikaanse senior atletiekkampioenskap in Kaapstad se Groenpunt-stadion aangeteken is nie.

Trouens, geen amptelike kwalifiseringsvereistes is vir die Wêreldkampioenskap later vanjaar in Eugene, Oregon, behaal nie.

Die onttrekking van ’n rits sterre, insluitend Wayde van Niekerk, Viwe Jingqi en Rocco van Rooyen, het ook daartoe bygedra.

Boonop het ander groot name soos die verspringers Ruswahl Samaai en Zarck Visser ook nie deelgeneem nie.

Waar die paviljoene op die eerste dag gewemel het van toeskouers met ’n aanvoelbare opgewondenheid om vir die eerste keer in ’n lang tyd van hul plaaslike helde in aksie te sien, het die bywoning op die tweede en derde dag drasties gedaal.

Tog was daar enkele uitskieters by die driedaagse kompetisie wat wel verdien om vir hul vertonings geloof te word.

Die 16-jarige Ethan Olivier was net 16 cm duskant die kans om die jongste nasionale senior manskampioen tot nog toe te word toe hy die silwermedalje in die driesprong verower het.

Lleyton Davids het goud verower met 16,14 m, terwyl Olivier naasbeste was met 15,98, ’n afstand wat hy in die derde ronde aangeteken het.

Die appel val hier nie ver van die boom nie, want Olivier se pa, Wikus, het nie minder nie as nege keer agtereenvolgens (1990 tot 1998) die Suid-Afrikaanse titel in die driesprong gewen, die meeste deur enige atleet – man of vrou – in dié nommer.

Wikus het die Suid-Afrikaanse rekord boonop drie keer verbeter en jare lank met dié rekord gespog, voordat Khotso Mokoena dit in 2005 oortref het.

Wat Olivier, ’n leerling aan die Hoërskool Overvaal in Vereeniging, se uitslag ook merkwaardig maak, is dat hy met net 5 cm duskant Mokoena se o.18-rekord (16,03 m) was. Mokoena het daardie afstand in 2002 as 17-jarige opgestel.

Verder het die 17-jarige Bradley Nkoana van Tuks se Sportskool die jongste naelloper geword wat ’n medalje in die 100 m by dié kampioenskap wen.

Akani Simbine is as die kampioen bekroon in 10.31, terwyl Nkoana naasbeste was in 10.34.

Dit was sy eerste senior kampioenskap en hy sal beslis tevrede wees nadat hy byna twee jaar op die kantlyn deurgebring het met ’n dyspierbesering en ’n gekraakte enkel.

Die 18-jarige Brian Raats, wat tans nog op die banke by die Hoërskool Garsfontein is, het boonop silwer in die hoogspring gebuit nadat hy op 2,16 m oor die dwarslat is.

Dit was wel 10 cm duskant sy persoonlike beste, maar hy kan nietemin breëbors wees oor dié prestasie.

Mpho Links (2,25 m) het goud verower.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!